Bela-wetsontwerp: ‘Weg met Afrikaanse skole’

Deur Johnell van Vollenhoven

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Ons hoor en lees hierdie stelling byna daagliks: “Die aanslag op Afrikaanse skole”. Is dit regtig ʼn dreigende werklikheid of is dit ʼn vergesogte bangmaakstorie wat eintlik net deel van politiek is?

Ek sou laasgenoemde verkies. Dit is makliker om snags aan die slaap te raak op leë woorde wat êrens in ʼn bekgeveg tussen partye plaasvind as wat dit is om bekommerd te wees en selfs te moet deelneem aan prosesse omdat dit die toekoms van jou kind bedreig.

En dit is presies wat die voorgestelde wetswysigings is wat op basiese onderwys betrekking (Bela-wetsontwerp) het. Dit plaas die toekoms van ons kinders in gedrang. Dit loods ʼn aanslag op alle funksionerende skole, maar teiken veral Afrikaanse skole en poog baie duidelik om weg te doen met onderrig in ons moedertaal. Op hierdie manier sal Afrikaanse skole totaal uitgefaseer word.

Die staat wil ons openbare skole nasionaliseer en daarvan staatskole maak wat almal oor dieselfde kam geskeer word.

Waarom “ons” skole?

Skole in Suid-Afrika bestaan hoofsaaklik uit openbare skole. ʼn Openbare skool, in teenstelling met ʼn staatskool, behoort aan die skoolgemeenskap. Volgens die Suid-Afrikaanse Skolewet (SASW) is dit juis die ouer van die leerling in die skool – en nie die staat nie – wat die grootste belang in die onderwys en opvoeding van sy kind het en dus in vennootskap met die leerkrag (die hoof en sy onderwysers) die skool moet bestuur. Dit is dan vanuit die ouers wat die beheerliggaamlede gekies word om hierdie taak en verantwoordelikheid te behartig.

Binne die Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse, konteks het ons hierdie verantwoordelikheid ter harte geneem en ons skole aktief in die beste belang van ons kinders begin bestuur. Die gevolg hiervan word duidelik in die akademiese, sport- en kultuurprestasies van Afrikaanse skole weerspieël. Betrokke ouers wat leiding neem, goeie bestuur toepas en hande vat met die skool se onderwysers lei tot uitnemendheid en skep geleenthede vir kinders om te floreer.

Wanneer daar noukeurig na die funksionele skole in Suid-Afrika gekyk word, is twee dinge ooglopend: die skoolgemeenskap wat selfbestuur verantwoordelik toepas teenoor die staat wat sy bes probeer om daar in te meng. Dit is dus veilig om te sê dat die erkenning vir die sukses van hierdie skole nie aan die staat toegeskryf kan word nie, maar dat hierdie skole eintlik ten spyte van die staat floreer.

In hierdie strewe wat die regering het om totale beheer van skole oor te neem, versuim hy egter sy verpligting ingevolge die SASW en versaak hy werklik die kinders wat tans nie in funksionele skole is nie.

Wat is die staat se rol?

Die wet is baie duidelik oor die rol van die staat met betrekking tot die onderwysvennootskap. Die staat moet basies as ondersteuner na vore tree wat eintlik die gladde verloop van onderwys in alle skole kan verseker. Dít moet hy doen deur infrastruktuur daar te stel, hulpbronne beskikbaar te stel, onderwysers op te lei wat gehalte-onderrig kan aanbied, en natuurlik moet hy meer skole bou wat die groeiende bevolking se behoefte aan onderwys kan bevredig.

Hy het ook ander verpligtinge met betrekking tot die kurrikulum en standaardisering van kwalifikasies wat behaal word, maar al hierdie funksies kan doodeenvoudig uitgevoer word deur die doeltreffende aanwending van fondse en die aanstelling vir bevoegde (nie-korrupte) amptenare.

Die politieke wil ontbreek egter en die gevolg daarvan is ʼn jaarlikse vermindering in die aantal bestaande skole, verdere agteruitgang van geboue en ander infrastruktuur, en ʼn afname in die gehalte-onderrig wat gelewer word. Gevolglik bevind Suid-Afrika homself tans in ʼn onderwyskrisis wat die regering vrylik en openlik erken.

