Die kerk en die markplein het mánne nodig

Deur ds. Diederich Kleynhans

sonsopkoms-man-wat-bid

(Foto: Living365withjesus.wordpress.com)

In sy artikel “Nine Attributes of a Real Man” [2] vertel Vince Miller hoe hy sonder ʼn pa grootgeword het en gevolglik nie iemand gehad het om hom oor ware en gesonde manlikheid te leer nie. Sy soeke na antwoorde op sy diepste vrae het hom na God én na die Skrif gedryf. Hier het hy sy antwoorde gekry, vervulling gevind en geleer wat seunskap beteken.

Die wêreld se vals manlikheid

Miller skryf verder dat ʼn duidelike en presiese definisie van manlikheid nie by die wêreld te vinde is nie. Selfs die vermaaklikheidswêreld faal, want sý voorbeelde van die sogenaamde regte man is manne soos die chauvinistiese rokjagter James Bond; of die onverstoorbaar-taai en emosioneel-afgetrokke Jason Bourne; of die gierige en magsugtige Gordon Gekko (Wall Street).

Meer onlangs sou ons dalk selfs die seksbehepte vrouehater en miljardêr Christian Grey (Fifty Shades of Grey) by hierdie lys name kon voeg. Telkens sal ons moet bieg dat nóg die gay Suid-Afrikaanse modeontwerper Rich Mnisi [3] met sy Pride-vroueswembroek (vertoon deur ʼn man), óf die rokgeklede Harry Styles [4] op Vogue se voorblad; nóg die transgender-beïnvloeder Dylan Mulvaney [5] van die Bud Light-advertensieveldtog, óf enige van die ander macho Hollywood-manne die Bybelse definisie van manlikheid gestand doen!

“Manlikheid na God se hart”

Hierteenoor gee die Bybel die regte perspektief op manlikheid, meen Isaac Khalil. [6] ʼn Perspektief wat deur die voorbeelde van gewone, sondige manne se verhale (byvoorbeeld Dawid se verhaal) as raamwerk vir “manlikheid na God se hart” dien. Die Bybel gee vele prototipes van manlikheid, maar bevat ook talle heenwysings na manlike kenmerke waaruit ons ʼn Bybelse definisie van manlikheid kan formuleer.

In die Ou Testament lees ons van ʼn getroue Noag, ʼn toegewyde Abraham en ʼn nederige Moses. Josua was opreg en Simson was sterk. Samuel was die toonbeeld van ʼn profetiese leier. Salomo was wys en Daniël het besonderse insig en onderskeidingsvermoë gehad. God het hierdie manne gekies, geroep en toegerus. Hy het hulle gebruik en by hulle kan ons leer. Ja, ook by die talle manne in die Nuwe Testament: Johannes, Petrus, Paulus – lewende boustene in die tempel van God.

“Daar heers ʼn skryende hunkering in die kerk na manne om weer mán te wees,” skryf Richard D Phillips in sy boek The Masculine Mandate, “omdat die kompeterende ideologieë van die kulturele tydsgees en die vals dogmas van liberale kerke die krisis (ook ʼn samelewingskrisis) ignoreer en selfs aanhits.”

Hierdie verwarring aan die een kant en blatante wanvoorstellings aan die ander kant, noop die kerk om deur ʼn reformatories-teologiese lens vir leidrade na die Skrif te draai (so ʼn bietjie ruggraat te wys) en dán tot die gesprek toe te tree, mét antwoorde.

Die Bybel is duidelik oor die eienskappe wat manne nie net in hul huise en families, gemeentes en (geloofs)gemeenskappe moet openbaar nie, maar ook moet aanwend op die markplein en in die publieke sfeer – eienskappe van manwees wat húlle gevorm het en waarop die volgende generasie moet voortbou.

Selfopofferende leierskap

Vanuit die staanspoor begrond die Bybel die eerste eienskap, selfopofferende leierskap, in navolging van Goddelike leierskap. Die man se mandaat vloei voort uit God se opdrag aan Adam: Heers oor… die skepping… as Mý verteenwoordiger (vergelyk Genesis 1:26).

In hierdie besonderse posisie, uniek geskape na God se beeld, word die man geroep en aangestel om met dapperheid, wysheid, insig en medelye te lei! Die Here Jesus gee self die voorbeeld van Bybelse leierskap ten opsigte van die huwelik (sy liefde vir sy bruid, die kerk) en wil dat Christenmanne Hom hierin navolg.

Dit is nié wrede oorheersing of diktatoriale magsvergrype nie! Dit ís verantwoordelike, selfopofferende, dienende liefde in gehoorsaamheid aan God. As vóórloper moet die man aanmoedig, inspireer, lei; altyd soekend na die wil van God. By kruispaaie moet hý die een wees wat verantwoordelikheid neem en dan bereid wees om die gevolge te dra – soos ʼn toegewyde Abraham.

Dapper nederigheid

Nederigheid is beslis nie ʼn term wat die wêreld sal gebruik om manlikheid te beskryf nie. Vanuit ʼn Bybelse perspektief is dit egter ʼn sleutelaspek van “manlikheid na God se hart”. Die moderne samelewing se “Amerikaanse droom” en Instagram- en TikTok-viering van die eie-ek, het daartoe gelei dat arrogansie en selfverheerliking as ʼn vorm van deugsaamheid geprys word. Mag, krag en sterkte het die antagoniste van nederigheid geword.

Die status van nederigheid is gevolglik degradeer tot ʼn “kruk”, of selfs ʼn “kenteken van swakheid”. Bybelse manlikheid kyk en lyk egter anders as dit kom by nederigheid en dít wat nederigheid doen. Moses, dapper leier van God se volk, “was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem” (Numeri 12:3).

Hy is die een wat in die aangesig van die Allerhoogste, wanneer die toorn van die Here teen die volk wil ontvlam, keer op keer tussen God en sy volk gaan staan het; die een wat stotterend die paleis van Farao ingaan en telkens eis: “Laat my volk trek”. Dapper, manlike nederigheid is nie gelyk aan “trap maar op my nie”, maar is vinnig om te vergewe en stadig om kwaad te word, én bowenal, bereid en gereed om te dien!

Wyse selfbeheersing

Wanneer manne in nederigheid opstaan en vóór stap (agter Jesus aan, waar dit ook al mag wees), moet hul gedagtes, woorde en dade in lyn met God se wil wees. In toegewydheid en met dissipline, eerlik en opreg, moet eers “na binne” gekyk word. Daarna volg die wandel en handel na buite in sý kerk, sý koninkryk. Hy beloof om in ons daaglikse en mees basiese behoeftes te voorsien en ons moet tevrede daarmee saamleef. Dit beteken natuurlik nie dat ons nie met ʼn gesonde mate van ambisie en entoesiasme kan streef na groei en verbetering nie.

In ons mees intieme verhoudings ontdek ons dikwels die waarde en vreugde van selfbeheersing die meeste – wanneer ons ander (baie gereeld selfs ons eie kinders en eggenote) se belange en behoeftes bo ons eie stel en beleef hoe hulle floreer in geleenthede waaruit ons, deur selfbeheersing, teruggetree het. Dan weet ons: Ek verloor niks deur aan ander ʼn tikkie sonskyn te gun nie.

Versorgende beskerming

Die voorreg om te beskerm en te versorg, veral ten opsigte van die veiligheid en welstand van ander, is by uitstek ʼn eienskap van Bybelse manlikheid. Die wêreld gee hier ook ʼn vals betekenis aan die konsep van versorging, want tradisioneel is ons gekondisioneer om aan die term “versorging” die beeld van ʼn moeder te heg, terwyl die Vader vir Homself hierdie voorreg toe-eien: “Hoe dikwels wou Ek… soos ʼn hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak” (Mattheus 23:37) en “Soos ʼn arend […] sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra (Deuteronomium 32:11).

