Die onderploeging van die Afrikaner

NP van Wyk Louw. (Foto: Karoo Hoogland Munisipaliteit.)

Die legendariese Afrikaanse skrywer, NP van Wyk Louw, het 72 jaar gelede in 1952 belangwekkend oor die uitdagings van die Afrikanervolk geskryf. Uiteraard kon Louw nie in die toekoms inkyk en presies voorspel waarmee Afrikaners bykans ʼn driekwart eeu later te kampe sou hê nie.

Hy kon byvoorbeeld nie voorsien dat die Nasionale Party (NP) die bewind aan die Afrikaner-onvriendelike swart sosialistiese African National Congress (ANC) sou afstaan nie. Nogtans is Louw se destydse verduidelikings van die gevare waaraan die Afrikanervolk blootgestel is, steeds treffend ter sake vir die huidige tydsgewrig en is dit gepas om dit in herinnering te roep.

Louw het op drie gevare vir die Afrikanervolk gewys. Die eerste is in hierdie bespreking ter sprake terwyl die ander twee in die volgende twee besprekings aan die beurt kom. Daaraan kan natuurlik verdere risiko’s toegevoeg word, wat eie is aan ons huidige tydsgewrig, wat egter nie in hierdie kort reeks behandel word nie.

Louw het die drie gevare wat hy raakgesien het in “Kultuur in krisis” bespreek. Die eerste is die gevaar van militêre oorrompeling. Hieraan verwant is die “toeploeg” soos Louw dit genoem het, dit wil sê, die assimilasie van die volk deur dinge soos massa-immigrasie.

Hierdie bedreigings is tipies ekstern van aard, dit wil sê, bedreigings van buite die Afrikanervolk self. Dit moet onderskei van die ander twee wat Louw raakgesien het, wat ʼn interne oorsprong het, dit wil sê, bedreigings wat die Afrikaner vir homself veroorsaak en wat die onderwerp van die tweede en derde besprekings is.

Die Afrikaner het natuurlik tevore al die eksterne bedreigings waarvan Louw praat ervaar. Hy verwys self na die militêre oorrompeling vanweë die mag van Brittanje gedurende die Tweede Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902.

Die risiko van “onderploeging” (of toeploeg) is eweneens goed aan ons Afrikaners bekend.

Nagenoeg 28 000 Boere is tydens die Anglo-Boereoorlog in Krygsgevangenekampe aangehou. (AfriForum Uitgewers/Facebook)

Dit is waarop Britse hoëkommissaris, Alfred Milner se beleid neergekom het, naamlik om na afloop van die Anglo-Boereoorlog grootskaals Britse immigrante na Suid-Afrika te bring, om sodoende die Afrikanervolk te assimileer en in die Engelse wêreld op te neem – en te laat verdwyn. Die beleid het gelukkig misluk. Gevolglik is Afrikaner-gedomineerde politieke partye in staat gestel om sedert 1906 beheer oor drie van die vier kolonies wat later die Unie van Suid-Afrika uitgemaak het (die Transvaalkolonie, die Oranje Rivierkolonie en die Kaap) te verkry, en na Uniewording in 1910 uiteindelik die hele Unie van Suid-Afrika.

Die politieke beheer het Afrikaners in staat gestel om mettertyd in toenemende mate hulle eie lot te bepaal en gevolglik teen die risiko van dinge soos massa-immigrasie en dergelike vorme van assimilasie – onderploeging – te waak.

Die Pakt-regering onder generaal JBM Hertzog, ʼn koalisie van die NP en grootliks Engelstalige Arbeidersparty, het honderd jaar gelede, na die algemene verkiesing van 17 Junie 1924, aan bewind gekom. Hierdie Afrikaner-oorheersde regering was in staat om die risiko van assimilasie doeltreffender af te weer. In daardie era van talle arm blankes, meer bepaald Afrikaners, was dit veral assimilasie in die groot swart meerderheid wat gevrees is. Etlike maatreëls wat rasse-afsonderlikheid afgedwing het, asook maatreëls om blankes, en in werklikheid veral Afrikaners in die arbeidsmark te beskerm en te bevoordeel, is aangeneem en verskerp, wat hierdie risiko beduidend laat afneem het.

JBM Hertzog (Foto: Wikipedia)

Terselfdertyd was daar sterk inisiatiewe vanuit die Afrikaanse burgerlike instellings om Afrikaners maatskaplik op te hef. Dit het hegter bande onder Afrikaners gesmee en terselfdertyd die risiko van assimilasie laat afneem.

Net so belangrik was die opkoms van Afrikaanse skool- en naskoolse onderwys, wat insgelyks bes moontlik as die belangrikste element van Afrikaner-eensgesindheid en -opheffing aangemerk kan word.

Met die oorgang na ʼn ANC-regering in 1994, het die risiko van onderploeging, ofskoon baie dit nie besef en wou besef het nie, drasties vererger. Die ANC volg ʼn beleid van “nasiebou”. Vir oningeligtes klink dit dalk misleidend mooi, maar nasiebou-projekte kom soos politoloog prof. Walker Connor uitgewys het, gewoonlik neer op die teenoorgestelde: op nasie (volks)-disintegrasie en -vernietiging.

