Afrika is nie oop vir sake doen nie – en dis jammer

Dr. Eugene Brink.

Covid-19 en alles wat daarmee saamgaan, saai verwoesting in die wêreldekonomie en individuele ekonomieë. Afrika is nie ’n uitsondering nie, hoewel die pandemie die vasteland nie so erg benadeel soos die Weste, Latyns-Amerika of Asië nie.

Party ekonomieë op die vasteland het voor die pandemie heel skaflik gevorder, maar die impak van Covid-19 (veral op die res van die wêreld) tref uitvoere en groei baie sleg. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) raam dat die vasteland se ekonomie in 2020 met 3% of meer gekrimp het.

Klein, arm lande – of selfs groot lande – wat op een of twee hulpbronne reken, word baie erg benadeel. Of hulle van olie afhanklik is – soos Nigerië – of van toerisme – soos Suid-Afrika of die Seychelle-eilande – word Afrikalande steeds erg getref deur die nawerking van inperkings en opeenvolgende Covid-19-vlae.

Vir die armste vasteland op aarde is dit klaarblyklik nie goeie nuus nie. Afrikalande het van die veerkragtigste mense op die planeet, maar Afrika-ekonomieë – altyd maar armoedig en sukkelend – sal nie vinnig herstel nie, anders as die lewendiger en kragtiger ekonomieë van China en die VSA. Daar word geraam dat die ekonomiese vordering van die afgelope paar jaar deur die gevolge van Covid-19 uitgewis sal word.

Maar om die skuld vir dit alles (veral die gebrekkige herstel) voor die deur van Covid-19 te plaas, sal misleidend wees. Nog voor die koms van die pandemie was baie Afrikalande se ekonomiese vooruitsigte maar droewig. Zambië, Suid-Afrika en Nigerië steier onder probleme van voor Covid-19 wat deur die pandemie en die uitkringende gevolge daarvan vererger word.

Algemeen gesproke is Afrika ’n goeie bestemming vir investering. Die vasteland het ’n aantal snelgroeiende ekonomieë, ’n jong en lewendige bevolking en dus honderde miljoene verbruikers. Maar daar skort iets, en dit is die feit dat Afrika, om baie redes, toe is vir sake doen. Dit word wel nie luidrugtig en opvallend bekend gemaak nie, maar die optrede van sy politieke klas spreek harder as wat woorde ooit kan.

As dit nie die geval was nie, sou sakeondernemings (ook van Suid-Afrika) nie hul bedrywighede in ander Afrikalande verkoop of bloot gestaak het nie. Shoprite se winkels in 14 Afrikalande (Suid-Afrika uitgesluit) het in 2020 powere winste getoon, hoewel die omset in Suid-Afrika sterk toegeneem het.

Nigerië is verreweg die digs bevolkte Afrikaland en het ’n belowende jong bevolking. Dit lyk na die perfekte plek om sake te doen, maar dit is nie. Woolworths, The Foschini Group, Clover en Shoprite het almal hul bedrywighede in dié Wes-Afrikaanse reus gestaak, of is in die proses om dit te doen. Oliemaatskappye sal boeke vol kan skryf oor hul beproewinge in Nigerië. Verskeie faktore speel hierin ’n rol: korrupsie, uitdagings rakende die doen van sake, politieke inmenging, ’n ongediversifiseerde ekonomie en gebrekkige verbruiksbesteding.

Die laagste plekke op die Wêreldbank se indekse van hoe maklik dit is om sake te doen, word deurgaans meesal deur Afrikalande beklee, soos die Demokratiese Republiek van die Kongo, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Suid-Soedan, Somalië, Eritrea en die weerbarstige Libië. Dit is dieselfde lande wat onder aan die indekse van mislukte state, onderwys, korrupsie en menslike ontwikkeling verskyn. Afrikalande is berug vir korrupsie, en ofskoon Suid-Afrika se instellings ’n uitsondering op die vasteland is en president Cyril Ramaphosa orakelagtig die verskriklike korrupsie in die land erken (meer as wat van feitlik alle ander Afrikaleiers gesê kan word), gaan korrupsie in die openbare sektor onverpoos voort en is Ramaphosa magteloos om ’n einde daaraan te maak.

afrika kontinent africa

(Argieffoto: Pixabay)

Afrika word al dekades lank geteister deur swak leierskap en ’n gebrek aan aanspreeklikheid. Die waarheid en openhartige selfondersoek is van die slagoffers van hierdie tekortkominge.

Oudpresident Jacob Zuma se openbare tirades en skeltaal teen die Zondo-kommissie en adjunkhoofregter Raymond Zondo in die besonder, en sy bereidheid om tronk toe te gaan eerder as om voor die kommissie te verskyn om bloot sy kant van die staatskapingsverhaal te vertel, is die saad en kernelemente van Afrika se mislukking. Sy bewering dat ’n swart regering (in ’n swartmeerderheidsland) hom as individu teiken, gaan mank aan enige bewyse en is ’n belaglike poging om sowel die raskaart as die slagofferkaart te speel terwyl alles daarop dui dat daar baie is waarvoor hy rekenskap moet gee. Dit is pynlik om te sien hoeveel steun hy nog geniet en hoeveel mense, ten spyte van oortuigende bewyse van wandade, steeds reken hy het niks verkeerds gedoen nie.

Zuma se situasie is egter uniek in Afrika. Baie Afrikaleiers kom skotvry daarvan af nadat hulle die staatskoffers en hulpbronne geplunder en hul bevolkings verarm het. Daar is geen vervolging vir misdade nie, en selfs die diefagtigste en moorddadigste wandade word heeltemal ongestraf gelaat. Daar is geen Zondo-kommissies, geen hofsake, geen tyd in die tronk nie – en die siklus van straffeloosheid duur voort.

The Economist het onlangs heelwat ruimte afgestaan aan die kwessie van Afrika se lang en moeilike herstel. “Afrikane toon merkwaardige veerkrag in reaksie op die virus. Maar die moeilikste jare lê nog voor,” voorspel die blad. Die koerant betreur die droewige stand van onderwys (veral vir meisies) op die vasteland en ander ekonomiese uitdagings, maar soos verwag kon word, word daar nie regtig diep gegrawe oor die werklike oorsake en oplossings nie. Skuldverligting en -herstrukturering, en verdere goedkoop lenings, is die enigste oplossings wat aangebied word. Bowendien sal die Afrika-ontwikkelingsbank se voorstelle om meer privaat kapitaal te lok, suksesvol wees slegs as bogenoemde kwessies aandag kry en Afrika homself bewys as ’n vasteland wat investering waardig is.

Voordat Covid-19 die skuld kry vir die gemors waarin Afrika se kontinentale en individuele ekonomieë hulle bevind, en voordat ryk lande instorm met nog meer hulp om hul gewete te sus en Ramaphosa nóg meer huigelary oor inklusiewe groei kwytraak, moet hierdie feite in gedagte gehou word. Afrika is nie oop vir sake nie en dit is onwaarskynlik dat hierdie situasie in die afsienbare toekoms sal verander. Dit is ’n jammerlike toedrag van sake wat te dikwels nie aan openhartige bespreking onderwerp word nie. Die keersy is dat gemeenskappe en individue beheer oor hul eie toekoms kan en moet neem.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

James ·

Die sondes van die vaders, sal toegereken word aan die kinders.

Nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.