Beperk ʼnuwe’ betredingswet burgers se regte?

Deur Marnus Kamfer

(Argieffoto: Markus Winkler/Pixabay)

Die oorgrote meerderheid Afrikaners begroet en bejeën voorgestelde konsepwetgewing met skeptisisme. Hierdie toedrag van sake kan nie té veel verkwalik word nie – die regering van die dag is nie regtig bekend vir sy behoefte om wetgewing voor te staan wat die Afrikaner se belange bevorder of hul lewe vergemaklik nie.

Wetgewing en konsepwysigingswetgewing rondom swart ekonomiese bemagtiging, vuurwapens, onteiening sonder vergoeding en die gereelde dreigemente rakende wysigings aan die Grondwet is maar enkele voorbeelde van die sade wat die gemelde wantroue mildelik laat spruit het.

Die mees onlangse konsepwet, te wete die sogenaamde Unlawful Entering on Premises Bill, tesame met videogrepe en ander kettingboodskappe op sosiale media wat bewerings uiteensit van presies hoe ingrypend dié konsep is – aldus die onderskeie outeurs se onderskeie opinies, het tot gevolg gehad dat burgers, soms onnodig, met afgryse gevul is en die harnas ingejaag is. Die twee mees opspraakwekkende bewerings sal hier ontleed en behandel word om sodoende die leser ʼn alternatiewe perspektief te gee om self te besluit of die konsepwet inderdaad so boos is, al dan nie:

  • Booswigte kan my huis betree, lukraak ʼn verskoning aanbied vir sodanige betreding, waarna hulle vrygestel is van arrestasie en vervolging.

Gelukkig is dit nie so eenvoudig nie. Artikel 3(1) van die konsepwet bepaal pertinent:

“Every person who unlawfully enters a premises commits the offence of unlawful entry”

Artikel 10, wat handel met die straf vir enige oortreding ingevolge die konsep, bepaal voorts dat, indien ʼn persoon skuldig bevind word aan ʼn oortreding ingevolge die wet, sodanige persoon ʼn boete, tot twee jaar tronkstraf of beide opgelê kan word.

Artikel 3(4) en artikel 9(c) lui dat ʼn persoon, wat aangekla word vir ʼn oortreding in die konsepwet die verweer kan opper dat:

“… the person charged reasonably (my beklemtoning) believed that they had title or an interest in the premises that entitled them to enter the premises.”

Beteken dit dan nou dat enige verskoning wat die boosdoener optower suksesvol as verweer op die misdaad sal dien? Die antwoord is nee. Die verskoning wat aangebied word moet redelik wees, en die persoon wat die rede aanvoer sal dit uit die aard van die saak moet kan bewys ook. Om die verweer te probeer opper dat jy ʼn vreemdeling se eiendom sonder toestemming betree het omdat sy braaivleis vir jou lekker geruik het, is byvoorbeeld glad nie ʼn redelike verskoning nie en sal nie as verweer slaag nie.

Indien jy egter ʼn skriftelike ooreenkoms met ʼn landbouer het wat bepaal dat jy jou drie beeste op sy eiendom kan laat loop en jy die grond kan betree wanneer jy wil om na sodanige beeste om te sien, die landbouer die plaas verkoop sonder jou medewete, jy oor twee weke die grond betree om jou beeste te besoek en die nuwe eienaar dan ʼn betredingsklag teen jou lê, het jy mos ʼn redelike verskoning om jou gedrag te verduidelik en sal sodanige verskoning as verweer kan dien teen die klag.

  • Indien daar booswigte in my huis is of my eiendom betree, mag ek niks doen anders as om die polisie te verwittig nie:

Artikel 7(1) van die konsepwet bepaal:

As soon as it comes to the attention of the lawful occupier of premises, or an authorised person, they must request the intruder or intruders, unlawfully on the premises, to leave the premises immediately.”

Artikel 7(2) bepaal vêrder:

If the intruder or intruders do not leave the premises, or the lawful occupier or a person authorised by them are threatened in any manner, the lawful occupier, or authorised person must, without delay, request assistance from the authorised member of South African Police Service, as contemplated in section 8(1), informing them of unlawful entry, the address of the premises and the approximate number of intruders.”

Alhoewel die artikel soos hierbo aangehaal aandui dat die wettige okkupeerder van die eiendom die polisie onverwyld moet verwittig om bystand te help verleen, doen dit nie afbreek aan die wettige okkupeerder se reg om in Noodweer op te tree nie, mits daar aan die volgende elemente voldoen word[1]:

  • ʼn Persoon homself/ ʼn ander persoon/ regsbelang verdedig teen ʼn aanval wat reeds begin het, onmiddellik dreigend is en wat voortdurend is;
  • Die gemelde aanval moet wederregtelik wees;
  • Op voorwaarde dat die afweerhandeling noodsaaklik is om die bedreigde belang te beskerm,
  • Dit gerig is teen die aanvaller, en dit redelik en proporsioneel billik tot die aanval is en dit nodig is om die aanval te stop;
  • Die aanval nog nie afgeloop is nie.

