Die nuwe era vir Afrikaans in skole

Deur Charlotte Fourie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Niamat Ullah/Unsplash)

Ek was onlangs by ʼn inligtingsaand vir ouers – my eerstelinge begin volgende jaar hul skoolloopbaan in ʼn enkelmedium Afrikaanse openbare laerskool (een van die ongeveer 880 in Suid-Afrika wat nog bestaan). “Hierdie skool is Afrikaans en sal Afrikaans bly”, verseker die jong skoolhoof ʼn saal vol opgewonde ouers. “Vir hoe lank, meneer?” het ek stilletjies agter in die saal gewonder terwyl ek 1996-koerantuitknipsels in Google se argiewe fynkam.

Afrikaans-medium schools have nothing to fear in the new South Africa, says Education Minister Sibusiso Bengu.

Só lui die inleiding van ʼn uitknipsel van 4 Maart 1996 wat my oog eerste gevang het. Ek lees toe gretig verder: Bengu sê dat ten spyte van die stygende gety van ontnugtering en angs onder Afrikaanssprekende gemeenskappe in 1996 dat “the new government wanted to reassure the Afrikaans-speaking community that it had nothing to fear from the new, non-racial education system. He said the language policy in any particular public school ought to be determined in consultation between the governing body of the school and the provincial authorities concerned.”

In 1996 was ek maar net ʼn kind van een van daardie angstige ouers, maar in 2023 is dit ons generasie se beurt om opnuut angstig te wees, want BELA[1] se tragiese bepalings wil nou juis die taalbeleid van openbare skole uit die hande van beheerliggame ruk. Selfs al is die staat onsuksesvol om BELA deur te voer, lyk die prentjie vir Afrikaans in openbare skole alles behalwe rooskleurig. Vandag kan ons maar net angstig giggel oor Bengu se destydse uitlatings terwyl ons probeer opgewonde bly oor die begin van ons kinders se onsekere skoolloopbane. “Hoe lank nog Afrikaans, meneer?”

In 2021, 25 jaar na Bengu se poging om Afrikaanssprekendes gerus te stel, was slegs 1 303 van die ongeveer 25 000 skole in die land nog Afrikaanse enkelmediumskole – 15% minder as in 2012 toe daar 1 531 was[2]. Die Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika vorm ʼn beskeie deel van die totale bevolking. As gevolg hiervan, maar ook as gevolg van politieke druk om toegang tot goeie onderwys vir kinders van alle bevolkingsgroepe te verseker en ʼn groot tekort aan funksionele skole, ervaar Afrikaanse openbare skole geweldig baie druk om te verengels. Dít is glad nie gerusstellend vir ʼn ouer wie se kinders oor 12 jaar van nou af steeds besig gaan wees met skool nie.

Daar is lig aan die einde van ʼn ánder tonnel

Is daar nog ʼn toekoms vir Afrikaanse openbare skole? Ja, daar is ʼn toekoms vir sommige Afrikaanse openbare skole in sommige gemeenskappe wat met slim planne die druk van die staat kan weerstaan, maar in die meeste gemeenskappe loop die uurglas van Afrikaanse openbare skole teen ʼn snelle spoed leeg. Daar is egter lig aan die einde van ʼn ánder tonnel, want tussen 2012 en 2021 het die getal Afrikaanse onafhanklike skole met 22% vermeerder. Onafhanklike, selfstandige skole in elke gemeenskap wat Christelike onderrig van gehalte in Afrikaans bied en deur die gemeenskap besit en bestuur word, kan sekerlik met meer sekerheid verklaar dat hierdie skole Afrikaans is en Afrikaans sal bly.

Suid-Afrikaanse skole se befondsing, eienaarskap en bestuursgeskiedenis is ʼn komplekse tapisserie van unieke uitdagings en oplossings wat deur elke era geweef is. Met die aanvang van die Groot Trek in die 1800’s het Lord Charles Somerset staatsonderwys misbruik om verengelsing na te streef, maar die Hollands-Afrikaners het as eenvoudige antwoord hierop, privaat skole gestig waarin kinders in hul taal en geloof kon leer. Gaan die geskiedenisboeke vertel van die 2020’s as die nuwe era waarin ons kinders weereens in hul taal en geloof kon leer?

[1] https://skole.co.za/bela/

[2] Afrikaanse Skole-verslag – Skoleondersteuningsentrum

  • Charlotte Fourie is ‘n projekbestuurder by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Onder ANC bewind sal alle Afrikaanse openbare skole teen 2030 uitgefaseer wees. Die demografie in skole se voedingsgebied verander nou vinnig. In die Wes en Noord Kaap sal Afrikaanse skole so ‘n paar jaar langer oorleef. Onafhanklike skole is die enigste roete. Jou klein kinders, Charlotte, gaan die werklike Nuwe SA ervaar. Berei hulle goed voor.

Nommer 7 ·

Die probleem is egter dat daar weggedoen is met “voedings areas”. Daar is tans sprake dat dit weer ingestel gaan word. Die probleem is dan dat n skool soos Paul Roos in Stellenbosch voorkeur moet gee aan leerders wat in Stellenbosch bly, voordat hul leerders van elders mag inneem.

Nettie ·

13% van die land is Afrikaanssprekend, maar net 6% van die land se skole is Afrikaanse skole?

Dit maak ‘n mens WOEDEND.

Dankie vir die artikel.

Charlotte ·

Dit is kommerwekkend om die minste te sê. Maar daar is ook baie hoop. Ons moet net aanhou bou.

Nommer 7 ·

My minders was in ‘n dubbel meduim staats laerskool, Wit, swart. bruin, moslem, chinees. Daardie tyd was dit die beste laerskool in ons voorstad. Vandag is dit nogsteeds die beste laerskool.

Charlotte ·

Die rol van opvoeders is deurslaggewend. Ek glo in die skool waarvan jy praat, is daar opvoeders met ‘n roepingsbesef en goeie leierskap. Sulke getuienisse gee ‘n mens baie hoop!

TruthDealer ·

Die beste raad wat ek ouers van jong kinders kan gee: Maak julle kinders 100% tweetalig groot. My ma het dit gedoen en ek is nou nog dankbaar daarvoor. Kweek ook n liefde vir lees in altwee tale. As 9/10 jarige het ek boeke verslind deur bv Heinz Konsalik ( vertaal in Afrikaans) maar ook H P. Lovecraft in Engels. My ma se hulp weereens, sy het my boeke laat uitneem op haar grootmens biblioteek kaarte. Onthou jul kindertjies sal, as julle nie ryk is en besighede het nie, oorsee moet gaan om te werk. Leer jou kinders om in beide tale te lees, praat, dink, debatteer. Leer hulle die fyner nuanses van hoe om iets te sê, in albei tale. Onthou dat hulle moet gaan werk en leef in n “woke” wêreld, leer hulle hoe om diplomaties in Engels te kan kommunikeer. Hulle kan nog steeds ten minste dink wat hulle wil.

Charlotte ·

Meertaligheid en vlotheid in Engels is beslis baie belangrik. Vir kinders om wokeness te weerstaan, is daar egter meer nodig as goeie kommunikasievaardighede: ons kinders moet geanker wees in die Woord met ‘n sterk begrip van hul kulturele identiteit en roeping. As ouers bou ons daagliks aan ons kinders se karakter en my begeerte is dat die skool waar hulle soveel tyd spandeer, dieselfde stene op daardie fondament bou as ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.