Die slag van Bloedrivier: gister, vandag en môre

(Toespraak gelewer deur Danie Goosen op 16 Desember 2011 te Steenbokpan – sien hier vir nog geloftefeestoesprake.)

Alvorens ons hieronder by die betekenis van die Groot Trek vir vandag stilstaan, vra ons in die inleidende paragrawe ’n eenvoudige vraag. Wat sou gebeur het as die Voortrekker-kommando onder leiding van Genl. Andries Pretorius by Bloedrivier deur die groot Zoeloe-mag van Dingane verslaan is?

Ons geskiedenis as Afrikaners sou heeltemal anders verloop het. Vanweë die heroïese en wonderbaarlike oorwinning by Bloedrivier het groot dinge in ons geskiedenis moontlik geword. Sonder dié oorwinning sou hierdie dinge na alle waarskynlikheid nie gebeur het nie. Ons dink veral aan die volgende:

Eerstens, vanweë Bloedrivier (en die Groot Trek in die algemeen) het ons as Afrikaners ’n volk geword. Bloedrivier was ons oomblik van geboorte. Voor hierdie slag was ons nog nie deur ’n heilige lotsverbondenheid aan mekaar verbind nie. Maar na Bloedrivier het ons geweet: Ons as Afrikaners is ’n volk, ons behoort – in weerwil van ons talle verskille – onherroeplik aan mekaar.

Tweedens, vanweë die slag van Bloedrivier en die Groot Trek is Afrikaners in staat gestel om in die onmiddellike jare daarna een van die mees uitsonderlike dinge te doen waartoe ons as mense in staat is, naamlik om vorm, struktuur en orde aan ons wêreld te gee. Hoe het ons voorouers dit gedoen? Hulle het dit gedoen deur ’n veelheid van republieke in die binneland te stig waardeur hulle (binne ’n primitiewe en nie-demokratiese wêreld) ordelik oor hulself kon regeer.

Hierdie prestasie moet ’n mens beoordeel teen die agtergrond van die destydse kritiek op die Voortrekkers as sou hulle slegs uit die Kaap wou trek om ’n bandelose bestaan in die binneland te voer. Presies die teenoorgestelde het egter gebeur. Piet Retief het in antwoord op dié kritiek reeds aan die begin van 1837 in sy beroemde manifes geskryf:

“Ons is vasbeslote om, waar ons ook al mag gaan, die beginsel van ware vryheid hoog te hou.”

Met ‘ware vryheid’ het Retief nie ’n bandelose bestaan bedoel nie, maar ’n vryheid waardeur volke binne die raamwerk van ’n republikeinse wet en orde oor hulself regeer. Die Voortrekkers het op ’n uitnemende wyse uitvoering aan Retief se oogmerke gegee. Dit word onder meer geïllustreer deur die feit dat destydse kommentators na die Republiek van die Oranje-Vrystaat as ’n “model republiek” verwys het.

Derdens, sonder die oorwinning by Bloedrivier, die Groot Trek en die stigting van die destydse republieke in die binneland sou die historiese tafel ook nie gedek gewees het waarop die Afrikaners later hulle twee roemryke vryheidsoorloë teen Groot Brittanje sou voer nie. Alhoewel die Boere militêr gesproke uiteindelik dié stryd verloor het, het hulle dapperheid die weergalose respek en bewondering van die ganse wêreld afgedwing. Die gedagte van die Boer is tot onsterflike simbool van vryheid verhef.

Vierdens, sonder Bloedrivier en die Groot Trek sou die historiese omstandighede na alle waarskynlikheid ook nie geskep gewees het waarbinne Afrikaners in die 20ste eeu die voortreflikste staat, die voortreflikste ekonomie, die voortreflikste landbou, onderwys, universiteitswese, regswese, letterkunde, kunste, musiek, mediese sorg, mynwese, tegniese ontwikkelinge, plaaslike owerhede, asook die voortreflikste militêre mag in die moderne geskiedenis van Afrika tot stand gebring het nie.

Onlosmaaklik deel van hierdie prestasies was ook die feit dat die Afrikaners tydens die 20ste eeu daarin geslaag het om hulle moedertaal nie net tot ’n uitsonderlike literêre taal te ontwikkel nie, maar om dit ook (as slegs een van vier tale in die 20ste eeu) vanaf ’n kombuis- tot ’n universiteitstaal te ontwikkel. Dit was ’n weergalose prestasie.

