Gebrokenheid en geweld: Dit raak ons almal

Foto: Pixabay/Pexels

Deur Ds. Elmarie Dercksen

Hier is statistieke van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie:

  • Die moordsyfer op vroue het tussen 2015 en 2016 met 117% gestyg.
  • Die aantal vroue wat seksueel aangerand is, styg in dieselfde periode met 53%, van 31 665 tot 70 813 per jaar.
  • In Suid-Afrika sterf drie vroue per dag aan die hand van hul huweliks- of verhoudingsmaat.
  • ʼn Gemiddeld van 109,1 verkragtings word daagliks in Suid-Afrika aangemeld.
  • In 2018 wys die statistiek dat 25 uit elke 10 000 vroue in ons land slagoffers van seksuele misbruik is.
  • In 2018 erken een uit vier mans in ons land dat hulle al ʼn vrou verkrag het en 40% erken dat hulle hul vroue slaan.
  • Seksuele geweld en verkragting het in die algemeen ʼn lae aanmeldingsyfer.

Die reikwydte van geweld

Die omvang van misdaad in ons land, veral teen vroue en kinders, is afgryslik. Die negatiewe emosies wat dit by ons ontlok, is moeilik om te hanteer en veroorsaak dat ons ons gedagtes hieroor eerder wegskuif of projekteer. Dit gebeur met ander mense, in ander gemeenskappe, dink ons. As ons eerlik is, sal ons erken dat ons ook soms dink dis hul eie skuld: ʼn gevolg van dwelm- of alkoholmisbruik, morele verval en swak keuses. Ons voel magteloos, want wat kan ons hieraan doen?  Dis mos die regering se taak om in te gryp.

Hoewel armoede en maatskaplike omstandighede die saak versleg, is dit doodgewoon nie waar dat geweld teen vroue en kinders net in sekere kringe voorkom nie. Dit bereik inderdaad mense in elke ras en ekonomiese klas. Die oorsake hiervan is dus meer verreikend as net geld of etiek.

Bewus van die probleem

Hoewel ons altyd sal beleef dat ons regering meer moet doen – en ons in die algemeen vies is oor verkwisting en wanadministrasie – is dit ook nie waar dat hulle nie die tendens raaksien of daaroor bekommerd is nie.

Daar is erken dat ʼn golf van aktivisme nodig is om hierdie bose tendens te stuit en ʼn oproep gaan na elke landsburger uit om hom of haar hiermee te bemoei.

Daar is besluit om die veldtog genaamd Sestien Dae teen Geweld teen Vroue en Kinders te ondersteun; ʼn internasionale beweging, in 1991 geïnisieer deur die Centre for Women’s Global Leadership.  Intussen het die regering ook wette verskerp, verskeie bewusmakingsveldtogte van stapel gestuur en plekke van veiligheid vir vroue geplaas (White Door Safe Houses).

Dit is dus duidelik dat, ten spyte van ons gevoel van magteloosheid, ook óns hieroor behoort te dink en te besluit watter bydrae ons kan lewer. Verder moet ons ook onthou dat hierdie ʼn taboe-onderwerp is waaroor slagoffers swyg, en dat daar (volgens statistieke) tussen die vroue wat jou omring, vandag ook slagoffers is.

Dit raak ons, of ons dit wil weet of nie.

Gebroke geskiedenis

Geweld teen vroue en kinders het ʼn antropologiese geskiedenis (dit kom uit ʼn tyd waar die fisiek sterkeres – gewoonlik mans – hul wil kon afdwing). Die vraag bestaan dus waarom dit vandag, selfs in ontwikkelde lande, steeds soveel probleme veroorsaak.

Studente van geslagstudies hou hulle die afgelope dekades toenemend hiermee besig en van hul bevindinge werp interessante lig op geslagsgebaseerde geweld (GBG)

Geweld teen vroue het ʼn oorsprong in gedagtes, vooropgestelde idees en dit wat mense glo en dink van mekaar en hulself.  Misoginie (vrouehaat) is diep gewortel in die idee dat vroue swakker is (ook emosioneel en intellektueel), skuldig is aan die oersonde, en mans verlei.

