Bela-wetsontwerp: Minder staat en meer gemeenskap is nodig

Deur Johnell van Vollenhoven

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die onvermoë van die staat om talle leerders betyds vir die nuwe skooljaar te plaas, het die kollig weer skerp op die onderwysstelsel laat val.

Wat ons tans sien, is ʼn stelsel wat deur politici beheer word wat in hul politieke loopbane werklik weinig vir Suid-Afrikaanse onderwys gedoen het, maar kort-kort hul relevansie met aanvalle op Afrikaanse skole en ander funksionele skole probeer bewys.

Een van die grootste en waarskynlik gevaarlikste pogings is om terug te beweeg na ʼn staatskolestelsel wat deur die regering beheer word en waar ouerseggenskap tot die minimum beperk word. Deur middel van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die Bela-wetsontwerp) wil die staat besluitneming uit die hande van die skool se beheerliggaam neem en dit in die hande van die onderskeie provinsiale onderwysdepartemente plaas. Die klem word veral gelê op taal- en toelatingsbeleide.

Die Skolewet stel dit baie duidelik. Die rol van die staat is om skole (die geboue) daar te stel sodat die skoolgemeenskap, deur middel van die beheerliggaam, verantwoordelikheid kan aanvaar en die skool dus in die beste belang van die leerders in daardie skool kan bestuur.

Deur beheer van beheerliggame te wil wegneem en finale besluitneming in die hande van politici te plaas, word daar juis wegbeweeg van die openbare skolestelsel. Verder kan hierdie optrede deur die departement van basiese onderwys (DBO) as niks minder as ʼn aanslag op Afrikaanse skole gesien word nie.

Die enigste skole wie se taalbeleide deur hierdie voorgestelde wetgewing in gedrang geplaas word, is Afrikaanse skole. Dit is geen geheim dat die staat Engels as onderrigmedium op hierdie skole wil afdwing nie. Die narratief wat die DBO dan gebruik om hierdie aksies te regverdig, is dat alle kinders gelyke toegang tot onderrig en skole moet hê, so asof Afrikaans die rede is dat toegang beperk word.

Hierdie optrede gaan egter nie die kapasiteitsprobleem oplos nie. En dit gaan verdere probleme ten opsigte van geletterdheid en uiteindelik tekorte aan vaardighede en werkloosheid tot gevolg hê. Moedertaalonderrig, soos bewys, is doodeenvoudig die beste opsie vir almal.

Ouerbetrokkenheid en ondersteuning deur die skoolgemeenskap is broodnodig om te verseker dat skole funksioneel bly en suksesvol bestuur kan word. ʼn Betrokke ouerkorps verseker prestasie en vooruitgang en skep inderwaarheid die toekoms vir die leerders.

Die regering het reeds verskeie maal sy onbevoegdheid bewys. Dit is nie vir hom moontlik om al die land se skole suksesvol vanuit ʼn sentrale kantoor te bestuur nie. Wat die departement eerder moet doen, is om gesag af te wentel. Skole moet openbare skole bly en gemeenskappe moet eienaarskap vir hul skole aanvaar. Funksionele skole moet toegelaat word om onafhanklik van die staat te funksioneer en op hul suksesse voort te bou. Meer skole moet fisies deur die departement opgerig word, en wanneer so ʼn skoolgebou staan, moet die gemeenskap toegelaat word en die nodige leiding ontvang om ook hul eie skool suksesvol te kan bestuur en meer onafhanklik te kan raak.

Die oplossing vir die krisis waarin die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel gedompel is, lê nie in staatsbeheer nie. Dit kan nie deur middel van nuwe en aangepaste wetgewing herstel word nie en dit kan veral nie deur aanslae op funksionele skole gered word nie. Die enigste oplossing is minder staat en meer gemeenskap; minder stremmende regulasies en wetgewing en groter seggenskap aan beheerliggame.

Onderwys kan doodeenvoudig nie aan die staat toevertrou word nie. Dit hoort in die hande van die gemeenskap en ouers wat saam met die onderwysers in die beste belang van die kind optree.

  • Johnell van Vollenhoven is ʼn beleidsontleder verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jakkie ·

Hierdie is n aanslag teen suksesvolle skole wat kwaliteit onderrig en leer laat gebeur. Skole waar onderwysers en ouers nie op hul hande sit nie en d.m.v harde werk pannekoeke, koeksisters,, jaffels, sportdae, konserte, feeste, ens ens een fondsinsameling na ander loods en kyk na hul fasiliteite. Oorgrote meerderheid skole se onderwysers en ouers sit op hul hande en trek nie moue op nie. Asseblief staan hierdie beplande wetgewing teen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.