Ons is vandag diep dankbaar oor die grootse dinge waartoe die oorwinning by Bloedrivier en die Groot Trek aanleiding gegee het. Vandag sê ons in diepe erkentlikheid dankie aan ons voorgeslagte vir hulle onverskrokke heldemoed, vir hulle verbeelding, hulle versiendheid – en hulle onbreekbare geloof in dié God wat alles – ook die geskiedenis – in sy hande vashou.

Die Probleem

Vriende, daarmee het ons uitgekom by die punt waaroor ons graag vandag wil gesels. Dit hou verband met die uitdaging waarvoor die Voortrekkers destyds te staan gekom het. Ons gaan hieronder uit van die standpunt dat die Afrikaners vandag voor soortgelyke uitdagings te staan gekom het. Maar nog meer, ons gaan ook uit van die standpunt dat die antwoord wat die Voortrekkers destyds op hulle uitdaging gegee het vandag – in weerwil van die enorme verskil tussen die era van die ossewa en die internet – steeds aktueel is. Waarna verwys ons?

Soos wat dit destyds met die Boere as jong en opkomende volk beroerd gegaan het, so gaan dit ook vandag met ons as volk beroerd. As dit in enkele woorde saamgevat kan word, kan ons sê dat ons vandag, soos destyds, aan ’n gemeenskaplike gevoel van rigtingloosheid ly. Soos die Boere voor die Groot Trek is ons ook vandag onseker oor die toekoms. Gaan ons soos die Boere van destyds ons kollektiewe kompas reg ingestel kry? As ons dit nie doen nie sal ons aanhou om soos ’n senuagtige trop diere in ’n gevaarsone rond te skarrel.

As ’n mens die wese van die Groot Trek kan raakvat, kan ons sê dat dit juis niks anders was nie as ’n verbeeldingryke, deurdagte en daadkragtige antwoord op die probleem van rigtingloosheid. Ons word vandag voor dieselfde eis gestel. Ook ons moet vandag op ’n verbeeldingryke, deurdagte en daadkragtige wyse op ons eie rigtingloosheid antwoord.

Die geskiedenis

Alvorens ons hieronder in meer besonderhede hierby stilstaan, is dit goed om hierdie kwessie binne ’n breër historiese raamwerk te plaas. Dit is ’n eenvoudige feit van die geskiedenis dat volke dikwels voor enorme uitdagings te staan kom. Wat die Voortrekkers destyds en die Afrikaners vandag weer ervaar, is nie uniek nie. Inteendeel, volgens die befaamde historikus, Arnold Toynbee, kan die geskiedenis self as die spel tussen uitdagings en ons antwoorde daarop beskou word. Volke word altyd weer uitgedaag. En volke moet altyd weer antwoorde daarop gee. Daardie volke wat skeppend op hulle uitdagings antwoord, word ’n krag in die geskiedenis. Daardie volke wat voor die uitdagings terugdeins, neem onvermydelik van die geskiedenis afskeid.

’n Goeie voorbeeld hiervan kom uit die verre verlede. Ek verwys na die uitdagings waarvoor die Europese volke na die val van die Romeinse Ryk geplaas is. Toe die Romeinse Ryk vanaf die 5de eeu n.C. in duie begin stort het, het ’n donker sluier oor Europa geval. Vanaf dié tydperk is die ekonomiese lewe radikaal ingekort en armoede was aan die orde van die dag; groot en lewenskragtige stede het verval en Europa het homself vanuit die welvarende gebiede rondom die ryk Middellandse see in die arm Europese binneland teruggetrek; die groot kulturele prestasies van die Griekse en Romeinse oudheid het in vergetelheid verval; barbaarse stamme het vanuit verskillende windrigtings Europa binnegeval en geplunder; wet en orde het in duie gestort, ensovoorts. ’n Gemeenskaplike gevoel van rigtingloosheid het die ganse Europa deursuur.

