ANC: ’n Bevrydingsbeweging onder druk, is uiters onvoorspelbaar

Pres. Jacob Zuma en adjunkpres. Cyril Ramaphosa by die ANC se 103de herdenking in Kaapstad-stadion op 10 Januarie 2015 Foto: Elmond Jiyane, departement van kommunikasie.

Pres. Jacob Zuma en adjunkpres. Cyril Ramaphosa by die ANC se 103de herdenking in Kaapstad-stadion op 10 Januarie vroeër vanjaar. Foto: Elmond Jiyane, departement van kommunikasie.

Die ANC se nasionale algemene raadsvergadering in 2015

Die nasionale algemene raadsvergadering (NARV) van die ANC moet beoordeel word teen die agtergrond van ʼn uiters dinamiese Suid-Afrikaanse politieke landskap. Hierdie dinamiese politieke omgewing konfronteer die ANC tans met van die grootste uitdagings waarmee die organisasie in sy meer as honderdjarige bestaan te make gehad het.

Hierdie uitdagings verwys na politieke, sosiale en ekonomiese vraagstukke op die nasionaal-staatkundige vlak, maar dan verder ook en in besonder kwessies op die vlak van die organisasie/party. Laasgenoemde beklemtoon sake soos ideologie/beleid, bestuurs- en organisatoriese aspekte rakende die ANC, faksies en faksiegevegte maar ook leierskapkwessies en veral die sogenaamde opvolgstryd. (Wie moet Jacob Zuma opvolg in 2017?)

Die NARV, die belangrikste vergadering tussen nasionale konferensies, se fokus is beleid en beleidskwessies en glad nie sake wat met leierskap en opvolging te make het nie. Tog was die eggo’s van ander sake met inbegrip van die opvolgstryd (soos ook in 2007 toe Zuma begin het om Mbeki polities te onttroon) soms ʼn dominante tema van die konferensie en baie lewendig in die gemoed van die meeste afgevaardigdes. Wat hoogstens ʼn subteks of selfs ʼn voetnota moes wees (die opvolgstryd) was duidelik een van die brandende kwessies tydens die vergadering. Met bogenoemde as algemene verwysing word daar op ʼn aantal sake gefokus met as beginpunt ideologiese of beleidskwessies:

Ideologie/beleid

Met die tweede fase van transformasie as die sentrale tema was beleidskwessies sterk op die voorgrond. Sosiale en ekonomiese kwessies het hiervolgens voorrang geniet. Binne hierdie breër verwysing (ook soms na verwys as die tweede fase van die Nasionaal-Demokratiese Rewolusie-idee) het verskeie resolusies beslag gekry met as foci sake soos die vestiging van ʼn media-appèltribunaal; die vermindering van die getal provinsies; die moontlike onttrekking van die Internasionale Misdaadhof; strenger beheer oor skoolbeheerliggame; versnelde grondhervorming (50% van alle grond moet afgestaan word); die stryd teen korrupsie en kwessies wat met onderrig, gesondheid en dienslewering te make gehad het. Beleidsresolusies se inslag was van ʼn meer radikale en selfs rewolusionêre aard en beklemtoon ʼn politieke skuif na die linkerkant van die politieke spektrum. Dit is duidelik dat die ANC sensitief is vir steunverliese na links en veral die EFF en die te stigte “werkersparty” hier in gedagte het.

Bestuurs- en organisatoriese aspekte

Uit toesprake van sowel die president as die sekretaris-generaal van die ANC was dit duidelik dat die organisasie met groot uitdagings te make het. Hieronder tel dalende lidmaatskapgetalle, ʼn onvermoë om strukture op tak-, distriks- en soms provinsiale vlakke doeltreffend te laat funksioneer; die aanwesigheid van parallelle partystrukture; probleme met partylyste en ander sake wat met swak bestuur en regeerkundige praktyke te make het. Hieruit blyk dit duidelik dat die ANC ʼn siek organisasie is wat moeilik kan verwag om vanselfsprekend te presteer by die stembus soos wat die geval was tydens vorige verkiesings. Kortom, die ANC as organisasie verkeer in ʼn krisis en kan heelwat swakker presteer as tydens vorige verkiesings. Wat steunbasis betref, is die organisasie veral bekommerd oor die stedelike middelklas terwyl konflikterende etniese kragte ook al meer as rigtinggewend binne die organisasie beskou kan word.

Faksies, faksiegevegte en leierskapkwessies

Hierdie aspek word meer prominent as voorheen en manifesteer op elke vlak van die organisasie – vanaf takvlak tot nasionale vlak. Tydens die NARV het die verdelingslyne prominent gemanifesteer met as primêre verdelingslyn die Zuma-groepering vs. die anti-Zuma-groepering. In hierdie stadium is die skeidslyne nog nie oral ewe duidelik getrek nie. Die Zuma-groepering bestaan uit die provinsies Kwazulu-Natal en dan die sogenaamde Premiersliga (Mpumalanga, Vrystaat en Noordwes) met verdere steun wat oorgebly het van die Jeugliga en ook die Vroueliga van die ANC. Dit moet verder in gedagte gehou word dat Zuma sterk steun vanuit die regime (die politieke stelsel) geniet waar veral die invloedryke sekuriteitskluster hom sterk ondersteun. Leiers binne die Zuma-groep wat aspireer, is veral Nkosazana Dlamini-Zuma met die effens meer verskuilde posisie van Zwele Mkize (die huidige tesourier-generaal van die ANC) op die agtergrond en moontlik self in ʼn binnebaan. Dikwels kan ʼn politieke troefkaart egter uit die bloute na vore kom en hier kan Zwele Mkize die persoon wees. [Dit moet net in gedagte gehou word dat die ANC van KZN nie almal eenvormig agter Zuma verenig is nie en dat die premier Zenzo Mchunu dikwels in opposisie staan tot die Zuma-groepering.]

Aan die ander kant van die skeidslyn staan veral die Oos-Kaap, Gauteng en dele van Limpopo waar dit die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, en die adjunkpresident, Cyril Ramaphosa, is wat hulself teenoor die Zuma-groepering posisioneer. Hul steun is sterk onder die werkers- en swart middelklas in die stede. Van die twee groeperings is eersgenoemde (die Zuma-groep) myns insiens tans die mees invloedryke, maar heelwat krisisse en uitdagings bestaan met inbegrip van die plaaslike verkiesings in 2016, politieke skandale, finansiële uitdagings en die dinamika verbonde aan ʼn verswakkende staat wat ongetwyfeld ’n rol gaan speel in die opvolgstryd. Dit is veral die politiek links van die sentrum wat een van die groot uitdagings vir die ANC tydens die volgende plaaslike verkiesing verteenwoordig.

Uit die voorafgaande ontleding, is die volgende duidelik:

  • Die ANC as organisasie word gekonfronteer met van die grootste uitdagings sedert sy bewindsoorname in 1994.
  • Elke verkiesing word ʼn steeds groter uitdaging vir die ANC met steunverliese in veral sekere stedelike omgewings ʼn werklikheid en ʼn algemene steunbasis laer as 60% ʼn steeds groter wordende moontlikheid.
  • Etniese en kulturele faktore speel ʼn al groter rol in die Suid-Afrikaanse politiek in die algemeen, maar ook ten opsigte van die ANC-politiek in die besonder. [Die ANC is besig om meer landelik (rural) en meer etnies (tribal) te word met eiesoortige nuwe politieke dinamika wat hieruit voortspruit.]
  • Beleidsgewys is die ANC besig om meer radikaal en selfs rewolusionêr te word en is ʼn skuif na die linkerkant van die politieke spektrum duidelik waarneembaar en ook verstaanbaar as die groter politieke dinamika links van die sentrum verdiskonteer word.
  • Bestuursmatig en organisatories is die ANC besig om (soos Cosatu) agteruit te boer en is swak bestuur, faksiegevegte en leierskapkonflikte meer prominent as tevore. Dit is waarneembaar in onder meer dalende lidmaatskapgetalle, swak leierskap en onduidelike beleidsrigtings.
  • Die leierskap binne die ANC gaan in felheid toeneem.
  • Namate die ANC as “politieke party” in die moeilikheid raak, sien ons die “rewolusionêre bevrydingsbeweging” (die alter ego) sterker na vore kom.

Die Suid-Afrikaanse politieke omgewing ervaar tans ʼn politieke dinamika wat verreikend op ons toekoms kan inwerk oor die volgende vyf jaar met voorspellings dat dit so vinnig soos 2017 kan wees. [Vergelyk die bydrae van RW Johnsson. How long will South Africa survive? (2015)]

Die uitkomste van die NARV kan myns insiens nie geringgeskat word nie, met verreikende implikasies vir staats- sowel as korporatiewe instellings asook ten opsigte van die burgery in die algemeen. ʼn Bevrydingsbeweging onder druk (soos wat tans met die ANC die geval is) is polities baie onvoorspelbaar veral wanneer bestaande leierskap en leierskapbelange onder druk verkeer van onder meer demokratiese politieke prosesse. Dus, berei julle voor op interessante tye!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

André Duvenhage

Meer oor die skrywer: André Duvenhage

André Duvenhage is politieke ontleder en professor in Politieke Wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae