Die gekweste beer

Pres. Wladimir Poetin
(Foto: Pavel BEDNYAKOV / POOL / AFP)

ʼn Gekweste beer is ʼn gevaarlike beer. Vra maar enigiemand wat al bere in plekke soos Alaska gejag het. Meer mense is al deur gekweste bere in Alaska gedood as mense wat in enige gewone aanval deur ʼn beer omgekom het. ʼn Gekweste beer is onvoorspelbaar en bereid om veel meer risiko’s op die aanval te neem as ʼn ongekweste beer.

Wat die afgelope drie dekades met Rusland gebeur het, is die verhaal van die gekweste beer. Wladimir Poetin se neo-imperialisme en sy oorloë in onder meer Tsjetsjnië, Georgië, die Krim-skiereiland en nou die Donbas in Oekraïne, is die tipiese optrede van ʼn vasgekeerde en gekweste beer.

Die Britse historikus en skrywer Niall Ferguson waarsku reeds vir jare oor die bestanddele wat tans wêreldwyd saamgeroer word en wat tot ʼn Derde Wêreldoorlog kan lei. Twee weke gelede waarsku Ferguson dat die toenemende samewerking tussen drie geïsoleerde, vervreemde magte, naamlik Rusland, China en Iran, die wêreld gevaarlik vinnig in die rigting van ʼn enorme oorlog kan laat afstuur.

Verlede week het die Franse president Emmanuel Macron verklaar dat Europa ʼn bestaanskrisis kan betree met ʼn militêre oorlog teen Rusland aan die een kant, en ʼn ekonomiese oorlog teen China aan die ander kant.

Die afgestorwe Amerikaanse diplomaat Henry Kissinger het in 2019 gewaarsku dat ʼn nuwe Koue Oorlog met China aan die ontwikkel is. Teen 2022 het Kissinger gesê dat sodanige Koue Oorlog reeds besig was om te verdiep. Dat die Chinese regering, en spesifiek die Kommunistiese Party, ernstige skuld dra aan die breuk tussen China en die Weste, die wantroue in Chinese handels- en ander beleid en ernstige vrae oor Chinese militêre aspirasies in die Suid-Chinese See en selfs verder, is ʼn feit.

Tot so onlangs as ʼn dekade gelede was daar byna wêreldwye konsensus dat China besig was om die grootste supermoondheid te word en dat China binne enkele jare die VSA ekonomies, polities en militêr sou verbysteek as sterkste en invloedrykste globale mag. Vandag lyk die prentjie anders. China se bevolking krimp, die land ondervind ʼn binnelandse skuldkrisis en daar moet vir trae plaaslike vraag opgemaak word deur verhoogde uitvoere van toenemend gesubsidieerde produksie. Dit is nie volhoubaar nie.

Jaco Kleynhans, die Solidariteit Beweging se hoof van internasionale skakeling. (Foto: Verskaf/Jaco Kleynhans)

China is egter steeds ʼn baie belangrike moondheid, en die Koue Oorlog tussen die Weste en China is steeds besig om te verdiep wat toenemende risiko vir die hele wêreld inhou. Daarmee gepaardgaande word Rusland en China by die dag sterker bondgenote, iets wat enkele jare gelede ook onwaarskynlik gelyk het.

Kissinger het in 2022 gewaarsku dat die huidige Koue Oorlog tussen die Weste en China gevaarliker gaan wees as die Koue Oorlog tussen die Weste en die Sowjetunie. Verlede week skryf Ferguson dat verskeie proksie-oorloë, soos tussen Israel en die Palestyne, of tussen die Houthi-rebelle en die Weste, of selfs die opbouende spanning tussen China en Taiwan, of China en die Filippyne alles tekens van die Koue Oorlog is.

Sou China uiteindelik, net soos Rusland, verder geïsoleer, en selfs ekonomies gekwes raak, kan China selfs gevaarliker as Rusland raak. Dié twee saam in ʼn stryd teen die Weste voorspel groot gevaar. Daarom is ʼn nuwe orde van globale magsverhoudinge dalk nodig. Indië se pleidooi vir ʼn multi-belyningsbenadering in globale verhoudinge, eerder as ʼn klein groepie strydende supermoondhede wat instellings soos die Verenigde Nasies oorheers, maak sin.

