Die onderwysdepartement se agenda van genderinsluiting

Deur dr. Wynand Boshoff

(Foto: pixabay)

ʼn Uitgerekte proses van skriftelike vrae en opvolgvrae aan die minister van basiese onderwys, het uiteindelik ʼn prentjie geskets van die departement se planne met “seksuele oriëntasie, genderidentiteit en – uitdrukking en geslagskenmerke” (of SOGIESC volgens die Engelse afkorting).

Die slotsom is dat die departement ʼn eensydig, ideologies gelaaide proses, volg om ʼn spesifieke interpretasie van die Grondwet as rigtingwyser te gebruik. Terwyl leemtes in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel leerders se toekomstige loopbane kelder, bestee die departement tyd, geld en inisiatief aan ʼn hoogs betwisbare benadering tot genderinsluiting.

ʼn Uitgebreide ontleding van die vrae en antwoorde word apart aangeheg.

In ’n wisseling van vrae en antwoorde tussen die VF Plus en die minister van basiese onderwys, wat oor twee maande strek, het ’n beeld ontvou van wat die departement met sogenaamde “genderinsluiting” in openbare skole beplan.

Die storie begin met die organisasie FOR SA (Freedom of Religion South Africa) wat die VF Plus nader met hulle inligting dat daar planne is om verreikende veranderings op hierdie terrein in Januarie 2023 te implementeer. Hulle kry egter nie inligting van die departement nie en versoek parlementêre hulp.

’n Reeks van 8 skriftelike vrae en antwoorde sluit af met die belofte dat die VF Plus die “Draft Guidelines” mag sien wanneer raadpleging met interne belanghebbendes afgehandel is. Dan sal dit vir openbare kommentaar beskikbaar gestel word.

Met ander woorde: Die dokument bly ’n geheim; maar implementering begin darem nie komende Januarie nie.

Ons mag reeds weet dat die opstel hiervan in 2021/22 plaasgevind het, met befondsing van Unesco, ten bedrae van $15 000 (sowat R270 000).

Deur die loop van die twee maande het die VF Plus wel langs ’n ander kanaal ’n afskrif van die riglyne gekry (slegs ’n harde kopie) en ’n verklaring daaroor uitgereik. Daar is gepoog om reg aan die omvattende aard van die aanbevelings te laat geskied, maar die media het by “unisex-badkamers” gebly.

Badkamers is maar ’n onderdeel van ’n dokument wat in wese daarop neerkom dat geslag uit skole verwyder moet word. ’n Werklikheid, waarin geslag nie bestaan nie, word voorgestel. Skooldrag, voornaamwoorde, aanspreekvorme, leeraktiwiteite en sport mag geslag nie raaksien nie.

Kinders wat mediese prosedures wil ondergaan om puberteit te voorkom of van geslag te verander, behoort hiervolgens die reg te hê om vanaf twaalfjarige ouderdom te besluit – sonder verpligte toestemming van ouers. Skole behoort te help om dit moontlik te maak.

Die departement sal met verskillende organisasies saamwerk om inligting oor hierdie hele aangeleentheid aan skole te versprei en hulle te “sensiteer”. Tans word daar deur provinsiale onderwysdepartemente en distrikskantore gewerk.

Oorweging en insluiting van bydraes sal hopelik teen Maart 2023 voltooi wees, maar eers in Junie 2023 vrygestel word. Intussen mag kommentare tot 31 Desember 2022 na [email protected] gestuur word. Maar sonder die dokument, waarop lewer ʼn mens kommentaar?

Hierdie riglyne is nie op vroeë kinderontwikkeling (wat tans van die departement van maatskaplike ontwikkeling na basiese onderwys oorgedra word) van toepassing nie. Die rede?

Sulke sentra neem reeds deel aan ’n doelgemaakte intervensieprogram, genaamd “Gender Responsive Pedagogy for Early Childhood Education” (GRP4ECE), wat dit deur spelgebaseerde leer aanpak. Leermateriaal ten bedrae van R20 miljoen is in 2022 deur die ETDP SETA befonds.

Die oorsprong van alles wat hier staan, is die Suid-Afrikaanse Grondwet – of dan, ’n bepaalde lees daarvan. Dit gaan oor die verbod op diskriminasie op grond van ras, geslag en alles anders waarteen gediskrimineer kan word. Die vraag is of hierdie die enigste manier is.

Die minister redeneer dat daar net een manier is – en dit is die manier wat die departement deur sy hoogs selektiewe proses bereik het. Aan die hart van die proses is die departement se eenheid vir maatskaplike kohesie, gelykheid en onderrig.

Hierdie eenheid het talle opvoedkundige projekte met die hulp van ander organisasies aangepak. Die departement het nie geld van die organisasies ontvang nie, maar hulle wel die ruimte gebied om op eie koste tot die gestelde doel by te dra. Nie alle projekte is op hierdie bespreking van toepassing nie.

’n Groeperings wat byeengebring is om beleid te help formuleer, is die Social Inclusion in Education Working Group. Hulle is ’n groep eensgesinde (“like-minded”) organisasies na wie die departement uitgereik het, weens beperkte kapasiteit binne die departement self.