Versorging en beskerming strek egter veel verder as die liggaamlike. Dit sluit die psigiese, emosionele en geestelike welstand en ontwikkeling van ons naaste in. As mans móét ons natuurlik ons vrouens liefhê en versorg, bewaar en beskerm – soos Christus sy kerk liefhet. Maar hierdie versorgende beskerming kring ook uit na die res van die skepping waaroor ons rentmeesters is.

Hoe ver strek hierdie verantwoordelikheid? Ons plig is om ʼn veilige omgewing te skep waarbinne selfs die mees weerlose mens kan ontwikkel om sy/ haar Skepper te leer ken, te dien, te eer. In hierdie verband kan ons nie help om te vra nie: Waar is manne se stemme van protes wanneer aborsiesyfers die hoogte in skiet? Waarom swyg hulle?

Allesomvattende voorsiening

Laastens is voorsiening een van die besonderse deugde van Bybelse manlikheid, wat ook deur die sekulêre tydsgees onder ʼn wanvoorstelling gebring is. Hierdie eienskap word deur die wêreld gereduseer tot finansiële kapasiteit en geldelike vermoëns. Bybelse voorsiening impliseer natuurlik ook materiële middele en potensiaal, maar is geensins daartoe beperk nie.

Allesomvattende voorsiening is meer as net die beursie vir gesin, vriend, geliefde en naaste. Dit is die stem wat ondersteun op die sportveld; die inspirerende woord voor ʼn groot eksamenvraestel; die gebedstem knielend langs ʼn kind voor slapenstyd; die boodskap wat hoor of ʼn vriend nog veilig is. Dit is die man wat die anker in die stormwaters van sy vrou se depressie is; die man met die oop hand wat die werklose buurman om die braaivleisvuur op ʼn skaapribbetjie trakteer.

En hierdie manne gee, omdat hulle weet hoeveel hulle ontvang het; hulle doen, omdat hulle weet hoeveel hulle in die skuld is; hulle dien, omdat hulle die Dienskneg aan die kruis kén, liefhet en wil verheerlik. Hy, die tweede Adam; die vlekkelose, sondelose, Beeld van God, in perfekte gehoorsaamheid; as waaragtige God én ware mens – Hóm wil Bybelse manne naleef!

  • Diederich Kleynhans is leraar van die NG Kerk Secunda-Goedehoop.

[2] https://www.desiringgod.org/articles/nine-attributes-of-a-real-man

[3] https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/herrie-oor-reklame-vir-sa-man-se-kostuum-20230520

[4] https://www.vogue.com/article/harry-styles-cover-december-2020

[5] https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/herrie-oor-reklame-vir-sa-man-se-kostuum-20230520

[6] https://lifehopeandtruth.com/life/blog/biblical-masculinity-becoming-a-man-after-gods-own-heart/

Hierdie artikel het eerste op die APK se webwerf verskyn.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Richard ·

Wel as ek so na die wêreldgeskiedenis kyk, dan kan die manlikheid bietjie “tone down” want mans is ongelukkig die oorsaak van die oorgrote meerderheid van ons wêreld se probleme. Dis ongelukkig ‘n werklikheid.

Jan ·

Die artikel betoog vir Godly manhood en dit kan nooit die wêreld se probleme veroorsaak nie. Manne en vroue na God se beeld is wat die siek wêreld nodig het

Truman Burbank ·

As ek so kyk na die wereld geskiedenis, bewys dit dat dat niemand leer uit die geskiedenis nie

Truman Burbank ·

Jare gelede het n vriend van my een van die Angus mannekame bygewoon. Vol durf terug gekom en verklaar hy is nou die priester van die huis. Nodeloos om te se, hy was daardie aand reeds single. :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.