Geweld begin nie by ʼn vuishou nie, maar by gedagtes en emosies en vloei dan uit, dikwels eers in woorde. Emosionele afpersing en verbale boelie is dalk die vorm van geweld wat die meeste vroue ken (en baie mans ook). Wanneer die magsbalans in ʼn verhouding of situasie skuif, moet partye kies hoe om dit te hanteer. Patriargie is aan die kwyn, en die onsekerheid wat dit meebring, veroorsaak dat mense selfgeldend optree, soms tot die uiterste.

Baie Christene wil vashou aan tradisionele geslagsrolle (mans is blou en vrouens pienk) en dink dat as almal net terugkeer daarna, dinge sal regkom. Navorsing bewys egter dat geslagsrolle grootliks kultureel bepaal word en aangeleerde gedrag is. Mense word in ʼn baie groter verskeidenheid gebore as wat ons kan bedink. Wil ons regtig terugkeer na die tyd toe vroue nie stemreg gehad het, nie gesinsbeplanning kon doen, of byna geen beroepskeuses gehad het nie?

ʼn Verdere probleem is dat hierdie verlange na die ou manier die verantwoordelikheid vir die probleem weer eens vierkantig op die vrou – vanuit die staanspoor die minder magtige – se skouers te plaas. (Sy was nie onderdanig genoeg nie, sy het te uitlokkend aangetrek, sy moes hom nie gelos het vir ʼn nuwe kêrel nie.)

Almal is slagoffers

ʼn Verdere komplikasie is dat streng geslagsrolle ook manlikheid vergiftig (lees gerus oor toxic masculinity).

Deur te verwag dat mans altyd moet sterk wees en leiding neem, ontneem die samelewing hulle van emosionele egtheid, meelewing en gesinsdeelname.

Onlangse navorsing uit Australië wys daarop dat die meeste mans wat tot gesinsgeweld toetree, dit doen vanuit ʼn plek van diep vernedering en skaamte. Dit spruit uit onrealistiese verwagtings van manlikheid en veroorsaak ʼn brose ego.

ʼn Uitdaging vir ons almal

Christen-gebaseerde geslagstudies sorteer hierdie uitdaging onder die sambreel van menswaardigheid. Mense dink soms dat menswaardigheid ʼn liberale politieke konsep is, maar die wortels daarvan lê inderdaad in die Nuwe Testament – in Jesus se inklusiewe gedrag, in Paulus se (vir sy tyd) voorwaartse geskrifte.

Vanuit die Christendom is die idee gebore dat mense God se liefde werd is en daarom mekaar se respek verdien. Daardie idee het in die geskiedenis oorgespoel na elke lewensterrein en so het ons afstand gedoen van slawerny, kinderarbeid en poligamie.

Hierin lê die sleutel tot ons almal se betrokkenheid: op grond van God se liefde vir mense, behoort ons elke saak wat menswaardigheid bevorder, heelhartig te ondersteun. Miskien is jy self ʼn slagoffer, of miskien het jy nog nooit hiermee te doen gekry nie. Ons almal behoort egter gedagtes, woorde en dade te kies wat elke mens se waardigheid ondersteun – hetsy man of vrou, swart of wit, oud of jonk.

Besprekingsvrae:

