Hoekom onderwys?

Deur Arminda da Silva

Argieffoto.

ʼn Enorme vrag take, klasse, toetse, kennis en moeite. Waarvoor?

As ʼn eerste jaar B.Ed-student vra ek myself dikwels die vraag “Waarvoor?”. Hoekom doen ek dit nou eintlik? Veral as ʼn eerste jaar B.Ed-student met ekonomie as hoofvak, kan ek definitief vra “Waarvoor?”, wanneer ek na die huidige toestand van Suid-Afrika se ekonomie kyk en verstaan waarom dit ʼn absolute angstigheid by elke Suid-Afrikaner wek.

Die werkloosheidskoers in Suid-Afrika staan al op ʼn vreesaanjaende syfer van 32,1%. Met ʼn groeiende koers van onderwysers – nuut en oud – wat werklik sukkel om by skole werk te kry. Selfs as ʼn student, sukkel ʼn mens om werk te kry.

Ek bly tans in ʼn bitter klein dorpie. So klein dat ʼn mens van die een punt van die dorp kan ry na die ander punt in ʼn gemiddeld van twee minute. Hierdie dorpie het nie ʼn verskeidenheid van skole nie, maar ek het ten minste een gekry wat my sal kan akkommodeer vir my prakties in die tweede semester.

Ongelukkig kan hulle nie vir my werk aanbied nie en is daar baie sprake onder die dorpsmense – jy weet mos hoe mense in klein dorpies kan praat – dat die skool moontlik kan toemaak as gevolg van onbevoegde onderwysers, ʼn tekort aan onderwysers en hulpbronne en ʼn beperkende begroting om die nodige personeel aan te stel en die nodige hulpbronne te bekom.

Dit maak my ongelooflik bekommerd oor my eerste prakties en maak my nog meer bekommerd oor my toekoms in onderwys in Suid-Afrika.

Daar is al hoe meer en meer skole wat sukkel met dieselfde probleme. Die regering het nie die nodige kapitaal om skole te befonds soos nodig nie. Onderwyserssalarisse is angswekkend in vergelyking met dit waarmee onderwysers in Suid-Afrika elke dag moet sukkel. Probleme met kollegas, ouers en leerders wat onverstandig optree en praat. Daar is ʼn broodnodige behoefte aan respek teenoor onderwysers. ʼn Mens besef nie aldag wat hulle opoffer nie. Maar daar is ook ʼn noodsaaklikheid aan passie.

Daar is die antwoord op my “Waarvoor?”.

Arminda da Silva (Foto: Verskaf)

Dis die passie in my om ʼn verskil te maak en die hoop te wees vir ʼn kind in Suid-Afrika wat ʼn onbeskryflike nood en behoefte daarvoor het – of hulle dit wys of nie. Dít is my dryfveer. Dít is my “hoekom?”.

Ten spyte van wat ʼn mens hoor op die nuus, lees in koerante of gesels in teetyd. Ten spyte van die probleme, struikelblokke, onsekerheid en angstigheid. Ten spyte van verwyte van die verlede en debatte oor die Bela-wet. Ek wil ʼn juffrou wees.

God gee vir ons almal ʼn passie en ʼn doel. Dis iets wat ʼn mens nie kan beskryf nie. Dis iets wat ʼn mens nie behoort te bevraagteken nie. Maar Hy ken my hart en Hy ken ons omstandighede en die situasie waarin ons land bevind word.

Daar is ʼn bekende Engelse spreekwoord wat sê “Those who can’t do, teach”. Dis absolute nonsens. Dis juis onderwysers wat doen. En wat doen hulle? Hulle gebruik hulle God-gegewe gawe om die kinders van vandag te lei na hoër hoogtes, om te wees wat hulle nooit van sou droom om te kan wees nie.

Onderwysers vorm Suid-Afrika se kaalvoet-kinders in die professionele, bedagsame individue wat hulle moet grootword om te wees. Solank as wat daar jongmense is om te vorm, is daar ʼn toekoms vir Suid-Afrika se onnies.

  • Arminda da Silva is ‘n eerste jaar B.Ed student aan die Universiteit van Potchefstroom.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

Baie dankie dat jy nog ‘n passie het vir dit waarin jy glo. Leef jou droom en God sal voorsien!!

Cecilia ·

Aai Meisiekind alles sterkte, in die land gaan jy dit nodig he>> Ek weet mens wil dit nie al dag hoor nie maar daar is n beter kans en lewe as onderwyser in ander lande wat Suid Afrikaanse onderwysers dringend benodig as did n beter toekoms is om jou passie tenvolle te leef beveel ek aan om dit te doen. Suid Afrika is nie meer die plek vir mense wat hul loopbaan will uitbrei nie… ALLE STERKTE

Santjie van Soendal ·

Ek vra net EEN vraag…..HOEVEEL van híérdie stemme nóg moet opgaan voor daar n sinvolle verandering sal kom, wat sal LUISTER na die noodroep van geroepenes in die kosbaarste, denkbare taak en roeping op aarde….? Nee, vooropgestel is die vernietiging hiervan, deur geroepenes te breek en in sinnelose agendas te forseer… Het hulle dan nie geweet, dat die LETTER DOODMAAK nie? Dis die GEES (van die Here) wat LEWEND maak…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.