Charlize Theron, jy doen ongelooflike werk vir Afrikaans!

Deur David Fensham

Charlize Theron (Foto: Xavier Collin/Image Press Agency/NurPhoto)

Ek het vandag amper aan my boeretroos verstik toe ek oor die radio ʼn baie bekende aktrise hoor sê het dat Afrikaans besig is om uit te sterf. Dat daar net 44 Afrikaanssprekendes, van my soort mense − mense wat dieselfde taal as ek praat, in die wêreld oor is.

Terloops, boeretroos is koffie, Charlize. Jy doop jou beskuit daarin. Soos toe jy nog ʼn kind was in Benoni. Dit doen jy terwyl jy oor die draadloos na bekende kunstenaars soos Koos du Plessis, Laurika Rauch, Johannes Kerkorrel, Theuns Jordaan, Ricus Nel, Bernice West, Steve Hofmeyer of enige van die ander meer-as-44 Afrikaanse kunstenaars luister.

Salig op die oor is my moedertaal. My opregte verskoning aan die ander duisende Afrikaanse kunstenaars wat ek uitgelaat het: die publikasie laat net vir my ʼn beperkte aantal woorde om my sê te sê.

Op ʼn goeie dag weet ek darem ook nou al vir ʼn geruime tyd dat ek op die drumpel staan van my 44ste verjaarsdag, so die ironie én nagevolge om 1 van 44 eiesoortiges te wees, het my nie ontgaan nie.

My eerste gedagte was om die kalender te gaan opsoek en seker te maak ek bevind my nie in ʼn soortgelyke situasie soos oom Leon Schuster in Sweet ʼn Short nie. Helaas, toe nou nie.

Dit was gister 17 November 2022. Ek het nie my kop gestamp en in die toekoms wakker geword nie. Ek sal vir altyd die datum onthou. Dit is die dag wat ek iemand groter twak hoor kwytraak het as die huidige ANC-regering. Dít gebeur amper nooit nie, dit daar gelaat.

Om te sê daar is net 44 mense wêreldwyd oor wat Afrikaans magtig is, is soos om te sê al 44 Amerikaanse state het vir Donald Trump gestem, of al 44 Afrika-lande gaan binnekort dieselfde geldeenheid gebruik, of mense word met 44 tande gebore. All Gold gebruik 44 tamaties in hul tamatiesous. Koningin Elizabeth het vir 44 jaar regeer. Jacob Zuma het 44 kinders.

Uit die aard van die saak is nie een van bogenoemde stellings waar nie (ons vermoed Jacob het meer kinders). Anders sou ons geagte minister Nzimande mos ook gefouteer het om Afrikaans onlangs as ʼn erkende inheemse taal te verklaar het? Hoe kan hy so iets doen as die taal binnekort heeltemal gaan uitsterf?

Om te sê daar is net 44 mense wêreldwyd oor wat Afrikaans magtig is, is om die nalatenskap van Boerekrygers wat vir hul taal en land gesterf het in die Boereoorlog, te ontken. Om die ontberinge te ontken van gesinne en families wat kaalvoet oor die Drakensberge getrek het, opsoek na ʼn beter toekoms weg van Engelssprekende onderdrukkers. Meer onlangs om die werk van organisasies soos AfriForum en Solidariteit te ignoreer.

Hoekom sou hulle ʼn universiteit bou net vir 44 mense? Hemel, ek is seker nie almal van hulle wil werklik weer (of nog) student wees nie!

As daar net 44 Afrikaanssprekendes was, sou daar doodse stilte wees oor die voorgestelde naamveranderinge met betrekking tot die Afrikaanse Taalmonument – daar was nie. Daar was ongekende druk uit verskeie oorde wat dit teengestaan het. Afrikaans het weer begin ontwaak.

Ons kan van twee kante na me. Theron se stelling kyk en probeer vasstel hoekom sy so kontroversiële stelling sou wou maak. Onwillekeurig dink ek dat sy dalk in die nabye toekoms ʼn fliek gaan bekendstel en blootstelling dringend nodig het. Sy het lanklaas ʼn goeie fliek gemaak. Vandag het sy egter gemaak dat baie haar gevloek het. Enige blootstelling is egter goeie blootstelling in haar bedryf.

Die ander vermoede het by my ontstaan dat sy heimlik met ʼn organisasie soos die FAK, ATKV of Rapportryers saamwerk (verskoon my asseblief dr. Langner vir my volgende woorde, maar ek sal spoedig verduidelik waarnatoe ek beweeg met hierdie stelling).

Alhoewel hierdie al te veel na ʼn samesweringsteorie klink, behels hierdie samewerking dan juis om die Afrikaanse mense goed kwaad te maak sodat hulle vir ʼn slag kan saamstaan en veg vir hulle taal. So eintlik moet ons dankie sê vir me. Theron – sy kry dit reg om die Afrikaanssprekendes deur die bank te verontwaardig en terselfdertyd juis die klem op Afrikaans se groei te plaas. As die teorie waar is, het dit beslis gewerk.

Daar word gelukkig dan sommer onmiddellik die spot gedryf met me. Theron se gewraakte uitlatings. Die Afrikaner laat nie op hom wag om die beste van ʼn slegte situasie te maak nie. Feite oor die ontstaan van Afrikaans en hoeveel mense deesdae die taal praat, is volop. Ons moet dankie sê vir tegnologie. Dit is ook nie die punt wat ek wil maak nie. As daar net 44 Afrikaanses oor is, wat soek duisende mense jaarliks op 16 Desember by die Voortrekkermonument, Bloedriviermonument en ander terreine? Sekerlik nie die Engelse wat opruk om een of ander veldslag te herdenk nie?

