Die Here het my mooi gemaak

Prof. Johan Janse van Rensburg.

Deur prof. Johan Janse van Rensburg

Daar is deesdae so baie Afrikaanse sangers dat ʼn mens nie kan tred hou nie. Alles val ook nie juis in ʼn mens se smaak nie. Daarom luister ek maar met ʼn halwe oor wanneer nog ʼn “splinternuwe” opname aangekondig word.

Onlangs tref ʼn nuwe liedjie van Bernice West my oor. Sy is natuurlik vreeslik oulik en het ʼn goeie sangstem. Nie soos in opera nie, maar uitstekend vir lekker luister. En sy sing “Die Here het my mooi gemaak. Hy’t my baie mooi gemaak”.

Die ritme is aansteeklik en die bewegings dalk net te verleidelik vir ʼn geestelike liedjie. Omdat ʼn teoloog oor alles wil nadink en ondersoek instel, het my fokus onmiddellik na die Bybel verskuif. Wat moet ʼn mens van dié oulike liedjie vanuit ʼn Skriftuurlike perspektief sê? Ek motiveer myself om ondersoek in te stel omdat ek in die verlede te doen gehad het met gelowiges wat hewig ontsteld was oor die woorde van populêre liedjies. Ek het destyds gedink dit was onnodig en ek oordeel dieselfde oor Bernice se nuwe liedjie.

Is dit reg om te dink of te sing dat die Here jou mooi gemaak het? Die gedagte stem inderdaad met die sentiment van Psalm 139:14 ooreen: “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed”.

Die psalmdigter juig dat hy kunstig in die moederskoot geweef is. Hoé kunstig en wonderlik kan ʼn mens se verstand nooit ten volle begryp nie. Bernice wys na haar kop, haar lyf en haar voete wat op die ritme reageer. Dit verteenwoordig die hele menswees in al die wonderlike aspekte. Saam met die psalmdigter behoort ons ook in bewondering te sing.

Die klem is dan nie op die “ek” wat so mooi en wonderlik is nie (onthou dat Paulus teen ʼn opgeblase selfbeeld in Romeine 12:3 waarsku), maar die lof kom God toe omdat sy skeppingswerk so asemrowend mooi en goed is. Goed ja, want toe die Skepper terugskouend na die mens en sy hulp kyk, het Hy dit baie goed gevind (Genesis 1:31).

Die liedjie verklaar die sanger se behoefte om voor die Here te dans om aan Hom die eer te gee vir sy wonderlike skepping. Baie ouer en preutse gelowiges sal dalk voel dat die ritme nie by so ʼn  lofprysing pas nie. Ek het egter onmiddellik onthou dat Dawid voor die ark van die Here gedans het en Migal, Saul se dogter, dit gesien en Dawid verag het (2 Samuel 16:16). Die Here het egter Dawid se lofbetuiging aanvaar en haar gestraf.

Tot sover die vreugde, wonder ek: “Hoe sal iemand wat met liggaamsgebreke gebore is, of met organiese defekte die lewe moet trotseer, oor die woorde van die liedjie voel? ʼn Mens hoor van hartverskeurende tragedie in die lewe van kinders, ouers en bejaardes wat met allerlei liggaamsgebreke (sommige waarvan ons nog nooit eers gehoor het nie) lewenslank moet worstel.

Weliswaar is daar wonderlike en inspirerende stories van mense wat sonder arms en bene gebore is en besluit het om voluit te leef. Hulle getuienis word in video’s die hele wêreld deur versprei. Hulle kry dit reg om nie teenoor die Skepper verbitterd te wees nie en nie aan depressie oor te gee nie. Duisende ander is nie so gelukkig nie. Hoe moet ons troos en wat moet ons sê as hulle vra: “Hoekom het die Here my nie ook mooi gemaak nie?”

Te midde van die vrolikheid en die oulikheid van die liedjie kom ons in die sentrum van die moeilikste teologiese vraag te lande waaroor boeke geskryf is en formidabele teoloë gestotter het. Is God die outeur van die kwaad in die wêreld? Sommige het selfs gewonder of daar nie ʼn skadukant in God se Wese is nie.

