ANC onverdraagsaam en kortsigtig oor taal

Onverdraagsaam en kortsigtig – dit is hoe die ANC-fraksie se houding in die portefeuljekomitee oor die talewetsontwerp beskryf kan word, aldus die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die portefeuljekomitee het gister met meerderheid van stemme, gedryf deur die ANC-fraksie, besluit om ‘n taalklousule wat bepaal dat nasionale entiteite, soos provinsies en departemente, in drie tale moet diens lewer, te handhaaf. Die negatiewe aspek van die bepaling is dat twee van die drie tale sogenaamde voorheen gemarginaliseerde of benadeelde tale moet wees. Die ANC-fraksie besef maar al te goed dat hulle daarmee Afrikaans ernstig kan benadeel. Die konsekwensies van die taalklousule is dat provinsies, munisipaliteite en nasionale departemente noodwendig Engels as hooftaal sal kies en Afrikaans, wat nie as ‘n benadeelde of gemarginaliseerde taal beskou word nie, buite rekening laat. Die demografie van Pretoria met ‘n sterk aanwesigheid van Afrikaanssprekendes asook in gebiede van die Noord-Kaap en die Wes-Kaap hoef so glad nie in ag geneem te word nie.

Pleidooie van opposisiepartye en groeperings uit die Afrikaanse kultuurhuishouding dat vier tale in ag geneem word sodat Afrikaans darem ‘n redelike kans het in gebiede waar die taal sterk staan, het op dowe ore geval. Die ANC-fraksie se houding dui allesbehalwe op versoening. ‘n Toegewing ten opsigte van vier tale sou juis die gemoedere gekalmeer het en uiteindelik bygedra het tot versoening rondom een van die grootste twisappels in die land, het die hoof uitvoerende beampte van die SA Akademie, prof. Jacques van der Elst, gesê. Afrikaanse organisasies is ‘n ruk gelede by die eerste sitting van die portefeuljekomitee se openbare besprekings oor die wet met groot welwillendheid ontvang met die versekering dat “Afrikaans niks te vrese het nie”. Gister se besluit kom eintlik as ‘n skok en ‘n beroep word op die Staatspresident gedoen om tussenbeide te tree. Indiwidue – in hierdie geval Afrikaans-sprekendes – se grondwetlike regte word eintlik aangetas. ‘n Gesprek op kort termyn met die ANC is reeds deur die Akademie in samewerking met die Afrikaanse Taalraad aangevra.

Die ANC-fraksie is in werklikheid kortsigtig in die opsig dat hulle vaskyk teen die vermeende politieke bagasie van Afrikaans, maar geen begrip toon vir die feit dat meer mense van ander kulture, anders as blankes, Afrikaans praat. Die ekonomiese waarde van Afrikaans ook as wetenskapstaal word eweneens onderskat en geminag.

Die vraag kan ook gestel word wat dan presies ‘n gemarginaliseerde of benadeelde taal is. Wat het daardie tale se sprekers die afgelope 18 tot 20 jaar self gedoen aan die opheffing van hulle taal? Sal die uitreiking van ‘n amptelike verklaring of selfs ‘n kragrekening in daardie taal werklik bydra tot die opheffing van daardie taal? Die drastiese agteruitgang van akademiese Departemente Afrikatale by universiteite en die afname van studentegetalle getuig nie van eie taaltrots nie. Dit is ‘n simptoom van die feit dat baie sprekers van die sogenaamde gemarginaliseerde tale hulle eie taal en kultuur ten gunste van Engels versaak. Die ANC-fraksie se meerderheidsbesluit is ‘n opportunistiese leë gebaar teenoor die gemarginaliseerde tale, maar ‘n geniepsige en byna wraaksugtige poging om Afrikaans ‘n uitklophou toe te dien. Koelkoppe is in hierdie spannende situasie nodig. Redelike gesprekvoering moet steeds nie uitgesluit word nie, het prof. Van der Elst gesê.

(*persverklaring deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns)

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jacques van der Elst

Meer oor die skrywer: Jacques van der Elst

Prof. Jacques van der Elst was die voormalige hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands, PU vir CHO (tans NWU) en is tans direksielid van Akademia.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gemsbok ·

Dit is verbasend dat die Akademie “geskok” is deur die optrede van die ANC-fraksie binne die portefeuljekomitee. Die feit dat die vyandige klousules hoegenaamd in konsepvorm verskyn het, moes alreeds aangedui het dat hefaan voorlê.

Dat ‘n versugting na “versoening” uitgespreek word, dui ook aan dat die Akademie in ‘n ander Suid-Afrika as die res van ons verkeer het gedurende die afgelope dekade. Dalk die wonderlike “nuwe Suid-Afrika” met sy Madiba, wigte en teenwigte wat so sonder ophou opgedis word op ons kampusse en deur ons media?

Die tekortkominge wat hofgedinge het as instrument vir beregtiging in Suid-Afrika word duidelik deur hierdie sage uitgewys en sal verder ook uitgewys word namate dit vorder.

Die hersiening van die Grondwet wat op die tafel is, dui immers aan dat die Grondwet en Grondwetlike hof ‘n beperkte hulpbron is wat waarskynlik na byna 20 jaar nader aan die “uitgeput” merk staan as wat ons graag sou wou hê.

Dit beteken egter nie dat daar nie hoop en ander metodes oorbly nie.

Selfbeskikking vir Afrikaans in die streke waar die meerderheid inwoners Afrikaans is, sal uiteindelik die enigste uitkoms wees wat vir Afrikaans oorbly in die aangesig van die vyandigheid van die res van Suid-Afrika.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.