Die Kaap lyk dalk Hollands, maar is hy staatsbestand?

Foto: Kaapstad. (Zoe Reeve / Unsplash)

Deesdae word die term semigrasie al hoe meer tydens gesprekvoering oor die kontras tussen die Kaap en die res van Suid-Afrika gebruik. Baie mense glo dat die Kaap, onder die bestuur van die DA, rooskleurig is, of soos die ou spreekwoord lui “Hollands” is.

Maar is die Kaap staatsbestand? Die Vrystaat, anders as die Kaap, is weer vir al die verkeerde redes op almal se lippe. Dié provinsie word jaar na jaar as die swakste provinsie in die land aangewys. Die Vrystaat het die afgelope paar jaar ʼn totaal van 0% skoon oudits vir al sy munisipaliteite gekry. Slegs 41 van Suid-Afrika se 257 munisipaliteite het wel skoon oudits ontvang, maar kom ons delf dieper in die uitdagings waarmee Vrystaters gekonfronteer word.

Dink byvoorbeeld aan paaie waar jy moet oppas om die teer raak te ry. Die slaggate (of slote) is op baie plekke breër as die teer wat nog van die pad oor is. Dink aan dorpe wat weke sonder water sit omdat die munisipaliteit versuim om vir die chemikalieë te betaal om die water te behandel. En dink aan raadslede wat spoggerige motors ry, terwyl Vrystaters selfs nog meer beurtkrag moet verduur as gevolg van die munisipaliteite se agterstallige Eskom-rekeninge.

Die rede waarom die Vrystaat se mislukkings hier uitgelig word, is sodat ons die kontras tussen die Kaap en die Vrystaat kan bespreek; kwessies wat baie mense oortuig om te semigreer. Tydens die feesseisoen was dit weer verstommend om te sien hoe Vrystaters, wat in die Kaap vakansie hou, opgewonde na ʼn vullistrok wys, omdat dit in hulle provinsie heeltemal uitgesterf het, of ʼn baie rare verskynsel is. Dit teenoor die Kaapse inwoners wat maandeliks gratis swartsakke van die staat ontvang.

My moed het amper gebreek toe ek sien dat Kaapse inwoners geskok is om te hoor dat kraanwater nie oral veilig is om te drink nie. As dít maar net die grootste probleem was. Máár semigrasie is nie die enigste uitweg nie. Daar is ook ʼn ander kant van die muntstuk.

Wat sal gebeur wanneer die staat nie daar is om ʼn brand in die Kaap te beveg nie? In die Vrystaat, waar ʼn brandweertrok ook ʼn rare verskynsel is, het elke tweede boer brandbestrydingstoerusting agter op sy bakkie.

Wat sal gebeur as die staat die water in die Kaap vir twee weke afskakel? In die Vrystaat, waar dit ongelukkig gereeld gebeur, het elke tweede huishouding reeds ʼn tenk en ʼn waterpomp in hulle erf geïnstalleer.

Wat sal gebeur as die staat vir jare versuim om die paaie in die Kaap in stand te hou? In die Vrystaat, waar die paaie in ʼn haglike toestand is, het boere reeds uit hulle eie sak toerusting aangekoop om paaie in hulle vrye tyd reg te maak.

Die Kaap lyk dalk Hollands, in vergelyking met die Vrystaat, maar Kapenaars kan baie lesse by die Vrystaters leer oor hoe om staatsbestand te word en hoe om al hoe minder van die staat afhanklik te wees.

Vertroue in ʼn sisteem wat mag sentraliseer in die hande van die regering is nie die oplossing vir ons uitdagings nie. Die opposisieparty slaag daarin om deur die bogenoemde suksesse in die Kaap, die ANC se mislukkings te beklemtoon. Tog moet Kapenaars nie in die strik trap om op die staat staat te maak nie.

AfriForum haal graag president Paul Kruger se woorde aan dat ʼn mens dit uit die verlede moet haal wat goed is en die toekoms daarop moet bou. Daarom glo AfriForum dat daar krag in die gemeenskap is en dat die enigste pad vir ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms in die land, die pad van selfbestuur en staatsbestandheid is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: René van der Vyver

René van der Vyver is woordvoerder van AfriForum Jeug. René het haar meestersgraad (cum laude) in Toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het haar navorsingstema, “Kreatiewe Afrikanerkultuurtoerisme”, ontwerp omdat sy passievol is oor die Afrikanerkultuur. René se passie gee egter die toon aan op verskeie gebiede, soos wanneer sy standpunt inneem oor aktuele kwessies op Twitter en YouTube (@realReneKruger).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sterling ·

Die Kaap het nog altyd gewerk – volgehoue onderhoud het dit laat aanhou werk. Die res van die land, waar onderhoud te kort skiet, het die verval geseevier.

Ook was daar bitter min plekke in die Kaap wat in hul geskiedenis het ‘tydens die Anglo-Boere oorlog het die geskroeide aarde beleid die kerk of die burgersentrum of welke gebou in die dorp in die slag laat bly’. So ou geboue of anders gestel, infrastruktuur het bly staan en ‘n fondament vir die gemeenskap gevorm.

‘n Verdere voordeel wat die Kaap het, is dat hul in die res van die land ‘n toekoms voorksouing kan sien. Daar word gereeld gesê dat die Kaap so 10jaar of meer agter die res van Suid-Afrika is. So hul het ten minste 10jaar foutvet.

Die enigste manier wat die DA staat bestand kan word, is deur self die staat te word. Van die hele Suid-Afrika, nie maklik nie; maar as hul die Kaap afstig om helemal onafhanklik van die ANC te funksioneer, kan hulle wel die Kaap ‘Hollands’ maak.

Goldy ·

Kaap gaan net nog vir n klein rukkie werk as daar nie onafhanklikheidsreferendum gou kom nie, want die ANC ondersteuners semigreer ook daarheen.

Republikein in die Wes Kaap ·

Lyk my die Vrystaat is gereed vir afstigting.

Elma ·

Ek het 2 jaar in die Kaap gebly – dit was n eye opener (en nie n goeie een nie!). Gee my maar die Vrystaat enige tyd.

Lorraine ·

Het ek verkeerd gelees maar wil graag weet van wanneer af kry die Kaapse inwoners “gratis” swart sakke van die staat? Van watter staat word hier gepraag?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.