Dadelik “nee”. Die Skrif verkondig dit op so baie plekke en maniere dat God absoluut heilig en goed is. Hy is nie die outeur van die kwaad en sonde in die wêreld nie. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (art. 1) sê tereg dat God die aller-oorvloedigste bron is van alles wat goed is.

Het God dan nie mense gemaak wat nie kan of wil sê dat God hulle mooi gemaak het nie. God is en bly die Skepper, ook van hulle wat nie “mooi gemaak” is nie. In die Paradysverhaal het God gewaarsku dat die verbode vrug die vernietigingsmag het om die dood mee te bring.

Paulus skryf: “Die loon van die sonde is die dood” (Romeine 6:23). Die effek van die sondeval is die gebroke wêreld waarvan Romeine 8:18-25 skryf, dat die aarde in barensnood is en na die geboorte van die nuwe wêreld smag. Wanneer die Satan met die skepping inmeng en sonde en leed, geweld en haat, ongeluk en trane veroorsaak, kom die Gees van God (die Trooster) om met die herskeppende werk reeds hier op aarde te begin. So kry ook die ongelukkiges die innerlike krag om te midde van hartseer en gebreke mooi te wees en ʼn getuienis te lewer.

Alles in ag genome, luister ek graag wanneer Bernice met haar vrolike lewensblyheid en mooi sangstem eer aan die Skepper bring. “Die Here het my mooi gemaak. Hy’t my baie mooi gemaak”. En in die video dans klein kindertjies en selfs volwassenes saam!

  • Johan Janse van Rensburg is reeds meer as 40 jaar ’n NG Kerk-predikant. In 1994 het hy ook ’n pos aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van die Vrystaat aanvaar waar hy 16 jaar praktiese teologie doseer het. Hy het drie doktorsgrade verwerf by Stellenbosch, Unisa en die UV.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Groen Ghoen ·

“Inderdaad” om vir Dawie Roodt aan te haal. Dalk is dit beter om op te hou met derms uitryg oor die lewe, en die wonder daarvan net elke oomblik te geniet?

WILLEM ·

Voorwaar die Here het ons almal mooi gemaak. Wonder soms hoekom mense hulle lywe so mismaak met Tato’s, ooral op hulle lywe??

Susanna ·

Dit hang af van hoe mens daarna kyk. As jy na Bernice se video kyk en wellustige gedagtes het ipv dankbaarheid teenoor God, lê die probleem by jou.
Ek voel dankbaarheid teenoor my Skepper dat ek wel nog, met pyne, my dag take kan verrig

Elizma ·

As mens alles in die lewe altyd moet analiseer, gaan daar niks mooi oorbly nie. Gaan kyk na die video op Facebook van Bernice en haar liedjie met die krulkoppie in ‘n rolstoel en analiseer dan weer. Ons kleindogter is nou ‘n jaar en 9 maande oud en as daardie liedjie speel dans sy. Sy wys haar koppie en weet waar is haar voetjies. Die kinderlike onskuld duidelik sigbaar, daar word nie gesoek vir vulgêre bewegings nie, daar word nie gedink dis net Bernice wat mooi gemaak is nie, elkeen wat die liedjie sing dank God omdat Hy “my” mooi gemaak het. Ek het ‘n “geremde” dogter wat altyd vir my sê: “as dit is hoe die Here my gemaak het, ken ek nie iets anders nie en kan ek nie begeer om anders te wees nie!” Dankie Bernice West vir jou pragtige liedjie!!

Peet ·

Ja nee, die ou oordink seker alles in sy lewe. “Analysis paralysis”! Dis net n mooi liedjie Prof met n lekker ritme. Soos Cliff gevra het: Why must the devil have all the good music?! Niks wat sy sing is om enige iemand te na te kom nie. Dis n lekker voel liedjie. Punt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.