Europa het dit egter nie daar gelaat nie. Uiteindelik het hy met verbeelding, denke en daadkrag daarop geantwoord. Die bekende historikus, Hugh Trevor-Roper, skryf in sy wonderlike boek, The Rise of Christian Europe, hoe Europa vanaf omstreeks die 11de eeu n.C. – dit wil sê eers na bykans vyf- tot seshonderd jaar van agteruitgang en verval! – ’n effektiewe antwoord op hulle uitdaging begin gee het.

Die wese van Europa se antwoord hou verband met die feit dat hy toe vir homself verantwoordelikheid begin aanvaar het. Volgens Trevor-Roper blyk dit veral uit die feit dat Europa deur middel van onder meer twee belangrike instellings, te wete die Middeleeuse kerke en kastele, vir homself begin intree het. Met behulp van die kerke en kastele het Europa vir homself gesê:

Tot hiertoe en nie verder nie. Van nou af neem ons self verantwoordelikheid.

In die eeue wat daarop gevolg het, het Europa as ekonomiese, politieke en geestelike mag op ’n onvergelykbare wyse gefloreer.

Dink maar aan die Gotiese katedrale wat vanaf die 12de eeu ontwerp en gebou is; die ridderstand waarmee hy homself militêr beskerm het; maar dink ook aan die stigting van universiteite; die buitengewone geleerdheid, kuns, wetenskap en tegniek wat toe begin blom het; die bou van stede en die ekonomiese groei, ensovoorts. In ’n sekere sin kan hierdie prestasies na die wil van ons Europese voorouers teruggevoer word om hulle uitdagings te aanvaar en deur middel van hulle instellings vir hulleself verantwoordelikheid te aanvaar.

Die Groot Trek

Maar dit bring ons by die Groot Trek. Soos met die destydse Europa was die Groot Trek ook ’n skeppende antwoord op die uitdagings van die tyd. Om dit te kan verstaan, moet ons kortliks na die oorsake van die Groot Trek verwys.

As ’n mens vandag oor die oorsake van die Groot Trek nadink, kan dit tot vier vereenvoudig word, naamlik die militêre, ekonomiese, politieke en geestelike magteloosheid wat die Boere destyds aan die Oosgrens ervaar het.

Ekonomies gesproke was hulle plase, die belangrikste ekonomiese eenheid waaroor die Boere beskik het, gereeld deur plunderende bendes aangeval, plaasopstalle is afgebrand, groot getalle vee is weggevoer en talle gesinne is op afgryslike wyses vermoor.

Hierdie toestand is vererger deur die Boere se politieke en militêre magteloosheid. Hulle oproep aan die Kaapse owerheid om hulp is dikwels met ’n gebrek aan simpatie bejeën. Onderliggend hieraan was ’n onbegrip vir die ideale van die nuwe volk wat stadig maar seker besig was om aan die Oosgrens beslag te kry.

Ook geestelik het dit nie altyd na wense gegaan nie. Alhoewel die Kaapse kerk ’n belangrike rol in die vorming van die vroeë Afrikaners gespeel het, het hy nie altyd in voeling met ons ideale gebly nie.

Teen die agtergrond van hierdie faktore is dit te verstane dat die Boere destydse aan wanhoop gely het. In ’n taal wat klink asof dit slegs gister verwoord is, skryf Piet Retief daarom ook in sy manifes:

Ons wanhoop daaraan om die kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlike gedrag van rondlopers, wat toegelaat word om die land in alle uithoeke te verontrus; en ons sien geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in ’n land wat op dié manier onder binnelandse onrus gebuk gaan nie.

’n Duidelike antwoord het egter geleidelik onder Afrikaners begin posvat. Soos met die Europeërs in die eeue na die val van die Romeinse Ryk het Afrikaners geleidelik daarvan oortuig geraak dat hulle ’n verbeeldingryke, deurdagte en daadkragtige antwoord op hulle toestand sal moet gee. Die Groot Trek was daardie antwoord. Die wese van hierdie antwoord kan in enkele punte saamgevat word:

Eerstens, die Voortrekkers het die sindroom van politieke afhanklikheid jeens die Kaapse owerheid afgewerp. Terwyl ’n bekende Kaapse leier van daardie tyd, Andries Stockenstrom, nog ’n beroep op die Trekkers gedoen het om eerder van die instrumente van die owerheid gebruik te maak as om te trek, het die Voortrekkers besluit om hulself daarvan los te maak. Voortaan sou hulle (soos ons Europese voorouers met hulle kerke en kastele) eerder self eie instellings en in die besonder eie owerhede iewers in die onbekende binneland gaan stig. Die woorde “selfstandige handeling” eerder as “afhanklikheid jeens die staat” het die leidende idee onder ons mense geword.

