Bejaardes en demensie ontleed vanuit die Christelike etiek

(Foto: Fanatic Studio/Gary Waters/SCIEN / FST / Science Photo Library via AFP)

Met die opstel van die Kommunistiese Manifes in 1847/48, het Karl Marx (1818 – 1883) dit gestel dat daar ʼn spook in die beskaafde wêreld rondloop wat baie angs veroorsaak. Hierdie spook is die demensie van ouer mense wat verband hou met verbeterde mediese sorg en ʼn langer lewensverwagting.

Mense vrees dus ʼn lang lewe, omdat dit gepaard mag gaan met demensie in die later jare van hulle lewe.

Ek het altyd gedink dat demensie ʼn natuurlike proses van toenemende vergeetagtigheid is. Hoe ouer ʼn mens word, hoe meer vergeet jy mense se name; eers dié van kennisse, dan dié van die kleinkinders en dan dié van jou huweliksmaat. Jy begin om woorde te vergeet; dan vergeet jy titels van boeke en dan vergeet jy basiese dinge wat jy geleer het.

Toe ek egter in die Groot Duits-Latynse verklarende woordeboek,Der neue Georges, die betekenis van die woord dēmentia naslaan, het ek geskrik. Die oorspronklike Latynse woord beteken: Om nie rasioneel te handel nie; om nie by jou sinne te wees nie; en om stapelgek te wees. Wanneer dít op ʼn mens wag namate jy oud word, en dalk baie oud word, is dit inderdaad ʼn vreeslike spook wat jou tot waansin kan dryf.

Ons weet dat ten spyte van die enorme vooruitgang van die mediese wetenskap, ons tot ʼn groot mate uitgelewer is aan die moontlikheid dat ons demensie mag ontwikkel. ʼn Egalitariese samelewing, waaroor Marx gedroom het, gaan die spook nie laat verdwyn nie; só ook nie die mees gevorderde mediese stelsel nie. Ons moet daarom aanvaar dat talle van ons met hierdie mediese toestand sal moet saamleef, en ons sal moet leer hoe om met geliefdes saam te leef wat daaraan ly.

Grappies oor vergeetagtigheid is net tot op ʼn punt snaaks, en net tydelike salf vir die groterwordende wond. Uiteindelik gaan dit oor ʼn groot lewensprobleem wat jou menswees en identiteit aftakel tot op die punt dat jy nie meer kan onthou wie jy is en waaruit jou lewe bestaan het nie.

In die Christelike etiek is dit belangrik om in die eerste instansie te besef waarom daar so ʼn geweldige groot angs oor demensie is. Begrip vir die probleem is die beginpunt vir verdere teologiese en etiese besinning.

Minstens vier redes kan vir die angs vir demensie genoem word:

  1. Aangesien ons mense is wat met verstand en denke begaafd is (animal rationale), en dít tot ʼn groot mate ons menswees bepaal, wil ons so lank as moontlik aan hierdie begaafdheid vasklou. Al onderskei ons redelike denke ons van die dier, en al het ons danksy ons denkvermoë groot kultuurprestasie behaal, het ons rede ons in groot krisisse, soos oorloë en die vernietiging van die natuur, gedompel. Denke is daarom nie ʼn heilige engeltjie nie, en nie iets van ewigheidswaarde nie.
  2. Die volgende rede vir die angs het te make met die verlies van ons verstandmatige selfbeheer. Die verlies aan die beheer van jou uitskeidingsorgane, onsinnige seksuele gedrag, sieklike naywer en kleinlike nydigheid, veroorsaak diepgrypende skaamte, en daarom vrees ons die nader-kruipende demensie.
  3. Nog ʼn rede vir angs hou verband met die verlies aan selfbestemming en die groterwordende afhanklikheid van ander mense. Die besef dat ʼn geliefde ander se voortdurende versorging benodig, wek ook bekommernis en selfs angs by familielede.
  4. Laastens hou die angs verband met die toenemende verlies aan menswaardigheid. Menswaardigheid het wel ook met selfbestemmingsreg te make, maar ten diepste gaan dit oor menslike agting. ʼn Demensiepasiënt, en die familie, vrees die verlies aan agting. Sonder agting kan die lewe ondraaglik word.

Daar bestaan min twyfel dat die vier genoemde redes vir angs vir demensie, geldig is. Die vraag is nou: Hoe hanteer ons hierdie angs?

Ons kan volgens die psigoanalis Horst-Eberhard Richter (1923 – 2011) probeer vlug, óf ons kan vasstaan. Vlugtendes gryp na drank, dwelms en selfs selfmoord. Is dit etiese gedrag? In die meeste gevalle bring dit eindelose hartseer en selfs groter lyding oor naasbestaandes. Maar, ʼn mens moet maar versigtig oordeel! Om stewig vas te staan, lyk na die eties-aanvaarbare gedragshouding. Hiervoor het ʼn pasiënt egter ondersteuning nodig: Familielede, gemeentelede, verpleegkundiges en dokters. Maar, wat kan hulle doen?