Jy moes onlangs die 44 mense by Afrikaans is Klein se konserte in Tannie Hanna se agtertuin beleef het! Die organiseerders het miljoene spandeer om kunstenaars op te lei om woorde te “lip-sync”. Gelukkig het die geld van ʼn reuse-tender gekom om die uitsterf van die taal te verhoed. Elke sent van die R44 miljoen wat gespandeer is, was die moeite werd.

Sy het ʼn swak stelling gemaak en ons probeer verkleineer, maar as daar nou een ding is wat jy nie doen nie, is dit om vir ʼn Afrikaner te sê hy praat ʼn baster taal. Dit maak van hom die onderdorp se hond (“underdog” vir die wat nie Afrikaans verstaan nie). ʼn Afrikaner gooi nie handdoek in as hy eers dit genoem word nie.

Charlize, jy vergeet heeltemal te maklik waar jou wortels lê. Dit is ongelooflik dat ʼn taal so vinnig agteruit gegaan het in die kort tydjie wat jy oorsee jou heil gaan soek het? Jy laat dit klink amper asof jy die behoeder was van Afrikaans? Dat dit begin uitsterf het toe jy landuit is? Hoe moeilik moes dit nie vir jou gewees het, toe jy verengels het en Afrikaanse woorde vir jou flieks van vooraf moes leer nie?

Ander Afrikaanse akteurs wat dit al groot gemaak het in Hollywood, het lig gesien en wel terug gekom Suid-Afrika toe. Hulle moet sekerlik tel onder die 44 wat jy uitgesonder het? Een van hulle het toevallig ʼn Afrikaanse reeks vir Netflix gemaak. Hoe dom van Netflix om reekse te ontwikkel vir ʼn gehoor van slegs 44? Absolute mors van geld. Geen wonder hul inkomste is aan’t taan nie…

Onwillekeurig flits Spur en Dis-Chem se handelsmerke deur my gedagtes as voorbeelde wanneer daar op ʼn sekere groepering se regte getrap word. Jy sal mos nie daarvan weet nie. Dis egter nie net wit mense wat Afrikaans praat nie en mense wêreldwyd lééf in Afrikaans. Mense leer tot Afrikaans oor die internet in Rusland!

Trots Afrikaanse handelsmerke is volop. Die taal groei, jongmense soek ʼn tuiste waar hulle hul taal kan uitleef sonder om polities verdruk te word. Jy, Charlize, het vandag daardie slapende reus genaamd “soeke na ʼn Afrikaanse identiteit” wakker gemaak.

Ek dank jou daarvoor. Jy is ongelooflik! Dwaas, maar ongelooflik!

  • David Fensham is ʼn Rapportryerraadslid van Noord-Wes.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

CA ·

Dis ‘n ou uitgestorwe afrikaanse woord wat deur net omtrent 13 uit die 44 gebruik word

Jan Seerot ·

Ja-nee, die ligte-diens korps van die Groot Trek. Ons (die 44) verwag nie dat julle doer anderkant (nie Doer Onder nie) so iets sou weet nie.

Lily ·

Dit is wanneer jy so goed gedoen het in jou eksamen, die hoof ry met jou rapport na jou ma se huis vir persoonlike aflewering.

Windhond ·

Iemand wat die einde van die kwartaal jou vorderings dokument gaan haal – gewoonlike n baie kwaad pa of ma

Nettie ·

Pragtig geskryf! Dankie David. Ek het nou lekker gelees (en gelag). En stem saam. Al die teenkanting maak dat ons net sterker en sterker word!

Barend ·

Eintlik is dit 45, ek meng nie juis met haar nie, so sy kon my gemis het. Haar smaak is baie duurder as ek.

Goldy ·

Al wat sy probeer sê het is dat daar nog net 44 afrikaanse klante by dischem oor is.

trotsNAMSA ·

My dag is gemaak deur dié dame
wat soos baie Afrikaners nie weet wie en wat hul taal beteken nie. Ons praat Engels met mede Afrikaanssprekendes en meng ons taal. Luister na “Afrikaanse sangers” ensovoorts . Ken jy jou oorsprong ? Waarom Engels gebruik as jy Afrikaans is ? Engels is vir my ‘n taal wat ek net gebruik as ek moet. Ek is Afrikaans en maak elke dag ‘n punt daarvan om Afrikaans te praat, te doen en te bid. Afrikaans sal nie “weggaan” nie, solank ons suiwer Afrikaans met ons mede Afrikaners deel. Afrikaans is meer as ‘n taal, dit is ‘n leefwyse. Namibië het ook Afrikaanssprekendes en hul Afrikaans is suiwerder as dié in SA . Ek is ‘n Namibiër /
Suid-Afrikaaner. My familie is Afrikaans soos my voorvaders. Vergeet van dié wat hul land verlaat en dan vir ons kom vertel wat in SA/Namibië gepraat word.
Fluit , fluit my storie is uit.

Andre ·

Sy kan net vieslik vloek in AFRIKAANS bly daar waar jy hoort tussen die liberaliste !!!

Emily ·

Sy is so behep met haar status, dat sy vergeet Sy is in SUID AFRIKA as n afrikaner gebore. Hoop sy bly waar sy nou is. Ons land het nie mense soos sy hier nodig nie.
44 Afrikaans sprekende mense, Ai tog poplap my hart bloei vir jou en jou hoogmoed, want klink behoorlik of jy neersien op jou eie land en taal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.