Tweedens, en ten nouste hieraan geknoop, die Voortrekkers het hulle strewe na selfstandigheid in ’n universeel aanvaarbare taal gegiet, naamlik in die taal en idioom van die destydse republikeinse tradisie. Dit wil sê in die taal en idioom van dié tradisie wat sê dat volkere vry is wanneer hulle op ’n demokraties-ordelike wyse oor hulself regeer.

Derdens, die Voortrekkers het hulle strewe na selfstandigheid aan ’n sin vir regverdigheid geknoop. Piet Retief verwoord dit wanneer hy in sy manifes skryf:

“Ons is van plan om in die loop van ons trek en wanneer ons in die land aankom waar ons permanent wil woon, ons bedoelings aan die swart stamme bekend te maak, asook die begeerte om in vrede en vriendskap met hulle saam te leef.”

Die voorstelling van die Voortrekkers en hulle nageslagte as sou hulle op die uitbuiting, misbruik en selfs uitwissing van die swart stamme ingestem was, is daarom ook volledig vals. Ten diepste het ons voorgeslagte hulle strewe na selfstandige beheer oor hulself aan ’n respek vir andere verbind.

Die dramatiese antwoorde van die Voortrekkers op hulle uitdagings het daartoe gelei dat die moedeloosheid plek vir ’n kollektiewe selfrespek gemaak het; die rigtinglose rondploeter het plek gemaak vir ’n duideliker rigtingbesef; en die neiging om jou rug op alles te draai, het plek gemaak vir die wil om aan die sake van jou gemeenskap en volk deel te neem. Ons staan vandag nog in die gloed van dié helder oomblik uit ons geskiedenis. Die herinnering daaraan brand nog warm in ons gemoed.

Vandag

Vriende, dit bring ons by vandag. Soos die Europeërs tydens die donker eeue en die Boere tydens hulle donker dekades word ook ons as Afrikaners uitgedaag om op die eise van ons tyd te antwoord. Dit is eise wat in menige opsigte ooreenstem met die uitdagings waarvoor die destydse Europeërs en die Voortrekkers te staan gekom het.

Laat niemand u daarvan oortuig dat die geskiedenis van die Afrikaners noodwendig op ’n einde afstuur nie. As dit so is dat die geskiedenis verstaan kan word as die spel tussen uitdagings en ons antwoorde daarop, dan beteken dit ook dat die geskiedenis nie soos ’n vooraf opgewende horlosie is wat bloot meganies en onverbiddelik die tyd aftik nie. Nee, dan is die geskiedenis juis oop, onvoorspelbaar en vol verrassende wendinge. Wat nou onmoontlik lyk, kan vanuit hierdie perspektief beoordeel more reeds ’n harde werklikheid wees.

Indien ons die uitdaging van die geskiedenis aanvaar, kan ons ten minste die volgende wenke uit ons geskiedenis neem.

Ons sluit met hierdie wenke af:

Eerstens, soos ons voorgeslagte kan ons ook die sindroom van afhanklikheid jeens die staat afwerp. Die staat is in vele opsigte nie by magte en dikwels onwillig om aan die saak van Afrikaners ’n hoë prioriteit te verleen. Laat ons dus self verantwoordelikheid aanvaar. Neem soos die Voortrekkers self die middele ter hand waarmee ons vir ons veiligheid kan intree; skep self die ruimte waarbinne ons ekonomies welvarend kan word; hou die bestaande opvoedkundige en universitêre ruimtes so goed as moontlik in stand en skep nuwes waar dit noodsaaklik is; skep eie kulturele ruimtes waarbinne ons moedertaal kan floreer; konsolideer bestaande en skep nuwe geografiese ruimtes waarbinne ’n eie gemeenskapslewe moontlik kan wees; skep nuwe instellings waarbinne ons weer inspraak in ons eie toestand kan verwerf; en ontdek weer die geestelike bronne waarbinne ons voorgeslagte geanker was.