Intussen moet ons aanvaar dat die risiko vir ʼn globale stryd met Rusland en China wat nouer saamwerk daagliks groter word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Manie ·

Wat sal ‘n mens Amerika se oorloë in Viëtnam, Korea, Irak, Afganistan, Somalië, Libië, Sirië, Yemen, Niger, tans in die Midde Ooste en Oekraine en nog vele ander streke dan noem?

Toergids ·

Rusland het drie dinge wat die demokratiese Weste nie het nie, tyd, ruimte en mannekrag. Napoleon en Hitler het beide in die slaggat getrap. Die Weste is stadig maar seker besig om ook die fout te maak, met ongeveer 500,000 man verliese, is die voormalige rooi leer maar nog net aan die opwarm. Stalin het destyds gesê, ”een sterfte is ‘n tragedie, ‘n miljoen is ‘n statistiek”

Mari ·

Rusland het probeer om ‘n skikking vir baie jare te onderhandel: In 1990: “Not one inch Eastward NATO”, Minsk 1, Minsk 2, Desember 2021 April 2022. Die Weste se leiers is vermetel.

Mari ·

@Manie,
America always claims to defend human rights in order to justify its acts of aggression. Their actions are always given a pleasant name in order to encourage public support.
“Operation enduring freedom” was the virtuous name given to the unjust invasion of Afghanistan.”Operation Iraq freedom was the angelic tittle for the brutal invasion of Iraq,”operation unified protector” was the fancy name for the destruction of Libya. The guardians of the universe can do no wrong,since they always fight for “freedom and democracy”

Republikein in die Wes Kaap ·

Geen moontheid wil in ‘n oorlog betrokke raak nie. Daar gaan nie ‘n enkele wenner wees nie. Amerika lyk sterk, maar die weermag sukkel om soldate te werf. Niemand daar wil êrens in die vreende sterf nie. In die lugmag is daar nou vier vegvliegtuie en bomwerpers vir elke vlieënier. Europa wemel ook nie juis van jonges nie. Poetin en Zelenski weet dat interne opstande hul voorland is. Gewone Russe wil ook nie in isolasie leef nie. China se brawe soldatjies kom uit een-kind huishoudings. Jonges besef hulle moet eendag vir hul ouers en grootouers sorg. Dieselfde in Japan en Suid-Korea. Amerika se linkse vennote in Navo is ‘n probleem. Skop hulle uit en dit sal beter gaan.

Mari ·

@Republikein,

Jy verstaan nie, Amerika maak BAIE GELD uit oorloë uit.

chris ·

Ja die wapen industrie moet ook ‘n opbrengs lewer vir sy beleggers.Verder word geld gewas deur die oorloggeteisterde lande soos die Ukraine ten koste van die belastingbetaler en tot voordeel van die Oligarchs.

Manie ·

@Mari, ek stem saam met jou, the united snakes of america is soos die honde van die bo-dorp. Hulle hou nie daarvan as ‘n hond van die onder-dorp hulle byt nie.

Pieter ·

Ai dis jammer om al die kommentaar te lees, dit laat my hoop verloor vir my mede Afrikaner.

@Manie van daardie oorloë is onverdedigbaar van hulle het ‘n goeie rede gehad en van hulle het ‘n goeie rede gehad maar die metodes wat Amerika gebruik het is nie regverdigbaar nie. Wat is fout met Amerika wat ‘n land soos Suid Viëtnam help, hulle het daarvoor gevra en hulle is aangeval. Selfde met Korea, dit lyk nogal of Suid Korea vandag goed vir hulself doen veral in vergelyking met die noorde.

@Mari waarom dink jy jou buurland het enige sê in die militêre alliansies wat ‘n volledige onafhanklike staat met ander state sluit. Dis maklik om vinger te wys na Amerika en te sê kyk wat maak hulle, jy is reg hulle het foute gemaak hulle is ook mense. Maar jy gaan meer van ‘n argument moet gee as “kyk juffrou hy het dit ook gedoen” om my te oortuig dat dit reg is dat Rusland ‘n ander onafhanklike staat inval omdat Rusland nie van hul buitelandse beleid hou nie. Soos my liewe hemel sien jy nie die gevaar wat dit kan skep as dit die norm word nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Mari, jy is reg. Maar sodra hulle eie seuns se bloed êrens in die vreemde vloei begin openbare sentiment vinnig verander. Trump se manewales in Washington sal soos kinderspeletjies lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.