Ek was nog nooit so emosioneel en nostalgies soos met die aanbreek van 2016 nie. Hierdie jaar gebeur baie goed in my lewe: Ons woon uiteindelik in ʼn groterige huis in die voorstede van Pretoria met genoeg ruimte vir drie kinders en twee honde. My oudste kind gaan skool toe. Die jongste een is ses maande oud. Dis ook mý laaste jaar in die dertigs. Einde Oktober word ek veertig. Die land se ekonomie is op ʼn slegte plek. Daar is droogte oral. Die rassehaat-voorvalle oorheers die nuus en ek het geen geloof in ons leiers nie! Wat nou?
Nie die beste prentjie vir ʼn amper 40-jarige man met drie klein kindertjies nie. Ek het skielik die innerlike drang gekry na ʼn introspektiewe blik op my lewe. Waarheen is ek op pad en waar kom ek vandaan? Wat beteken ek vir mense op hierdie aarde? Waarom doen ek wat ek doen? Is ek gelukkig? Waar is God? Waar is God? Waar is God?
Daardie nag het ek by my klavier gesit en ʼn liedjie geskryf met meer onsekerhede in my hart as vertroue. Die huis was stil. Toe hoor ek die donderweer. Dit het begin reën. Hard. Die droë gras buite was nat. Soos ʼn nuwe begin. Die aarde het die reën bitter nodig gehad.
God het my op daardie oomblik laat besef. Die vraag is nie … waar is Hy nie? Die vraag is … waar is ek? Glo ek nog in Hom? Dat Hy sal voorsien en dat Hy sal sorg en dat Hy uitkoms sal gee? Of ploeter ek net self voort? Probeer ek my kinders self grootmaak of laat ek Hom toe om in te tree? Wie skryf my liedjies? Ek? Of Hy?
Van daardie oomblik af voel ek anders. Ek is die pa van drie kinders. Ek glo in God. En maak nie saak wat nie: Ek sal die boodskap uitdra, dié van van liefde, geloof, hoop, van begrip vir ander mense en kulture, en bo alles, van verdraagsaamheid!
Hierdie jaar het skaars begin. Dis my jaar om binne-in myself te gaan soek. Ek wil God weer vind. Sonder dat ek ver hoef te soek, maak Hy kort-kort sy verskyning aan my, deur die reën, deur musiek, my kinders en alles om my. My gebed is: Jammer God dat ek so maklik twyfel!
Jak de Priester
Jak het oorspronklik hierdie brief in Januarie vir die NG Kerk Wes-en-Suid-Kaapland Sinode se nuusbrief geskryf en dit is met die nodige toestemming op Maroela Media gepubliseer.
Jak ek is n groot fan maar nadat ek jou brief gelees het is ek net nog n groter fan . Ek bid jou en jou gesin ons ALMAGTIGE GOD se seen ,liefde en genade toe in alles wat jy aanpak !
stunning! mag dit ons almal se gebed wees
Ek wil ook sê, mag dit elke Afrikaner se gebed wees
Jak, hierdie skrywe bevestig net aan my dat jy n baie besonderse persoon is. Weet verseker dat jy baie beteken vir ander mense. Jou opregte musiek, vermoee om na mense te kan luister en koesterende persoonlikheid wat as aanbieder van Reis na Gister na vore kom, spreek daarvan. Ja Here, ek twyfel ook maar maklik.
Ek het sommer hoendervleis gekry toe ek die brief lees. Dis ‘n oproep dat elkeen van ons moet vra ” God, waar is ek en waar wil U my gebruik”
Sjow Jak de Priester, ek kry eintlik hoendervleis – wat n getuienis, wat n wonderlike nuwe hoop en geloof spreek jy uit!!! Prys die Here, mag Hy jou en jou huisgesin altyd beskerm en lei, waar julle ookal gaan!!! Dankie dat jy opstaan vir Hom en jou geloof openbaar maak. Alle seën op jou pad!! Fransie de Klerk