Artikel 42(3) van die Strafproseswet 51 van 1977 magtig voorts dat die eienaar en/ of wettige okkupeerder en/ of persoon in beheer van ʼn perseel ʼn siviele arrestasie, sonder ʼn lasbrief, op ʼn persoon uitvoer wat ʼn misdryf op die perseel pleeg. Die konsepwet doen ook nie afbreek aan hierdie mag van die wettige okkupeerder nie.

Kom ons ontleed weer die situasie. Indien jy die aand in jou huis wakker word omdat jou dogtertjie bloedstollend gil, jy met jou vuurwapen haar te hulp snel en jy op twee boosdoeners afkom wat besig is om haar aan te val, is dit mos logies dat jy eerstens gaan optree om die aanval op jou kind se lewe af te weer – die regverdigingsgrond van Noodweer magtig jou immers om as sulks te handel. Die polisie kan daarna geskakel word.

Indien jy en/ of jou gemagtigde privaatsekuriteitsmaatskappy se sekuriteitsbeampte ʼn persoon betrap wat in die oggendure besig in om jou televisie te steel en julle het die vermoë om die persoon daar en dan te arresteer, sal julle dit kan doen, ingevolge die bestaande wetgewing soos hierbo bespreek en sal julle waarskynlik dan eers die polisie skakel.

Indien ʼn plaaseienaar egter een oggend van vakansie af terugkom, net om begroet te word deur haastig opgerigte tydelike strukture wat soos paddastoele oor sy grond strek, sal dit in die geval nie prakties wees om in Noodweer op te tree of om te poog om al die onwettige okkupeerders te arresteer nie. Die polisie kan in hierdie geval gekontak word, soos deur die konsep bepaal, om hulp te verleen.

Dit is dus my interpretasie en logiese afleiding dat die konsepwet nie voor oë het om afbreuk te doen aan die wettige eienaar of okkupeerder se regte in die verband nie, ook nie om dit te herroep nie, maar om ʼn uitbreidingsrol te vervul. Die doel van die konsepwet lui immers dat die doel van die wet is om:

To prohibit unlawful entry on premises, and to provide for matters connected therewith.”

Ter verdere stawing van die opinie dat die konsepwet ʼn uitbreidingsrol vervul, sit artikel 8 van die konsepwet presies uiteen hoe die polisie moet optree in ʼn geval waar hulle hulp ontbied word waar onwettige okkupeerders hulself tuisgemaak het. Hierdie artikel is so welkom soos ʼn vars briesie, aangesien baie lede van die polisie in die verlede graag hulle skouers opgetrek het, aangedui het dat hulle niks kan doen nie en dat die eienaar maar ʼn hofaansoek moet bring. Ten einde die laasgemelde hok te slaan, het die polisie intern standaardwerksprosedures en -direktiewe uitgereik, maar is hierdie dokumente selde gebruik en/ of afgedwing. Die feit dat die proses nou pertinent in wetgewing vervat is, maak dit aansienlik moeiliker vir polisielede om skouers op te trek sonder dat dit wesenlike gevolge vir hulle inhou.

Wetgewing bly oop vir interpretasie en kritiek. Sodanige interpretasieverskille en kritiek word gereeld in howe beredeneer wat dan ʼn oordeel moet vel. So ontwikkel die reg. Soos aan die begin vermeld, is Suid-Afrikaners die afgelope tyd geweldig blootgestel aan onredelike wetgewing. Die konsepwetgewing, soos dit hier bespreek is, mag dalk net, indien baie naby aan sy huidige vorm aanvaar word en reg toegepas word, ʼn pêrel in die spreekwoordelike modderwater wees.

  • Marnus Kamfer is regs-en-risiko-bestuurder by AfriForum

[1] Snyman, 2012, Strafreg – Sesde Uitgawe, Lexisnexis, Kaapstad

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pierre ·

My woning het geen “tuin hek” ingang behalwe die gemotoriseerde motor hek, my mure regom is tussen 1.8m en 2.0m hoog, asook dubbele elektriese heinings bo op (een regop, en een na wat voor buig) so as ‘n “besoeker” om 01h00 in die oggend kom “kuier” (betreder se verskoning) SAL hy homself in meer as een wapen se se loop vaskyk…

Elize ·

My erf my hek. Wys my jou uitnodiging en ek gee vir jou ‘n stukkie braaivleis en nog koek ook

Schalk ·

Ongelukkig sal die oortreder nie kan getuig dat ek hom verskeie kere gevra het om te gaan nie. Sela.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.