  • Beskou jou gedagtes eerlik. Gun jy dieselfde dinge vir jou seuns en dogters?
  • Gebruik ons taal wat menswaardigheid onderskraag? As seuns huil, is hulle sissies, of as dogters selfgeldend optree, is hulle bossy.
    Elke persoon is uniek; ons behoort taal te gebruik wat dit weerspieël. Taal is magtig.
  • As jy self ʼn slagoffer is wat geweld oorleef het, mag jou storie ander help. Oorweeg om dit te vertel.
  • As jy jou in ʼn gevaarlike of moeilike situasie bevind, is dit dalk tyd om hulp te soek. Vertrou ten minste een persoon voordat jy deel word van die statistiek. Die nasionale nommer vir hulp by die GBG-oproepsentrum (Gender Based Violence [GBV]) is 0800 428428.
  • As iemand jou vertrou met hul storie, wees ʼn veilige ruimte. As jou omstandighede stabiel is, kan jy vir brose vroue en kinders in jou gemeenskap baie beteken.
  • As jy in ʼn veilige huwelik of verhouding is, gesels met jou man hieroor. Navorsing bewys dat manlike vennote in die stryd teen geweld groot impak maak. Elke man wat hierteen opstaan, is kosbaar.
  • Oorweeg dit om die beweging Thursdays in Black te ondersteun (www.thursdaysinblack.co.za). Hulle help geloofsgemeenskappe nasionaal en internasionaal om intensioneel op te staan teen geslagsgebaseerde geweld. Jy kan borsspelde bestel en op Donderdae swart aantrek om jou solidariteit te wys.

Elmarie Dercksen is predikant by die NG kerk Bloubergstrand. Sy het ʼn MTh in Gender- en Gesondheidstudies, met die fokus op die Ou Testament.

Hierdie artikel is met vergunning van die Granaat, Die Dameskring se tydskrif, geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

charmaine ·

Elke keer as ek hierdie tipe artikels lees kry ek trane en ek kan net nie myself indink in hoeveel vrees sulke vrouens en kinders moet leef nie. Dan bid ek en se dankie Here vir my goeie man hy help my in die huis hy is geduldig, saggeaard en altyd bereid om te help en in 29 jaar nog nooit sy hand vir my of sy kinders gelig nie. My hart gaan uit na hierdie vrouens en kinders.

Db ·

As mens deur so hel van ‘n lewe is is jy gebreek binne in. Geen gepraat of berading vat daardie swart kol uit jou lewe weg nie. Die dood lê binne in jou waar daar gevoel moet wees. Ongelukkig praat ek uit ondervinding en het geen berading of gepraat nog ooit gehelp nie. Ek het nog altyd gesê dat al wat ooit sal help is wanneer daardie gedeelte van die brein wat bly onthou verwyder kan word.

Frans C ·

Gedrag is aangeleer en boots kinders die gedrag van ouers en ouer persone na,vandaar die spreekwoord ,die appel val nie ver van die boom nie,of Aartjie na sy vaartjie.

Okk vind daar ‘n ontmanning plaas en word tradisionele rolle omgekeer en is die vrou dikwels die broodverdiener terwyl manlief werkloos is.Daar ontstaan dus dikwels ‘n minderwaardigheidsgevoel wat dan met venederende gedrag oorbrug word.

Die Christelike liefde is tog iets anders as die erotiese liefde en is eerder ‘n diens waar die een die ander hoër as sigself ag,soos Chritus ‘n dienaar geword het. So word twee mense ‘n deel van mekaar en los van mekaar nie.

Johan Grobler ·

Interessant dat U as predikant nie eers praat van die by verre beste oplossing nie: dat die evangelie aan almal verkondig moet word want as mense wedergebore word sal die werklike liefde van Jesus Christus in hulle lewens wys en geweld sal eindig. Kan ek ook maar net vra: aanvaar U of verwerp U die ondubbelsinnige opdrag van God in Sy ewige onverandelike Woord dat “Vrouens hul eie mans moet onderdanig wees net soos aan die Here” (Eff 5:22). God se orde vir die wereld het duidelike verskillende rolle vir mans en vrouens. Wanneer die mens aan God se orde peuter, lei dit tot chaos.

Jacobus ·

Ek gaan nou vir alles wat sleg is beskuldig word maar ewehandigheid moet gehandhaaf word.

Die artikel deur Ds. Elmarie Dercksen is absoluut uit ‘n feministies oogpunt geskryf of dink die liewe dominee dat mans en seuns/kinders nie lei onder die geweld wat deur vroue gepleeg word nie.

Die Menseregtekommissie se statistieke sal ek nou nie juis betroubaar, geloofwaardig en ewehandig noem nie.

