Die feniks Afrikanerkultuurkind

Deur Rineé Pretorius

‘n Illustrasie van die mitiese Phoenix deur Victor Hugo (Foto: Pierre Pitrou / Photo12 via AFP)

Wie op die aarde is ek? En wie is jy?

Wat is en wie presies bepaal identiteit?

Hoe lyk ʼn Afrikaner? Hoe lyk ʼn Afrikaner-jongmens?

As gelowiges word ons identiteit eerstens bepaal deur God. In hierdie opsig bepaal ons identiteit dat ons hooftaak is om God hier op aarde te verteenwoordig. Ons is geanker in Hom uit wie se hand, en vir wie ons leef.

In die tweede plek het die Here dit so beskik dat ek en jy juis hiér, op Afrikagrond, onder die ongenaakbare Afrikason, geplant is en hiér vir Hom moet ambassadeurs moet wees.

In die derde plek is ons bevoorreg om aan die ontvangkant van ʼn baie ryk en besonderse Afrikanerkultuur gebore te wees.

Die vraag ontstaan oor hoe ons as Westerlinge die Here se ambassadeurs is en behoort te wees hier aan die suidpunt van Afrika.

Dit is omtrent ʼn veelkantige vraag en laat ʼn mens wonder of hierdie konsepte werklik versoenbaar is?

Om die prentjie verder te kompliseer kan gevra word wat Afrikanerwees vir die jong mens van vandag, in 2022, beteken.

Taal, wat simbolies is tot kulturele identiteit, speel ʼn deurslaggewende rol in die eenrigtingoordrag van kultuur (en ook dus identiteit) van een geslag na die volgende. Hierdie oordrag van kultuur vind plaas in die konteks van familie, in sosialisering met ander wat jou kultuur met jou deel, in onderrig, in kulturele instellings en kuns en vorm tot ʼn groot mate ons gedrag en oortuigings.

Ongelukkig is dit so dat hierdie kanaal van kulturele oordrag in die laaste dekades toenemend nouer, en die vloei daardeur flouer, geraak het as gevolg van politieke omstandighede en sosiale veranderinge.

Met elke geslag word minder en minder oorgedra. Met elke dekade lyk dit asof ons kultuur verarm en vermaer het en gaar ons geskiedenis en hul helde stof op in donker biblioteke.

Ten einde te verseker dat Afrikanerkultuur ook vir die volgende geslagte behoue bly, is dit broodnodig dat die Afrikanerjeug se identiteitsbewustheid afgestof en opgeskerp word.

Waarom? Want die vorige geslagte kon help vorm gee aan ons kultuur en identiteit. Dit is in die hande van die Afrikanerjeug, die skakel tussen ons en die Afrikaner se toekoms, om hierdie kosbare skat met sorg te bewaar, te poets, en dit weer verder aan te gee.

Maar…

Dit wil voorkom asof die jong geslag onseker is oor wie hulle eintlik is. In plaas daarvan om die lewe selfversekerd in hul identiteit en gewortel in hul kultuur aan te pak, dobber hulle rond in die mengelmoes en tussen die teenstrydighede. Teenstrydighede van wie hul ouers sê hulle is, wat die geskiedenisboeke op ouma se boekrak sê hulle is, wat die skoolkurrikulum hulle vertel, hoe die samelewing na hulle kyk en wat die media oor hulle sê en skryf.

Hoe ook dan anders as hul kulturele selfbeeld verwoes is deur die propaganda van ʼn vyandige owerheid, soos ʼn kind wat jare lank aan emosionele verwaarlosing en mishandeling blootgestel is.

Dít is ons mishandelde, vermaerde, Afrikanerkultuurkind.

Kan jy in jou geestesoog sien hoe hierdie Afrikanerkultuurkind hoopvol, maar stadig opstaan? Voel jy haar vraende, smekende blik?

Afrikaner-jongmens: Sal jy haar aan haar hand neem? Die beledigings van haar gesiggie afvee? Haar skaaf- en kneusplekke behandel?

Kom ons moedig mekaar aan om die leuens wat sy glo oor wie sy is te vervang met waarheid deur aan haar te verduidelik wie sy is; deur haar op ons skoot te tel en te vertel wie haar voorouers was en wat hul vermag het; deur haar te laat verstaan dat sy nie alleen is nie; deur haar te koester en aan haar te wys hoe kosbaar, waardevol en uniek sy is.

Sy is nie wees nie, sy behóórt. En sy hoort hiér. Nes ek en jy.

Ten einde hierdie Afrikanerkultuurkind egter te kan laat verrys soos die spreekwoordelike feniks uit die as, is dit eerstens nodig dat ons verstaan wie ons is. Ons as Afrikanerjeug moet eers self uitmaak wie ons is, oortuig wees van ons identiteit, trots wees daarop en dit nie deur ander laat bepaal nie.

Ons moet dit omhels en dit lééf. Daardeur sal ons eie kulturele selfbeeld weer herstel word sodat ons immuun kan wees teen die aanslae van die vyandige omgewing rondom ons.

Dan sal ons onsself minder verag en toenemend meer van onsself verwag.

Dan sal ons die hand na ons Afrikanerkultuurkind kan uitsteek en haar kan bevry van die knellende toue van politiek en propaganda.

Mag ons die voorreg smaak om haar te sien genees. Mag ons daar wees wanneer sy vol selfvertroue, self ʼn toekoms uitveg, uitbou en uitpresteer. Dit, met die dryfkrag van moedersinstink en ʼn droom na ʼn vry, voorspoedige toekoms vir haar nageslag, hier aan die suidpunt van Afrika.

Vir lank reeds is daar nie meer ʼn magtige dreuning wat oor die veld aangesweef kom as teken van ʼn volk se ontwaking wat harte laat sidder en beef nie.

Maar hoor jy dit?

Hoor jy die sagte geritsel? In die wind kom dit aangesweef. Dit is die klank van ʼn volk se verrysing wat harte aanraak en agting laat beleef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.