Gemeenskappe moet hulself bemagtig, ook in Hillbrow

Hillbrow, Johannesburg. Argieffoto.

Deur Anton Meijer

Die onlangse onluste in die Johannesburg se sakekern het ʼn groot debat ontketen rakende die regering se mislukking om aan inwoners ʼn skoon en veilige woonomgewing te bied.

Die burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, die premier van Gauteng, David Makhura, en die minister van polisie, Bheki Cele, is almal voor stok gekry omdat hulle glo nie genoeg doen om die woonbuurte te beveilig nie, dat hulle toegelaat het dat die infrastruktuur in die gebied agteruit gegaan het, en dat misdadigers onder hulle neuse kom nes skrop het in die middestad.

In dieselfde week het AfriForum se Oos-Moot-tak die omheining langs die treinspoor in Gezina en Queenswood herstel om sodoende die veiligheid van die woonbuurte te verbeter. Die gate in die heinings word deur die misdadigers gebruik as vinnige ontsnaproetes.

Die tak het ook intussen die bosse rondom die spruite in die woonbuurt uitgekap en spreiligte geïnstalleer by parkies om dit moeiliker te maak vir misdadigers om snags rooftogte uit te voer.

Die gemeenskap in die Johannesburgse middestad en die gemeenskap in die Moot sit met dieselfde probleem: ʼn regering wat stelselmatig verbrokkel en nie meer die nodige dienste kan of wil lewer nie.

Die Oos-Moot-gemeenskap het egter nie gaan lê nie. Hulle het besef daar moet iets gedoen word, en dat hulle dit self sal moet doen.

Hulle het nie vir toestemming gevra om ʼn buurtwag op die been te bring nie. Hulle het nie gewag tot die situasie so erg raak dat hoofopskrifte in koerante die enigste manier is waarop daar na hulle pleidooi geluister word nie. Daar is nie klippe gegooi en buitebande aan die brand gesteek om die aandag van die owerhede te kry nie. Daar is bloot besluit om oor te gaan tot aksie.

Dis iets wat die gemeenskap in die Johannesburgse middestad lankal nodig het, te midde van die verval. Ja, daar is kapitaal ook nodig, maar eerlike, opregte inwoners wat ʼn beter omgewing vir hulself wil skep, en wat ʼn veilige woonbuurt vir hulleself en hul kinders wil hê is die eerste stap tot ʼn ommekeer van die verbrokkeling.

Die ommekeer is nie ʼn eenmalige gebeurtenis nie. Dit is klein, deurlopende aksies soos die herstel van veiligheidsheinings, die installeer van spreiligte en die patrollering van jou eie strate wat ʼn boodskap stuur aan misdadigers dat jy keelvol is vir hulle teenwoordigheid, en dat jy dit vir hulle so moeilik as moontlik gaan maak om voort te gaan met hul misdrywe.

Ja, die verval in woonbuurte soos Hillbrow, Yeoville en Berea is dalk al meer gevorderd as in woonbuurte soos Waverley, Queenswood en Villieria, maar dit is nooit te laat om jouself te bemagtig en hande te vat met jou bure nie.

Dis nie moeilik om tot aksie oor te gaan nie. Stig ʼn WhatsApp-buurtwaggroep, leer van die suksesse van ander buurtwagte, organiseer jou gemeenskapslede om deel te neem aan beveiligingsaksies en hou self aan om misdaadgevalle by die polisie aan te meld.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Petrus Heigers ·

Al wat ou cele gedoen het daarvoor is die blankes te probeer ontwapen (pateet)

John ·

Ons droom oor Westerse normale en wonder hoe en waarom die teenoorgestelde nl Afrika se normaal gedy. Hoe op deeske aarde gaan al wat Afrikaner is nag en dag wagter-op-die-muur teen ‘n prys… soms ‘n lewe… ‘n regering se werk vir hom wil doen. Ons sal moet begin dink oor waar ons wil bly ook met die oog op die nuwe Nasionale Gesondheidsplan want rillerstories oor baie plekke gaan nie in sprokies verander nie.

Andries ·

Waarom wag!

Selfdoen is die nuwe norm! En dit is goed vir ons om dit aan te leer.

Jerry ·

Gemeenskappe moet op hulle regte saamstaan en saam met wetstoepassers hulle buurte en strate terugvat sonder om die wet te oortree, sodat daar weer veiligheid en voorspoed in die buurte heers!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.