Volgens die ANC moet ʼn enkele nasie vir die Suid-Afrikaanse staat geskep word. Daarvolgens word behalwe in die eng private sfeer, oplaas geen ruimte gelaat vir die erkenning en uitleef van besondere tale en kulture nie. Hierdie beleid is veral vir Afrikaners en dergelike Afrikaanstaliges tot groot nadeel omdat Afrikaans die een taal in Suid-Afrika is wat naas Engels die verste ontwikkel is en derhalwe veel meer as enige ander taal vanweë die afdwing van die idee van ʼn enkele nasie skade kan ly. Die Afrikanervolk as ʼn helder afgebakende kultuurgemeenskap met sy eie instellings loop ook die grootste gevaar van kulturele verlies en uiteindelik van totale onderploeging.

Trouens ons het al reeds ervaar hoe die ANC-regering ʼn ver pad geloop het om Afrikaners en Afrikaans skade aan te doen. Afrikaans is bykans totaal uit die openbare sfeer verwyder. Die sogenaamde amptelike status van Afrikaans kragtens die Grondwet, kom as gevolg daarvan op beswaarlik meer neer as ʼn siniese grap. Die vyandigheid teen Afrikaners word klaarblyklik ook net al hoe erger soos die Bela-wetsontwerp tans van getuig.

Hierdie soort projekte kom ten slotte neer op ʼn soort staatsreligie (staatsgodsdiens) volgens die sienswyse van die dominante krag in die politiek – in die geval van Suid-Afrika volgens die ANC. Daarvolgens word die Suid-Afrikaanse staat beskou as wesenlik ʼn homogene Engelstalige Afrikastaat. Van almal word dan vereis om hulle as’t ware na die beeld van hierdie staat te herskep en ʼn identiteit na die beeld van die staat te aanvaar.

Oudpresidente Nelson Mandela en FW de Klerk tydens vredesamesprekings op 6 Augustus 1990 (Bron: AlJazeera)

Hierdie soort ideologie is in besonderhede bespreek in Politokrasie: ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop, veral hoofstuk 6.

Dit is ook allermins ʼn nuwe verskynsel en is sedert die Franse rewolusie oor die hele spektrum deur linkse, regse en liberale regerings gebruik om homogeniteit af te dwing en volkere, tale en kultuurgemeenskappe sodoende van die toneel van die geskiedenis te verwyder ten gunste van ʼn algemeen staatlike identiteit. Hierdie verskynsel is in die volgende artikel in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe in bespreek.

Teen die aanslag van hierdie nasiebou-projek van onderploeging is Afrikaners inderdaad in ʼn baie moeilike situasie. Nogtans is ons nie reddeloos nie. Daar is sleutel strategiese kragte wat in Afrikaners se guns tel: ons het in teenstelling met die ongekende naïwiteit wat in eerste jare na die grondwetlike oorgang in 1994 geheers het ʼn betreklik goeie insig ontwikkel van die uitdaging wat ons in die gesig staar; ons is kultureel aktief en ons is betreklik goed georganiseerd, kundig en kapitaalkragtig.

Ons strategie om onderploeging te neutraliseer, moet egter helder en uitvoerbaar wees. Dit behels om oor selfregerende instellings te beskik: eie skole, tegniese kolleges, universiteite – en ten slotte ook eie selfregerende gebiede.

Om dit te verwesenlik is moeilik, onder andere omdat ons as ʼn klein minderheid oor ʼn groot area van Suid-Afrika se grondgebied versprei is.

Sol-Tech het ‘n wêreldklas kampus in Pretoria. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Nogtans is daar reeds heelwat vermag, soos waarvan die groeiende Sol-Tech, Akademia, privaat skole, talle selfdoen-aksies en natuurlik Orania reeds getuig. Hierdie prestasie moet nie onderskat word nie. Dit werk onderploeging reeds tee en demonstreer dat Afrikaners groot projekte sonder regeringsmag en -middele suksesvol kan aanpak.

In tye wat nou op hande is, sal ons nog baie van ons eie instellings moet stig en uitbou. Inbegrepe daarby is dat Afrikaners nog op groot skaal binne die grense van Suid-Afrika sal moet hervestig, oftewel semigreer. Dit moet egter strategies gedoen word, naamlik met die oog daarop om juis in groot getalle saam te trek ten einde ons eie instellings permanent lewensvatbaar te maak en terselfdertyd selfregerende gebiede te bou.

Sommige van die gebiede waar ons hervestig, soos Orania en ander wat waarskynlik sal volg, sal uitsluitlik Afrikanergebiede wees; ander soos Pretoria en die Wes-Kaap en die Suid-Kaap huisves groot getalle Afrikaners, maar saam met talle ander mense. Afrikaners in Pretoria is egter getalryk genoeg om instellings soos Akademia en Sol-Tech en talle dergelike opvoedkundige, kulturele-, sake-, arbeids- en watter ander instellings ook al te akkommodeer, wat Afrikanerbelange oral in die land kan dien en aan talle Afrikanerbehoeftes kan voldoen, waar Afrikaners hulle ook al mag bevind.