Die wonderlike is natuurlik dat Afrikaners reeds hiermee besig is. Vanaf die kunstefeeste tot en met ons betrokkenheid by die skole, ons eie veiligheid, ons eie vakbonde en bewegings rondom burgerregte, ons eie maatskaplike sorg, ons eksperimente met geografiese ordening, ensovoorts, gee Afrikaners te kenne dat hulle (miskien selfs onwetend) na hierdie wenk vanuit die verlede luister. Na mate die staat verswak – en daar is geen vooruitsig dat dit binnekort anders sal word nie – in daardie mate skep dit vir ons die ruimtes waarbinne ons vir onsself kan intree en self verantwoordelikheid kan aanvaar.

Tweedens, sorg soos die Voortrekkers dat die saak van die Afrikaners in ’n taal en ’n idioom geformuleer word wat op enige internasionaal erkende verhoog verdedig kan word. Soos wat die Boere in die onmiddellike dekades na die Groot Trek hulself op ’n universeel legitieme saak soos die republikeinse tradisie beroep het, so kan ook ons vandag na wyses vra waarop opnuut inhoud aan dié tradisie gegee kan word. Soos met die Boere kan dit aan ons saak ’n onkreukbare legitimiteit verleen.

En laastens, soos wat Retief in sy manifes geskryf het, soek goeie verstandhoudings met die ander gemeenskappe in Suid-Afrika op.

Ons, die nasate van die dapper Voortrekkers, beskik vandag nog oor dieselfde deugde as waaroor hulle beskik het. Ten diepste is Afrikaners steeds gelowige mense. En soos ons voorouers beskik ons ook oor uitsonderlike verstandelike vermoëns, ons beskik ook oor ’n skeppende verbeelding, ons beskik ook oor enorme wilskrag.

Laat ons op grond van hierdie eienskappe wat ons steeds met ons voorouers deel hard en duidelik ‘ja’ vir ons uitdagings sê.

Indien ons dit doen, sal die geskiedenis weer vir ons oopgaan, soos wat dit ook vir die Voortrekkers oopgegaan het.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Deon Opperman ·

Dankie Danie, maar waaroor ek worrie is dat die Voortrekkers by Bloedrivier gewere gehad het en die Zoeloe-impi’s assegaaie. Nou het almal gewere, selfs kinders. Tweedens: die donker-eeue het meer as ‘n duisend jaar geduur. Dis ‘n lang tyd om plan te maak oor jou probleme en uitdagings. Hoekom sal hierdie kontinent anders wees? Ek lees graag jou gedagtes hieroor.

Vriendelike groete
Deon Opperman

Gemsbok ·

Dankie vir ‘n goed geformuleerde en inspirerende Gelofteboodskap Danie.

Ek dink nie dat die loop van ‘n geweer ons huidige probleem of oplossing is nie.

Ons uitdaging lê in die wyse waarop ons ander hanteer en hoe ons onsself hanteer. Waar lê ons kerke en kastele wat ons toekoms kan verseker? Waarskynlik in ons drang vir beter.

Soos die studentlied lui:

Ons is Vrye Afrikaners
en ons strewe na iets anders;
na ‘n ryk en vol bestaan,
ons is trou, Jopie Fourie.

Ons sal nou maar een maal nooit deel van ‘n regering kan wees wat teen ons diskrimineer nie (soos die Kaapse regering van destyds en die ANC-regering vandag), maar dit weerhou ons nie om deel van Afrika te wees nie. Ons eiesoortigheid bied dalk vir ons uitdagings, maar daarin lê ook ons verbintenis met ons voorouers en die sleutel tot ons toekoms.

Welgedaan Danie.

Wynand Du Preez ·

Daar is groot rede vir bekommernis vir ons afrikaner volk, geen ordentlike mens kan sê dat Hy omgee vir sy medemens as daar soveel negatiewe dinge aangaan en deur ons stilswye ons dit eintlik goed dink nie.Elke mens wat die waarde van dit wat God Aan ons toevertrou besef behoort dit Dan ook met alles te beskerm! God leer ons om Hom in al ons weë te ken sodat Hy ons paaie kan gelykmaak…Soos die gebed wat ons voorvaders Gerig het glo ek dat God ook ons sal seën as ons bereid is om Hom te ken en ook die moonlike te doen. Ordentlikheid is nie iets wat ń mens Koop nie, maar jy verdien dit deur jou optrede, Ongelukkig is daar maar min in ons land wat dit verstaan! Ek glo en bid dat onse God vir ons ń uitweg sal gee!

