Die beskerming van staatsinligting en ons demokrasie

Sommige waarnemers beweer dat die aanvaarding Dinsdag van die wetsontwerp oor die Beskerming van Staatsinligting die einde van ons demokrasie in Suid-Afrika sal beteken. Dit is nie die geval nie – maar daar bestaan ander verwikkelinge wat myns insiens ʼn veel groter bedreiging vir ons nie-rassige demokrasie inhou.

Die Beskerming van Staatsinligtingswetsontwerp wat gister aanvaar is, is ʼn aansienlike verbetering op die oorspronklike wetsontwerp. Ingevolge die eerste weergawe sou die staat feitlik enige inligting kon klassifiseer. Die nuwe definisie is op veiligheidsinligting toegespits – en veral ten opsigte van die oordrag van staatsinligting aan vreemde moonthede. Die hof het nou ook ʼn diskresie om ʼn mindere vonnis te bepaal as die drakoniese vonnisse waarvoor die wetsontwerp nog steeds voorsiening maak. Die probleem, volgens regskenners is dat daar nog geen voorsiening vir ʼn “openbare belang” verdediging is nie. Die eintlike vraag is of, ingevolge die nuwe wetgewing, dit nog moontlik vir koerante soos die Mail & Gaurdian sal wees om die tipe onthullings oor die wapentransaksie te maak soos wat hulle onlangs oor mnr. Mac Maharaj gemaak het.

Die demokratiese proses ten opsigte van die wetsontwerp is ook nie afgehandel nie. Dit kan nog ingevolge artikel 80 van die Grondwet na die Grondwetlikehof verwys word – mits die opposisie partye die nodige een derde van die stemme in die Nasionale Vergadering kan inpalm. Die nuwe wet sal op een of ander wyse in die Grondwetlikehof beland – en die hof sal besluit of dit wel ʼn bedreiging vir ons demokrasie inhou, of nie.

Trouens, dit lyk vir my dat ons demokrasie redelik goed gefunksioneer het in die manier waarop dit die wetsontwerp benader het: die burgerlike gemeenskap het ʼn aktiewe en doeltreffende opposisie rol gespeel; politieke partye het elke artikel van die wetsontwerp in die Ad-Hoc Komitee onder die vergrootglas geplaas; die media het die publiek oor die gevare van die wetgewing ingelig; die regering het ʼn baie beter produk ter tafel gelê – en uiteindelik sal die howe besluit of die wet grondwetlik is.

Daar is ander bedreigings teen ons demokrasie wat na my mening veel ernstiger is. Die ergste is die ideologieë van die heersende alliansie naamlik die Nasionale Demokratiese Revolusie van die ANC en die Marxistiese-Leninistiese ideologie van COSATU en die SAKP. Die NDR-visie van ʼn staatsbestel waar alles deur ras, binne die raamwerk van demografiese verteenwoordiging, bepaal word, kan glad nie met die nie-rassistiese en multikulturele visie van die Grondwet versoen word nie. Die COSATU/SAKP-visie van werkershegemonie en die instelling van die diktatuur van die proletariaat is uit die aard van die saak heeltemal teenstrydig met die kernbeginsels van ons – of enige werklike – demokrasie. Dit is uiters ondemokraties dat ʼn afsonderlik geregistreerde politieke party soos die SAKP min of meer 80 LVs het – sonder die steun van ʼn enkele kieser. Die SAKP behoort verkiesings onder sy eie vaandel te beveg – of die ANC moet toekomstige verkiesings onder die vaandel van die drie-ledige Alliansie voer.

Die tweede is die grondwetlike wysiging wat stil-stil agt jaar gelede aanvaar is en wat aanleiding tot artikel 47 (3) (c) gegee het. Volgens hierdie artikel verloor LVs hul lidmaatskap van die parlement indien hulle hul lidmaatskap van die politieke party wat hulle benoem het, verloor. Dit gee politieke partye absolute beheer oor hul lede in die parlement en beteken dat LVs nie aan die kieserskorps wat vir hulle gestem het, aanspreeklik is nie – maar eerder aan hulle politieke base. Dit het geweldige implikasies in ʼn dominante party demokrasie soos Suid-Afrika. Dit beteken dat alle werklike besluite oor leierskap en beleid nie in die parlement nie – maar eerder by die ANC nasionale konferensies gemaak word. Dit verminder die rol van die parlement tot die spreekwoordelike rubberstempel.

Die derde is die uitspraak van die Grondwetlikehof in Minister van Finansies teen Van Heerden (2004) wat min of meer bepaal het dat feitlik enige diskriminasie teen wittes ingevolge artikel 9(2) – om gelykheid te bevorder – billik en dus toelaatbaar is. Die Hof het die beskerming teen onbillike diskriminasie in artikels 9(3) en 9(5) eenvoudig geïgnoreer. Die enigste beskerming wat dit oorgelaat het, is soos volg gestel:

“In particular, a measure (ingevolge 9(2)) should not constitute an abuse of power or impose such substantial and undue harm on those excluded from its benefits that our long-term constitutional goal (om diversiteit en ons gelykheid as burgers te bevorder) would be threatened.”

Ten spyte van hierdie bedreigings – en ten spyte van die aanvaarding van die Beskerming van Staatsinligtingswetsontwerp – is Suid-Afrika nog altyd ʼn redelike sterk en funksionerende demokrasie. Daar is egter geen ruimte vir selfvoldaanheid nie: die prys van vryheid bly ewige waaksaamheid.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dave Steward

Meer oor die skrywer: Dave Steward

Dave Steward is Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting en voormalige ambassadeur van Suid-Afrika by die Verenigde Nasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae