Braaibroodjies en belasting

(Foto: Maroela Media/janie Mosnieur)

Het jy al ooit gehoor: “Jy is nie ʼn braaibroodjie nie; jy kan nie almal gelukkig maak nie?” Dit is waar, maar dit voel dikwels asof die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), beter bekend as SARS, niemand behalwe die regering gelukkig maak nie.

Die las van belasting is swaar! Suid-Afrikaanse burgers wil ʼn toekoms bou, maar ervaar dat ons net vir die staat se sak bou – wat boonop ʼn groot gat in het.

Die waarskuwingsligte moet dramaties flikker omdat 29 miljoen mense maandeliks staan en wag vir ʼn staatstoelaag; beter bekend as ʼn SASSA-“grant”. In pleks dáárvan flikker die president se oë vol trots dat die helfte van sy land se bevolking afhanklik van die staat is. Hierdie massas mense is dan indirek afhanklik van ʼn handjievol mense wat wel nog belasting betaal. Staatsafhanklikheid is net so gevaarlik soos ons misdaadgeteisterde land.

Daarom moedig AfriForum Jeug jongmense aan om staatsbestand te word. Ons kan byvoorbeeld nie ons veiligheid in die staat se hande laat nie, maar moet eerder betrokke raak by gemeenskapsveiligheid. AfriForum het reeds meer as 155 buurtwagte regoor die land op die been gebring.

Die staat moet sy verantwoordelikhede, wat deur die Grondwet bepaal word, nakom. Belastinggeld is veronderstel om aangewend te word vir verskeie, vasgestelde verantwoordelikhede van die staat. Dink byvoorbeeld aan erfbelasting waar ʼn vaste bedrag maandeliks gehef word vir riool- en vullisverwydering, terwyl dit beslis nie ʼn diens is wat orals verkry word nie.

Dit gaan helder denke verg om ʼn langtermyn oplossing vir die belastingkwessie te vind. Ons kan dus nie intussen onder riool-en-vullis-probleme gebuk gaan nie, maar moet eerder betrokke raak by ons gemeenskap se AfriForum-tak, wat kies om ʼn verskil te maak deur plaaslike regeringsake aan te spreek – hetsy deur selfdoen-aksies of regsaksies.

Suid-Afrika is een van die tien lande in die wêreld wat die swaarste belas word! Uit 115 lande, met voldoende belasting-data, is Suid-Afrika in die 8ste plek van lande wat die swaarste belas word. Dit beteken ons is net agter eerstewêreldlande soos Nieu-Seeland en Swede!

Daarom het die blink motors van ministers die vermoë om ʼn blink-traan in ʼn mens se oog te laat vorm. Die groeiende staatskuld sou veel minder gewees het as die ministers entrepreneurs en nie “tenderpreneurs” was nie. Maar, daar is hoop: AfriForum se privaatvervolgingseenheid wil vanuit die burgerlike samelewing help verseker dat almal, ongeag posisie, gelyk is voor die reg.

Almal wil hulle braaibroodjie aan albei kante gebotter hê. Maar ék is moeg vir die regering wat sy broodjie aan albei kante gebotter het: hy ontvang belastinggeld, maar hy lewer nie dienste nie. Toenemende staatsmislukking plaas enorme druk op die paar belastingbetalers om sterwende staatsinstellings aan die lewe te hou. Wil ons dit regtig aan die lewe hou?

Waarom dra ons nog so swaar aan die las van belasting?

Hierdie video is die eerste in die videoreeks, Braaibroodjies en Belasting, vervaardig deur AfriForum Jeug wat beoog om die omstredenheid van Suid-Afrika se hoë belastingkoers te ontbloot en ʼn debat hieroor aan te wakker. Dié videoreeks kan op AfriForum Jeug se YouTube-kanaal gevolg word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: René van der Vyver

René van der Vyver is woordvoerder van AfriForum Jeug. René het haar meestersgraad (cum laude) in Toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het haar navorsingstema, “Kreatiewe Afrikanerkultuurtoerisme”, ontwerp omdat sy passievol is oor die Afrikanerkultuur. René se passie gee egter die toon aan op verskeie gebiede, soos wanneer sy standpunt inneem oor aktuele kwessies op Twitter en YouTube (@realReneKruger).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

sonneblommekie ·

Baie goeie artikel . Dankie!

ABSOLUTE WAARHEID GESPROKE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.