Jak van den Bergh ·

Dankie vir die boodskap.Ons het ‘Daan Goosen , biologie onderwyser by Helpmekaar gehad,so van 1956 tot 1959,hy het ook aktief in die Afrikanersaak belang gestel.

HET LANKAL REEDS ‘N VOORSTEL DEUR GESTUUR AAN KRAAL UITGEWERS ,MAAR NOG NIKS GEHOOR NIE NL DAT DAAR WEER AFDRUKKE GEMAAK WORD VAN DIE SKILDERY VAN DIE SLAG VAN BLOEDRIVIER WAT IN ONS OUPAS EN OUMAS SE HUISE GEHANG HET..NOU IS DIT NERENS VERKRYGBAAR NIE..

ZW de Witt ·

Danie, die slag van Bloedrivier was gesteun deur die Britte in Natal, vandaar die tweede kanon op die laer asook nie-blanke soldate wat die Britte saamgestuur het met die Boere om teen die Zoeloes te veg op dieselfde dag. Vra gerus uit oor hoeveel van hulle wel daar was om te help. Dit was dus nie n swart / blank oorlog nie soos meeste mense glo nie, maar wel n oorlog teen die barbaarse primitiewe Afrika. Die swart agterlopers / helpers en verkenners het die boere gerugsteun al die pad vanuit die Kaap en net so hard gestry om die nuwe kalvanistiese geloof wat hulle geleer het by die Boere uit te dra in donker Afrika. Huisgodsdiens het ingesuit die swart volk (vroer meestal slawe) almal sonder dwang en gewillig saam in die boer se huis, daar was nie apartheid nie. Dit was n eer vir hulle om die boer se naam te mag dra as hulle gedoop was. Ons Boere en Suid Afrikaners is nou beter daaraantoe as in die ou bestel. Ek persoonlik sou geen kaans gehad het om n besigheid te begin en vooruit te gaan daarmee nie. Daar was verskrye reels en regulasies in plek veral – munisipale reels wat my sou verhoed het om n begin te kon maak vanaf my huis. Die BEE beleid het inteendeel vir mense soos ek die geleentheid gegee om my dienste te verkoop eerder as om vir n staatsdepartement te werk vir n slawe loon. Nou is ek n werksskepper en ge werk aan mense en help verskye ander om ook hulle eie begin te maak. Wit en swart. Die swart bemagtigde werk nou meestal vir die staat en kry die slawe loon wat ek sou kry. Hulle is oor die algemeen geensinds bekwaam in hule werk nie en is noodgedwonge afhanklik van mense soos ek om nog steeds die selfde werk te doen maar nou teen n koste wat my bevoordeel. SARS se nuwe beleid help my ook om my besigheid te laat groei en die meeste ekonomiese aktiewe blankes is nou beter daaraan toe as vroer. Ons is hier om te bly en ons land se bevolking is drasties besig om te in te krimp al vanaf 2007 af. Ons blankes se lewensverwagting is nou langer in teenstelling met die ander volke in ons land. Dit opsigself se ons gaan hier bly. Ons ryk ook uit tot diep in Afrika en die wereld daarbuite en ons maak n sukses net waar ons gaan. Daar is wel enkelinge wat dit nie maak nie. Studies dui daarop dat die gemiddelde blanke huishouding nou meer as R500 000 per jaar verdien. Dit sou beslis nie waar kon wees indien ons nog steeds in die staatsdiens departemente verslaaf was nie. Ons het onsself ekonomies bemagtig en groei sterk. Ons het n sosiale verantwoordelikheid om ons mense wat van die wa afval op te help soos ons voortbeur in Afrika. Bloedrivier het ons n plek in die wereld gegee waar ons die woord kan uitdra tot eer van ons allerhoogste en dit is ons plig om daarmee voort te gaan wit en swart se plig saam.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.