Die regering se oplossing

Daar is onlangs gepubliseer dat slegs 19% van graad 4-leerders in Suid-Afrika met begrip kan lees. Slaagvereistes is laag en anargie en geweld vier hooggety in menige skole. Daar is ook ʼn tekort aan handboeke en personeel. Een van die heel grootste probleme is natuurlik die taalmedium waarin onderrig plaasvind, leermateriaal beskikbaar gestel word en toetse opgestel word. Die verband tussen swak leervaardighede en -prestasie is ʼn direkte gevolg van ʼn gebrek aan moedertaalonderrig – iets wat doodeenvoudig deur die regering misken word.

Dit is juis vanuit hierdie miskenning van moedertaalonderrig verweef met ras-ideologie en ʼn behoefte aan absolute mag wat die regering na sy eie irrasionele oplossing dryf. Volgens die regering is daar geen vinger te wys na sy onbevoegdheid of versuim nie; inteendeel, al die blaam word op Afrikaanse skole geplaas. Die regering “staaf” hierdie argument met sogenaamde rasuitsluitings wat skole deur middel van taalbeleide regverdig. Dit is asof die gehalte-onderrig wat in Afrikaanse skole plaasvind, ʼn tasbare produk is wat vanself gebeur en waaruit Afrikaanse kinders voordeel put omdat daardie skole se beheerliggame hierdie onderrig nie met die res van die bevolking wil deel nie.

Die teendeel is egter waar. Die onderrig (en afrigting) in Afrikaanse skole is nie in staatsbesit nie. Dit is die gevolg van ʼn gemeenskap wat in sy skool belê. En dit is die reg van hierdie gemeenskap om sy taal- en toelatingsbeleid, sonder diskriminasie ingevolge die Grondwet, te mag voorhou.

Dít is natuurlik duidelik wanneer skole wat deur onbetrokke gemeenskappe en die staat bestuur word, onder ʼn vergrootglas geplaas word. Tog is die regering van mening dat hy gemeenskappe van funksionele skole moet dwing om afstand te doen van hulle regte om hulle skole te bestuur en dat hulle moet terugstaan sodat die staat dit wat die gemeenskap gebou het, kan kaap. Sy oogmerk is dan om deur die afskaffing van taalbeleide skole “meer toeganklik” te maak. Dus sal al sy kiesers, in wie se onderwysbehoeftes hy tans nie voorsien nie, nou deur middel van Engels ewe skielik ook gehalte-onderrig kan ontvang.

Die hartseer hiervan is dat die aantal leerlinge wat in skole geplaas moet word, nie skielik gaan afneem wanneer Afrikaanse skole Engels is nie. Die skole bly steeds te min.

Verder gaan sogenaamde ingryping van die staat en die sentralisering van skole tot gevolg hê dat elke funksionele skool ook binnekort dieselfde treurdeuntjie as die ander skole gaan sing.

Die probleem lê aan die einde van die dag nie by die taalbeleid nie; Afrikaans is nie die sondebok wat onderwys geannekseer het en die res van Suid-Afrika daaruit wil hou nie. Dit is die regering wat nie ondersteuning bied nie. Hy kan doodeenvoudig nie bestuur nie en daarom verval die skole waarvoor hy verantwoordelik is. Hy het nie sy kant gebring nie en daardeur het hy stelselmatig die kinders van Suid-Afrika versaak.

Om sy eie mislukking te erken, is nie ʼn opsie nie. Dit sal stemme kos en sy strewe van algehele mag in gedrang bring. Daarom moet hy ʼn alternatief bied en sy alternatief is om dit wat gemeenskappe self bou, te kaap en beskikbaar te stel sodat hy kan voorgee dat hy wel in hierdie behoefte voorsien. Hy gebruik woorde soos “transformasie” om dit te regverdig en verswyg elke ander moedertaal in sy aanslag op Afrikaans sodat daar nie van sy doel gewankel kan word nie.

Wat moet gebeur?

