Die ‘vierde industriële revolusie’ en swart ekonomiese bemagtiging

robot-tegnologie-ai

Foto: Pixabay.com

Deur Edward Blight

Die gesprek aangaande die sogenaamde “vierde industriële revolusie” het onlangs weer opgevlam. Die vierde industriële revolusie verwys na die volgende golf van tegnologiese verandering – ʼn vloedgolf waaraan byna geen nywerheid of bedryf kan ontsnap nie.

Hierdie soort tegnologiese verandering lei altyd na ʼn drastiese toename in produktiwiteit. Om die toename in produktiwiteit te bewerkstellig vind groot skommeling van produksiefaktore plaas, sodat die ontwikkelde tegnologie in die gegewe bedryf toegepas kan word. Om die belangrikheid van die vierde revolusie te verstaan moet daar eers na die vorige revolusies gekyk word, sodat ʼn mens ʼn beter begrip kan ontwikkel van die uitwerking wat hierdie soort verandering op die individu sal hê.

Eerstens is hierdie soort revolusie nie dieselfde as die verskynsel wat in Frankryk ʼn paar honderd jaar gelede ontvou het nie. Dit is nie inherent ʼn negatiewe verandering nie, hoewel dit ’n negatiewe gevoel in dié wat die revolusie ervaar, kan tuisbring. Dikwels verwys tegnologiese revolusies na die samesmelting van verskeie onverwante tegnologiese verwikkelinge met die gesamentlike uitwerking om nywerhede meer produktief te maak. Dit gebeur gereeld ten koste van die individue wat in die bedryf werk.

Die betrokkenes in die bedryf besef dat die nuwe tegnologie meer doeltreffend is as die werknemer en kan dus nie met die tegnologie meeding nie. Weens die nuwe kompetisie bevind party mense hulle gereeld sonder werk. Dit is een van die gevolge wat vrees ontlok teenoor verandering en industriële revolusies.

Tegnologiese verandering gaan gewoonlik gepaard met ʼn toename in produktiwiteit en welvaart. Dit het tot gevolg dat die samelewing as ʼn geheel verbeter word. Die mensdom is dus beter af as voor die verandering. Die natuurlike stabiliseerder in dié geval is dat mense vinnig weer geabsorbeer word in die ekonomie deurdat daar ʼn toename is in ander werkgeleenthede of algemene welvaart.

Dus kan ons die stelling maak dat individue eers negatief beïnvloed word, maar daarna kan herstel en deelneem aan die nuwe fase van menslike vooruitgang. Ongelukkig is daar steeds individue wat deur die krake val. Indien die ekonomie inklusief en dinamies is, kan die meeste mense geabsorbeer word en ʼn bydrae lewer tot die samelewing se suksesverhaal.

Bogenoemde is wat in Oosterse en Westerse lande plaasvind. Organisasies sowel as individue is bewus van die effek wat tegnologie het en berei hulle dus voor vir die volgende revolusie. Die voorbereiding word bewerkstellig deur ondernemings wat hulle sakemodelle aanpas of individue wat nuwe vaardighede aanleer om te verseker dat hulle nie uit die mark geskuif word sodra die revolusie plaasvind nie.

Ongelukkig gebeur dieselfde nie in Suid-Afrika nie. In Suid-Afrika is ons nie behep met nuwe tegnologie wat produktiwiteit gaan bevorder nie, maar eerder met watter soort werknemer die werk het. Hier is beleidstellings aangaande die instelling van swart ekonomiese bemagtiging belangriker as die welvaart van ons samelewing as ʼn geheel.

Twee oorhoofse probleme kan geïdentifiseer word. Die eerste is die vraagstuk rondom wat met die mense gebeur wat onmagtig word weens die revolusie en nie agterna geabsorbeer kan word in die ekonomie nie, weens eksklusiewe beleidstellings rakende die werkersmag. Tweedens ontstaan die vraag van waar los dit Suid-Afrika wanneer die res van die wêreld vooruitgang beleef en ons nie.

Die twee probleme is inherent verbind. Eerstens het die beleid ʼn geneigdheid om van die mees dinamiese mense in die werkersmag te ondermyn. Die ironie is dat dié mense die beste geplaas is om die vierde ekonomiese revolusie voort te dryf en te verseker dat die land se nywerhede die vermoë het om mededingend te bly met ander lande wat presies dieselfde doen.

Ons samelewing is nie gefokus op die ontwikkeling in die res van die wêreld nie. Ons lei aan ʼn illusie waarin ons glo dat produktiwiteit gehandhaaf kan word en ons mededingend kan wees in wêreldmarkte, maar terselfdertyd ʼn unieke handelsmerk van waansinnige beleidstellings kan beoefen.

Daar is ʼn rede waarom suksesvolle ekonomieë nie ons soort beleid, wat eksklusiwiteit bevorder,  navolg nie. Verskeie samelewings het soortgelyke beleidsrigtings reeds beproef en gesien dat dit nie werk nie. ʼn Mens word herinner aan die Engelse stelling van, “been there, done that, got the T-shirt, burned it”.

Dus het ons die volgende opsie as samelewing: Gaan ons eksklusiewe ekonomiese beleidstellings bevorder ten koste van ons eie welvaart? Alles teen die agtergrond van tegnologiese veranderinge wat dinamiese werknemers benodig. Of gaan ons die waansinnige beleidstellings laat vaar en begin fokus op dit wat werkloosheid verminder en produktiwiteit bevorder? Vir eers lyk dit of ons in eersgenoemde benadering vasgeval sal bly.

  • Edward Blight is ʼn dosent in ekonomie by Akademia.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

popeye ·

Die “ons” verwys eerder na die regerende party se sienings en sluit nie vrydenkers in nie. Hierdie vrydenkers word in hierdie verband Entrepeneurs genoem. As daar een tipe mens is wat moeilik is om te bind deur wetgewing of watookal is dit ‘n dinamiese Entrepeneur! Hulle vat die res vorentoe, wel op kleiner skale, maar hulle laat hulle nie bind nie! Dit is positief.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.