Dalk moet Ds. Derchsen ook die “menseregtekommissie” se statistieke noem oor geweld teen mans en seuns/kinders deur vroue.

Net deur die woorde in die artikel “toxic masculinity” te gebruik het, ‘n feministiese gunsteling is my bedenkinge gestaaf.

Hoekom word daar nie verwys in die artikel na plekke van veiligheid vir mans en seuns/kinders nie? Hoekom word geweld teen mans net in hakkies genoem asof dit ‘n bysaak is om net vir oëverblinding gelykheid te hou?

Volgens die Verenigde Nasies (VN) is geslagsgebaseerde geweld nie net gemik teen vroue en meisies nie maar ook teen mans en seuns en word gepleeg deur alby geslagte.

Miskien moet Ds. Dercksen met regte mans gaan praat oor hoe hulle deur geslagsgeweld gepleeg deur vroue benadeel word. Dink maar aan vals verkragting en skeksueele misbruik aanklagte, aanranding, verbale misbruik, Misandry (haat vir mans), meer kan genoem word.

Moet nie ‘n artikel met ‘n feministiese agenda probeer klee in die naam van Christus nie, dit maak ons geloof net goedkoop as dit so misbruik word.

Dalk moet Maroela Media ‘n artikel plaas oor geweld teen mans, gepleeg deur vroue vir ewehandigheid.

Jerry ·

Ek probeer maar weer. n Kultuur van geweld, misdaad en vrees begin te veel vlakke van die samelewing oorheers en duisende, indien nie miljoene, potensiele geweldenaars word getrigger deur slagoffer aktivisme. Aktivisme oor slagoffers le ongelukkig slagoffers se swakhede en kwesbaarhede bloot. Slagoffer aktivisme word ook gekaap vir fondsinsameling deur mense wat dit sien as n geleentheid om geld te maak, om daaruit n bestaan te maak en as gevolg hiervan is ondersteuning vinnig besig om te taan. Slagofferveldtogte word maklik gekaap en uitgebuit deur opportuniste vir geldelike of politieke doeleindes en bymotiewe. Aktivisme teen geweld vir vroue en kinders gaan radikaal anders moet begin dink. Geen fotos van slagoffers in n mishandelde toestand moet gewys word nie, dit wys weerloosheid, swakheid. Julle moet die lafhartige oortreders, gewetenlose oortredings, wetstoepassing en vervolging aan die groot klok hang. n Slagoffer se regte is reeds geskend, dit is nou tyd om die oortreders se regte te begin skend, indien nie, los eerder die aktivisme, want julle aktivisme vererger die situasie wat geweld teen vroue en kinders laat eskaleer. In ander lande werk slagoffer aktivisme. SA is egter nie soos ander lande nie, SA se kultuur van geweld, misdaad en vrees vereis onortodokse aktivisme en dit vereis dat weerlose vrouens, kinders en ou mense uit die pad van lafhartige boosdoeners gehou moet word. As die paaie begin kruis wat n uitdaging bied aan geweldenaars, dan gaan daar baie meer slagoffers/verloorders uit die stryd tree waarna geen haan gaan kraai nie!

aj ·

Liewe Ds Elmarie

Ewolusie het oor miljoene jare bepaal dat die sterkste (groepe) mense oorleef en die swakste groepe uitsterf.

Die aaklighede waarvan die moderne man ‘aangekla’ word hier bo, was die sukses faktore wat bygedra het tot die oorlewing (en prestasie) van Homo Sapiens as spesie, asook die Wit Westerse groep as dominante subgroep.

Slegs groepe mense wat SLIM, STERK, AGGRESSIEWE mans voortgebring het, het die tye oorleef en presteer!

Jou moralistiese siening is dalk kortsigtig en gaan die uitsterwing van die groep tot gevolg hê?

Kyk wyd, ewolusionêr, na die situasie!

Motivering ·

Hierdie artikel is maar net nog ‘n mooi motivering waarom mens eerder die “diverse” en “kultuurverrykte” land moet verlaat – veral sodat mens jouself kan verlos van die spul linksdenkendes wat dit besmet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.