Die enigste werklike oplossing en transformasie wat moet plaasvind, is moedertaalonderrig. Dit is nie ʼn raskwessie nie. Om met begrip te kan lees, moet jy verkieslik in jou moedertaal leer lees. Jy moet in jou moedertaal leer sodat jy konsepte kan baasraak wat jy dan as ʼn basis kan gebruik om abstrak te kan dink, rede te kan voer en ingewikkelde probleme te kan oplos.

Dit is alles broodnodige vaardighede waaroor kinders moet beskik om hulle skoolloopbane en uiteindelik verdere studie of opleiding en beroepe suksesvol te kan aanpak. Hierdie vaardighede het tot gevolg dat mense oor kwalifikasies vir skaars vaardighede en spesialisasie kan beskik wat juis die plek is waar daar ʼn vraag na meer werkers is.

Die oplossing lê in meer skole, opgegradeerde infrastruktuur en voorsiening van die hulpbronne wat gunstige leeromgewings bevorder. Dit lê daarin dat die staat sy verpligtinge nakom en sy fokus en aanval op een taalgroep verskuif na dit wat in die beste belang van die kind is. Dit verg erkenning van wat werklik nodig is en ʼn belegging in die ontwikkeling van leermateriaal vir alle amptelike tale sodat elke kind werklik hierdeur die beste kans gegun word.

Dit is noodsaaklik dat elkeen wat ʼn belang in onderwys het, hande vat en opstaan teen die staat wat skole wil kaap. Dit is noodsaaklik dat taalgemeenskappe aandring op die beskerming van moedertaalonderrig. Dit is noodsaaklik om die regering deurentyd aan sy verpligtinge te herinner en hom verantwoordelik te hou vir die wanbestuur wat hy pleeg.

Ons kan nie toelaat dat die onbevoegdheid wat tot hierdie punt gelei het, seëvier nie. Ons kan nie ons kinders aan die staat oorhandig en hulle toekoms op die spel plaas nie. Ons moet veg dat ons taal nie versmoor word nie.

Ons moet opstaan, saamstaan en vashou aan dit wat aan ons en ons kinders behoort. Weg met die Bela-wetsontwerp!

  • Johnell van Vollenhoven is ʼn beleidsontleder verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Harley Davidson ·

Die afrikaans sprekende suid afrikaner is sterk maar ongelukkig baie verdraagsaam, die tyd gaan kom dat hulle regtig genoeg gehad het van hierdie sistematiese verdrukking.

Marthinus ·

Waarom Kan mense Nie net leef en laat leef Nie.Dertig Jaar in demokrasie en steeds reversed apartheid wat toeneem

Miskruier ·

Ons weet tog dat die hele land se kinders as dom stemvee opgevoed word. In die middeleeue kon weinig lees, en God het vernuwing gebring, mense kon Sy Woord lees. Satan is hard besig om dit te verander. Afrikaans onderrig sal terugkeer na die Afrikaanse kerke.

Hendrik ·

Ons ervaar dat werknemers in die arbeidsmag met gebrekkige engels produktief moet wees al het hulle al hulle opvoeding in engels gehad. Daarteen kry ons afrikaans moedertaal werknemers wat met goeie engels hulle plek kan volstaan. Engels is maar net nog ‘n taal wat maklik aangeleer kan word in parralel as jy geskool kan word in jou moedertaal.

gatgogga ·

Die tweede paragraaf van hierdie artikel som die situasie akkuraat op.
Ons het ons eie nageslag gekelder deur ons onnosele “ja”-stem, omdat ons ‘n verraaier vertrou het om namens ons te onderhandel. En in plaas daarvan om iets daadwerklik te probeer doen om dit reg te stel, is ons alweer besig om die lui, maklike pad van kerm, hoop en bid te volg.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ietwat te laat om nou te wil baklei. Die oorlog is reeds verby. Begin eerder werk aan ‘n nuwe staatkundige bedeling waar jou kinders weer ware vryheid kan geniet.

Hendrik ·

Jy praat die waarheid nou. Kyk maar die meeste van die kommetaar oor enige onderwerp en die mense moet nou uit die sloot kom van die ou koeie. Jy kan kla en mor soos jy wil die enigste ding om te doen is om iets te doen want dit is beter as niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.