(Foto: Facebook/ Die Orania Beweging)

Wat betref Orania en soortgelyke gebiede, is dit gewens dat dit in ʼn klein tot middelslagstad, omring deur ʼn beperkte hartland, ontwikkel. Trouens in Orania kry hierdie idee reeds konkrete gestalte.

Presies hoe hierdie konsentrasie en selfregering sal vorm aanneem, is nog nie heeltemal duidelik nie. Wat wel duidelik is, is dat gekonsentreerde vestiging op ʼn aantal plekke, waaroor Afrikaners wisselende grade van selfregering uitoefen, Afrikaners se toekoms is en tegelyk die antwoord op onderploeging bied.

Afrikaners se toekoms blyk heel anders te lyk as die verlede – die verlede van die Blank-beheerde Suid-Afrika en die verlede van die Boererepublieke.

Daarom behoort iets van die aard van Afrikaner-regering oor uitgestrekte gebiede van Suid-Afrika permanent tot vervloë dae. Om Afrikaner- of blanke regering oor die hele Suid-Afrika of oor die gebiede van die ou Boererepublieke te probeer herstel, is nie politiek nie; dis pure nostalgie – niks meer nie.

Nogtans is daar ʼn belangrike konsekwentheid, trouens ʼn wesenlike konsekwentheid. Dit is dat Afrikaners steeds getrou is aan die ideaal van selfregering.

Prof. Koos Malan (Foto: Sakeliga)

Dit stel soos in die verlede natuurlik hoë eise. Een daarvan is dat ons met verloop van tyd ons belange geografies gaan verskuif – ons werksplekke en woonplekke. Ons gaan verhuis, soos wat dit natuurlik reeds in beduidende mate gebeur.

Maar na alles, soos Hugh Brogan in die eerste sin van sy groot werk oor die geskiedenis van die VSA sê: “Human history has been largely the story of migrations”. En as daar een volk is wat juis dit ook uit ervaring weet, is dit die Afrikaners, wat vanuit Wes-Europa na die Kaap gekom het, hier versprei het en hier ook gedurende die Groot Trek die Transoranje en die Transvaal binne getrek het om daar selfregering te vestig.

Dis klaarblyklik vir Afrikaners in die wieg gelê, om weer soortgelyk te werk te gaan en dit wel met die oog op die realisering van dieselfde doelwit van Afrikaner-selfregering.

Drie uitdagings vir die Afrikaner teen die agtergrond van die insigte van NP van Wyk Louw: Hierdie is die eerste van drie artikels oor die uitdagings waarvoor die Afrikaner in die huidige tydsgewrig staan. Dit word beskou vanuit die insigte in die skryfwerk van die groot Afrikaanse skrywer, NP Van Wyk Louw, in 1952, 300 jaar na die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

OW ·

Baie goeie skrywe oor die huidige stand van sake,waar die Afrikaner in SA hom tans bevind.NP van Wyk Louw was buiten as digter en skrywer,ook ‘n baie goeie denker van sy tyd gewees.Hy is in 1970 oorlede,kan nie dag en datum onthou nie,maar kan die aankondiging as kind oor die destydse Afrikaanse diens onthou.Die opvolg skrywes sal ook interessante wees.

Republikein in die Wes Kaap ·

Absolutely right prof, those who have not already moved will still move. Let’s trust young people don’t move to other continents. In the meantime, we are working on new dispensations where we are spared from complete decay.

Nettie ·

Afrikaner en hul geveg vir Afrikaans is bykans sinoniem.

Eers het hulle die Afrikaner probeer assimileer met die Britte.
Nou met die swart mense.
En ek sien, die nuutste metode vir die toekoms het pas afgeskop:
Onder die dekmantel van “Afrikaans vir almal” en diversiteit, gaan ons nou geassimileer word met die Bruines, KhoiSan en Griekwa’s.

Soos altyd, gaan hulle (die globaliste en liberaliste onder ons) se pogings faal. God het ons hier geplant as Volk, met ‘n eie taal en unieke kultuur. Hulle veg teen God self.

annie ·

Wat skokkend is, is dat ondergrawing nou vanuit eie geledere aangeblaas word uit ‘n sg Afrikanerparty wat stilletjies sy aard verander. Ons dring daarop aan dat die naam dermate aangepas word om kiesers in te lig oor die grondverskuiwing na ‘n Front Plus-formaat waar Afrikaners nou ander rasse wil insluit om hul gelukkig te maak. Dié ‘clan’ is ‘n klad om ons naam. Gee pad!

Republikein in die Wes Kaap ·

“God het ons hier geplant as Volk, met ‘n eie taal en unieke kultuur. Hulle veg teen God self.” Waar staan dit geskryf Nettie?

Pieter ·

Annie, Nettie liewe hemel die idee hier is nie onmoontlik om te begryp nie. Jy wil Afrikaans beskerm maar jy besef ons is nie genoeg nie. Nou gaan jy op soek na ander groepe wat ook n belang in Afrikaans het en jy oortuig hulle om saam met jou ‘n gemeenskaplike doel te bereik. Ek sukkel werklik om te sien wat die probleem is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.