Die Skotse premier Hamza Yousaf het aan die begin van verlede week sy bedanking ingedien nadat sy eertydse koalisievennoot, die Groenparty, sy steun aan die regering onttrek het.
Yousaf het die onvergeeflike gedoen: hy het sowat twee weke gelede aangekondig dat Skotland nie sy ambisieuse klimaatdoelwit – om teen 2030 sy uitlaatgasse met 75% te verminder – kan haal nie. Dit was net ʼn eerlike erkenning van die realiteit, maar vir die groen dromers was dit die grootste moontlike lastering om die heilige klimaatdoelwitte te bevraagteken. Die Groenes in die regering het hom nie hiervoor vergewe nie.
Daarby moet ʼn mens weet dat Skotland en veral Yousaf in die woke-liga heel voor speel: Skotland se Skotse Nasionale Party (SNP) het die sogenaamde progressiewe politiek op hulle vaandels geskryf en was selfs nog voor die reeds erg liberale Brittanje as geheel. Daar is in Skotland in die laaste tyd verskeie wette tot bevoordeling van seksuele minderhede ingestel, insluitend ʼn wet wat geslagsverandering makliker maak en deur die staat betaal word, en ʼn wet wat enige kritiek of selfs grappe oor transseksuele persone tot haatspraak verklaar, met drakoniese strawwe.
Yousaf, die kind van Pakistanse migrante, het natuurlik saam met die media groot ophef gemaak van die feit dat hy as immigrant en Moslem uit ʼn benadeelde groep kom en het dit sy doelwit gemaak om die tradisionele samestelling van Skotland se bevolking om te keer.
Ook op die omgewingsfront wou Skotland die model wees: as ander lande tot 2050 klimaatneutraal wou wees, wou Skotland dit nog vroeër doen. Yousaf se voorganger as eerste minister, Nicola Sturgeon, het as eerste regering in die wêreld ʼn klimaatnoodtoestand afgekondig (in ʼn land waar dit gewoonlik koud, reënerig en bewolk is), wou haar land reeds in 2045 klimaatneutraal maak en teen 2030 reeds die uitlaat van koolsuurgas met 75% verminder.
Jaar na jaar kon die doelwitte nie bereik word nie en uiteindelik moes Yousaf erken dat dit ʼn illusie is om die vermindering van 75% tot 2030 te bereik. Vir die Groenes wat sy regering ondersteun het, was dit egter die ergste en hulle het die eerste minister ontsteld gekritiseer.
Yousaf het verlede week die koalisie met die Groenes beëindig, kort voordat hulle dit kon doen. In die Skotse parlement met 129 setels het die SNP 63, die Konserwatiewes 31, die Arbeidersparty 22, die Groenes 7 en die Liberaal-Demokrate 4. Ten minste 65 setels is nodig vir ʼn meerderheid.
ʼn Mosie van wantroue teen Yousaf is deur die opposisie voorberei en sonder die Groenes sou hy te min ondersteuning hê. Om hom die vernedering van ʼn uitdrywing uit die amp te spaar, het Yousaf deur ʼn bedanking dit voorgespring.
Die regerende SNP was van meet af ʼn linkse nasionalistiese party, maar sy primêre doelwit is eintlik onafhanklikheid vir Skotland. Terwyl sy linksheid in die begin hom gewys het in die uitbou van die welsynstaat, het dit in die laaste jare al hoe meer sy bestemming in die sogenaamde identiteitspolitiek met die fokus op allerhande minderhede en ʼn obsessie met die veg van diskriminasie gevind.
Yousaf was skaars ʼn jaar lank regeringshoof nadat hy Nicola Sturgeon, wat weens korrupsieklagtes moes bedank, opgevolg het. Hy was voorheen Skotse minister van gesondheid. Hy was ook gereken onder die groep jong, progressiewe leiers wat in die media gevier word, maar dikwels in die regering teleurstel.
ʼn Soortgelyke lot het onlangs ook die eerste minister van Ierland, Leo Varadkar, te beurt geval toe kiesers in ʼn referendum ʼn sogenaamde anti-diskriminasievoorstel verwerp en Varadkar bedank het.
Dis nag vir ons lande van herkoms
Hul het hul morele kompas verloor en hul bestaansreg in gevaar gestel!!!!!