Brand jy af of bou jy?

Deur Helen Zille

Skermgreep uit die DA-advertensie

“In ʼn tyd van bedrog is die vertel van die waarheid ʼn revolusionêre daad,” het Eric Arthur Blair, andersins bekend as George Orwell, die mees insiggewende politieke ontleder van die 20ste eeu, eens gesê.

Hierdie gesegde het my deur dekades van politiek vergesel.

Elke keer as die DA die moed gehad het om ʼn harde, ongerieflike waarheid te vertel, het die kommentariaat van verontwaardiging geween. Dink terug aan ons voorspellings oor kaderontplooiing, SEB, staatskaping, die impak van ons arbeidswette, en natuurlik “Stop Zuma”.

Ons is keer op keer oor die kole gehaal. Ons het ook geblyk reg te wees.

Wanneer die ontleders dit uiteindelik “kry”, herhaal hulle wat ons ʼn dekade vroeër gesê het asof dit ʼn nuwe insig is.

En so sal dit weer wees wanneer hulle die waarheid van ons skerp waarskuwing moet erken dat Suid-Afrika se demokratiese instellings, sowel as ons ekonomie, tot as gaan brand onder ʼn ANC/ EFF/ MK/ PA-koalisie.

Die DA se rol is om alles moontlik te doen om te verhoed dat dit gebeur. Die enigste mense wat die mag het om dit te doen, is die kiesers. Ons het nog drie weke om hierdie punt tuis te bring.

So, wat sou jy doen as jy hierdie harde waarheid met die grootste moontlike impak in ʼn 30-sekonde televisie-uitsending moes oordra? Dit was die vraag waarvoor die DA te staan gekom het toe ons ons brandende-vlag-advertensie bedink het.

Ons het die vlag gekies as die duidelikste simbool van die droom wat ons 30 jaar gelede gedeel het, aan die begin van demokrasie onder president Nelson Mandela. Die vlamme wys hoe sy visie deur 30 jaar van ANC-bewind verwoes is. En ons waarsku dat dit onder ʼn ANC/ EFF/ MK/ PA-koalisie heeltemal uitgewis sal word.

Die 30 sekondes eindig met ons vlag wat tot sy eertydse glorie herstel is met ʼn oproep tot aksie vir elke kieser: “Red SA, stem DA!”.

Hierdie kragtige simboliek het die voorspelde reaksie ontlok.

Moet ons dus enige metafoor of simboliek in ons kommunikasie vermy wat aanstoot of kontroversie kan veroorsaak? Nee! Ons wil oorlog voer teen diegene wat besig is om die droom te vernietig wat eens ons nasie verenig het. Ons wil ons vlag red.

Omstredenheid help om ons boodskap te dryf.

Ons moet kiesers konfronteer met ʼn duidelike keuse: Brand jy af of bou jy? Dit is die kwessie in hierdie verkiesing. Slegs die DA het die durf, ervaring en rekord om die brandstigters te klop.

In 30 sekondes dra ons in die advertensie oor wat 492 woorde geneem het om hier te ontleed. En gratis, sonder dat dit ons enigiets kos, word ons boodskap ʼn hupstoot gegee deur die brandstof van vervaardigde verontwaardiging.

In die woordeoorlog, tot dusver, gaan die prys vir die mees insiggewende opmerking oor “The Flag” aan @riaanafrica, wat op X gepos het: “As jy baie mooi kyk, soos in baie noukeurig, sal jy opmerk dit is ʼn stuk papier en nie ʼn munisipale gebou of ʼn trein nie”.

  • Helen Zille is voorsitter van die DA se federale raad.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

OneWheel ·

Die reaksie op die insident wys maar net weer hoeveel waarde die ANC heg aan vryheid van spraak (wat beteken dat selfs al stem jy nie saam met iemand se opinie nie, jy steeds sy reg om dit te lug, behoort te verdedig). Ongelukkig hou die ANC net van vryheid van spraak indien dit hulle narratief ondersteun.

Republikein in die Wes Kaap ·

Van ons werk aan ‘n alternatiewe bedeling. Ongelukkig weier die DA om saam te werk.

Marthinus W ·

In oorlog, as n militere basis onder aanval is, en die voortbestaan van die basis op die spel is, hang die soldate die vlag onderstebo, om aan te dui dat die basis onder beleg is. Ek sou veel eerder wou sien dat die DA die “onderstebovlag” sou kies, want die DA is self nie onskuldig nie. In Rosettenville, Jhb het hulle Philip Venter vervang met n persoon uit die ryk Glenvista, en n rukkie later verloor die DA toe Jhb. Daar is baie ander simbole wat net so kragtig is.

Petrus Albertus ·

Geen probleem met wat Helen Zille hier verdudielik nie, ek vind dit net vreemd dat Nelson Mandela se “droom” altyd apart van die ANC gestel word. Waarom? Was hy nie die leier van die party nie? Sou ons dr. Malan se “droom” of dr. Verwoerd se “droom” apart stel van die Nasionale Party? Vreemd die sentiment wat mense aan Mandela koppel en dan terselftertyd die party waarvan hy die leier was afkeur.

Retha ·

Ek sou net graag wou sien dat na die brand van die piesang republiek se vlag die oranje blanje blou daar sou verskyn het.

Nettie ·

Goed gestel en baie waar, Petrus Albertus. Mandela was die leier, die gesig EN die hart van die party. Soos altyd, het tyd die waarheid van hom en sy party, die werklike toestand van die hart en siel, uitgewys. Die vrugte van sy boom is nou ryp en dis VROT!

Danie ·

Mev. Zille kan verduidelik soos sy wil. Beskaafde mense brand nie vlae nie. As jou party die verbranding van die landsvlag versinnebeeld of ‘n vlag verbied soos die ANC doen, is dieselfde ding. Dit help nie jy veroordeel die ANC en doen dan dieselfde ding nie. Los asseblief gerus ons vlae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.