Daar was wel ’n poging om organisasies wat gesinswaardes voorstaan in te sluit, maar weens uiterste meningsverskille is daarvan afgesien. Aangesien hulle stem waardevol en wesenlik is, sal met hulle in gesprek getree word – iets wat na bewering reeds begin het, maar geen besonderhede is verskaf nie.

Die departement se benadering kom daarop neer dat kritiek op hulle proses en gevolgtrekkings beteken jy steun die teenoorgestelde. Met ander woorde, as jy nie hiervan hou nie, glo jy kinders wat buite die binêre geslagsopvatting staan, móét afgeknou en uitgesluit word.

As daar erns was om ’n oplossing vir die probleem van afknouery en uitsluiting te vind, sou die proses begin by ’n vasstelling van die omvang daarvan. Dan sou ’n ope uitnodiging gevolg het om insette te lewer oor hoe dit oorkom kan word. Skoolbeheerliggame, kerke en ouers sou dan ook kon bydra.

Die grondwetlike opdrag is gehalte onderrig aan álle kinders. Daarvan kan niemand verskil nie. Wat ons hier vind is nie ’n poging om die opdrag uit te voer nie, maar wel kaping van onderwys met ’n grondwetlike voorwendsel.

  • Wynand Boshoff is ʼn VF Plus-parlementslid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Manie ·

Waaroor die groot bohaai? Daar is net 2 geslagte, naamlik manlik en vroulik, die res is keuses, nie geslagte nie.

Alexander ·

Wat van die verskeidenheid interseks mense… daar is veel meer variasie as 2 geslagte en in elk geval is daar so baie dinge wat met manlik of vroulik assosieer word wat net kondisionering is en niks met biologie uit te waai het… hoekom MOET vrouens hul onderarm hare skeer? :D

Jacob ·

Ek is nie ‘n sielkundige nie, maar ek neem aan dat “interseks” eerder ‘n sielkundige oortuiging is waarteenoor biologie duidelik onderskei tussen manlik en vroulik. Ek is van die ou garde wat die logika van die natuur verkies.
.,. en sover ek weet is daar geen wette, natuurlik of menslik wat bepaal dat vroue hulle onderarm hare moet skeer nie. Dit is ‘n persoonlike keuse en indien iemand die persoonlike keuse wil uitoefen om ‘n “sea goldie” oortuiging te volg, is dit daardie persoon se reg. Solank hulle dit nie op ander wil afdwing nie.

Jakkie ·

Die Dept. het gewoon nie fondse om dit te implimenteer nie, gaan wees soos E-Tol, Die oorgrote meerderheid gaan hulle gewoon nie daaraan steur nie.

VaalDonkie ·

Ek wonder wat met ‘n taal soos Duits gaan gebeur wat geslag aan selfstandige naamwoorde koppel. Jy kannie net Hy en Sy as daar 73 geslagte is nie.

Alexander ·

Duitsers is slim en meestal liberaal hul sal dit uitfigure moenie jouself komkommer nie :D

Jacob ·

Hierdie is deel van die agenda van die World Economic Forum waarvan Klaus Schwab een van die dryfkragte is. Dit is ‘n direkte aanslag op stabiliteit in die familieverband en geloof wat die grootste struikelblok vir Schwab, Gates en ander wat wereldoorheersing dryf, inhou. Dit is waarom dit so belangrik is om ook nie toe te gee aan nuttelose inspuitings wat sogenaamde pandemies sou verhoed nie (inteendeel, 58% van alle Covid 19 sterftes, kom nou voor onder die “inge-entes”) en die sogenaamde inentings paspoorte wat slegs daarop uit is om mense te beheer.

Is dit ‘n samesweringsteorie? Kyk maar na die “lab leak theory” wat nou feit begin raak. Kyk na die waarskuwings van Luc Montagnier en hoe hy afgemaak is as die verspreider van fopnuus en besluit self.

Moontlik moet ons ag slaan op “voting yourself into totalitarianism will result in your children having to shoot themselves out of it”.

Vryheid kom teen ‘n prys. Moet dit nie verkwansel nie.

Johan ·

Kind op 12 besluit om ‘n operasie te kry om geslag te verander??? ‘n Kind se identiteit is nog nie eers teen daardie tyd gevorm nie, Daar word nou na probleme gesoek wat nie regtig bestaan nie. Sien nie dat kinders “moan” as hulle nie netbal mag speel en eerder rugby moet speel nie. Hierdie is belaglik, alles werk al vir honderde jare reg hoekom nou alles verander vir ‘n minderheid in die samelewing. My regte en my kind se regte word dan mos nou geskend?

Sokrates ·

Ouers moet wakker slaap. Hierdie is deel van die verwerplike neo-marxistiese “Woke” ideologie wat swiep oor ons skole en universiteite. Die eintlike doelwit is die geleidelike ondergrawing van westerse beskawingswaardes. Daar word gemors met mense (en kinders) se koppe dmv verdraaide waarhede… alles mooi verhul en bemark onder die loflike ideale van DIE (Diversity, Inclusivity, Equality). Staan op teen hierdie aanslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.