Terwyl Rusland sy hande vol het met die oorlog in Oekraïne, speel ʼn menslike drama homself in die suide af, naamlik in die Armeense enklawe Karabach wat binne die grondgebied van Azerbaidjan lê.
Azerbaidjan het in 2020 ʼn oorlog gevoer om die gebied, wat sedert 1994 onder die beheer van Armenië was en met dié land fisies verbind was, te verower. Azerbaidjan, veel groter en militêr beter toegerus as die klein en arm Armenië, kon groot dele van Karabach verower, maar ʼn Russies bemiddelde wapenstilstand het wel die kerngebied met die hoofstad Stepanakert onder beheer van die Karabach-Armeniërs gelaat.
Die enklawe het deur die Latschin-korridor een dun lewenslyn na Armenië, vanwaar brandstof en voedsel ingevoer word, want Karabach is heeltemal te klein om selfonderhoudend te wees. Rusland sou oor die wapenstilstandooreenkoms, wat ook die oophou van die korridor behels, waak en met sy troepe die twee strydende partye uitmekaar hou.
Terwyl Rusland tradisioneel vriende met die eweneens Christelike Armenië is en die Moslem-Azerbaidjaners met agterdog bejeën, het dit in die oorlog van 2020 ʼn neutrale houding ingeneem, wat reeds ʼn terugslag vir Armenië was.
Sedertdien het die Rusland-Oekraïne-oorlog uitgebreek en Rusland het nie die kapasiteit of belangstelling om die rol van magtige arbiter tussen die twee strydende volke in die Kaukasus-streek te speel nie. Dit benadeel Armenië verder, want nou het Azerbaidjan Rusland se onbetrokkenheid benut en die pad in die Latschin-korridor gesluit om die mense van Karabach effektiewelik uit te honger. Dit gebeur met die verwagting dat die Karabach-Armeniërs mettertyd hulle heimat sal verlaat en Karabach etnies gesuiwer kan word. Weerwraak speel ook ʼn rol, want met die afskei van Karabach in die vroeë 1990’s is ook dele van die Azerbaidjanse bevolking uitgedryf.
Tans het Azerbaidjan alles aan sy kant: ʼn sterk internasionale bondgenoot in die vorm van Turkye; geld danksy sy olierykdom; ʼn gevestigde kwasi-diktatoriese dinastie wat nie opstande of verkiesings hoef te vrees nie; ʼn goed toegeruste weermag; Rusland wat nie meer vir Armenië (kan) opkom nie, en ook die Weste wat anderkant kyk omdat hulle verleë is oor Azerbaidjan se olie en gas.
Azerbaidjan het nou aangebied om Karabach van die oostekant, dus vanaf die Azerbaidjanse hartland, te versorg, maar Karabach vrees dat met die knip van die lewenslyn na Armenië hulle eers ekonomies en dan kultureel deur Azerbaidjan verswelg sal word.
Dinge word verder vererger deur verdeeldheid binne die klein enklawe, waar duiwe en valke stry oor die regte benadering: om Azerbaidjan se oppergesag te aanvaar ter wille van materiële oorlewing, of om hulle te versit en die stuk wat van Karabach oor is, te verdedig, al beteken dit nog meer swaarkry.
Dieselfde stryd is ook binne in die republiek van Armenia aan die gang, waar die president, Nikol Pasjinian, wat as meer gematigd geld, met die valke in die weermag te kampe het. Intussen sit die diktator Ilam Alijev in Azerbaidjan stewig in die saal.