Mediese versorging is ʼn vanselfsprekendheid. Wat almal moet leer, is om met die pasiënt te kommunikeer. Interpretasie van lyftaal moet byvoorbeeld aangeleer word, aangesien kommunikasie onontbeerlik vir demensiepasiënte is. Deelname aan eredienste moet solank moontlik volgehou word. ʼn Gebed en ʼn voorlesing uit die Bybel of ander literatuur, bly genesend. Ander sintuie moet ook enduit gestimuleer word. Wat kan ʼn kleinkind met ʼn slimfoon nie alles vir oupa beteken nie!

Demensie is ʼn radikale grenservaring. Hiermee word bedoel dat demensie die volgende vraag aan almal betrokke stel: Waarop kom dit werklik in die lewe neer, en waaruit leef ons in die laaste instansie? Die vertelling van Jesus wat die kinders geseën het (Markus 10:13–16) beantwoord die vraag ten dele.

Jong ouers het hulle kinders na Jesus gebring in die hoop dat Hy hulle sou seën, met ander woorde aan hulle lewenskrag en -voorspoed sou skenk. Die dissipels was egter van mening dat dit nie ʼn saak is wat kinders aangaan nie. Die “koninkryk” gaan hulle op hierdie jong ouderdom nie aan nie. Jesus, daarenteen, meen egter dat juis die kinders deel van sy “koninkryk” is, aangesien hulle die kuns van ontvang verstaan.

Klein kindertjies weet en verstaan nog niks van verdienste en beloning danksy prestasie nie. Dikwels vergeet hulle danksy die vreugde om ook dankie te sê. Maar vreugde erken ontvangs, en is só deel van dankbaarheid. Demensielyers is soos kinders. Hulle kan nie op grond van beredenering dank betuig nie. Die skelm glimlag en flikker in die oog, herinner ons dat die lewe nie ten diepste oor denke en arbeidsprestasie gaan nie, maar om in vreugde te ontvang.

Wanneer hulle toegelaat word om te ontvang, word hulle menswaardigheid verseker. So kom ons uit by die vraag: Waarop kom dit in die lewe en sterwe neer? Beslis nie wat ons vermag het nie. Ons intellektuele-, kulturele- en arbeidsprestasies waarborg uiteindelik nie die lewenswaardigheid van ons bestaan nie. Wat ons as verstandelik helderdenkende mense, sowel as verstandelik gebrekkige mense se lewens die moeite werd maak, is wat ons uit dankbaarheid bereid is om te ontvang. Wie nie kan en wil ontvang nie, sal in verbittering sterf, aangesien geen mens ʼn ten volle betekenisvolle lewe kan skep nie.

Die demensielyer wat vreugdevol kan ontvang, is ʼn méér voltooide wese as dié een wat op arbeidsprestasies wil roem, met die verwagting van bewondering deur andere (vgl. 1 Korintiërs 4:7).

’n Laaste gedagte. Ons word vertel dat ons tot ’n baie groot mate is wat ons kan onthou. Sou dít waar wees, sou die ouderdomsdemensielyers mense wees wat toenemend bedreig word deur ’n verlies aan menslikheid? Dít kan nie Christelik-eties aanvaar word nie. Die demensielyer is ook ʼn menslike mens; ʼn wese met waardigheid. Ons moet onsself nou ook nie mislei nie, aangesien ons geheue baie selektief is.

Daar is baie dinge wat ons nie kan en nie wil onthou nie. ʼn Outobiografie is daarom ʼn riskante aangeleentheid, aangesien mense tot ʼn groot mate daarin voorgee wie hulle was en is. ʼn Outobiografie is selektief, en tot ʼn groot mate voorgee en spog, met die duister geheime wat daarin weggelaat is. Ons doen en late is egter volledig opgeskryf in die “Boek van die Lewe” (Openbaring 20:12); nou nie elke dingetjie nie, maar hoe ons lewe met Christus daar uitsien.

Wie se naam in die “Boek van die Lewe” opgeteken is, kan met sekerheid weet dat hulle as mense met prestasies en mislukkings in God se geheue is, en vir altyd gaan bly (Filippense 4:3). Hieraan moet demensiepasiënte aanhoudend herinner word. Hulle moenie slegs herinner word dat hulle onthou sal word nie, maar dat die finale oordeel wat oor ons menswees uitgespreek gaan word, ʼn genadige en barmhartige oordeel gaan wees.

Ouer mense wat aan demensie ly, moenie ook nog met dreigemente van veroordeling gekonfronteer word nie, maar die liefde van God in Christus moet hulle begelei tot op die punt waar hulle niks meer kan onthou nie. Die wete dat ʼn onvolmaakte en verborge lewe – menslik gesproke – ook in die heerlikheid van Christus opgeneem word (Kolossense 3:3–4), is ʼn gepaste laaste woord oor ʼn menslike bestaan wat al erger en erger onder ʼn verlies aan menslike waardigheid ly.

Die belangrikste saak in die lewe handel dus nie oor wat ons van ons lewe kan onthou nie, ook nie wat ander van my kan onthou nie, maar hoe God, wat alles van my af weet, my onthou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.