Genoeg misdaad vir ʼn weermag?

Deur Marnus Kamfer

‘n Lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens tydens die Julie-onluste van 2021 (Foto: LUCA SOLA / AFP)

Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, het onlangs voorgestel dat die “beste aspekte” en “elemente” van die destydse kommandostelsel – wat in 2003 onder die leierskap van voormalige minister Mosiuoa Lekota en voormalige president Thabo Mbeki die onderspit gedelf het – weer moet herleef in die vorm van ʼn “burgerlike veiligheidstruktuur”.

Hierdie opmerking asook die DA se verwelkoming daarvan het opnuut die aandag op die burgerlike samelewing se rol in die beveiliging van gemeenskappe en bekamping van misdaad gevestig.

Vanmelewe dae se idee van kommando’s en polisiereserviste blyk die ridder op die wit perd teen die oënskynlike onstuitbare draak van misdaad te wees. Die sprokie – wat beïnvloed word deur voortdurende besnoeiing van die nodige begrotings, ondoeltreffende bevelstrukture, kaderontplooiing, die onwilligheid om sonder vergoeding as vrywilliger diens te doen, korrupsie en ʼn see van ander hindernisse – word egter in golwe van vlamme verswelg.

Kortom word vrywilligerstrukture in die statutêre magte eenvoudig nie as die oplossing gesien nie.

Die leemte wat die val van die kommando en kwynende polisiereservisstelsels teweeg gebring het, het veroorsaak dat menigte burgers uit hul gerustheid in die snoesige omhelsing van staatsafhanklikheid ontnugter wakker geskrik het.

Burgers het stadig maar seker na geleenthede begin soek om, op georganiseerde wyse, self teen misdaad op te staan en hulle onderskeie gemeenskappe te beveilig. Organisasies soos AfriForum het etlike jare gelede reeds die behoefte geïdentifiseer en gemeenskapslede die geleentheid gebied om hulself (as vrywilligers) te organiseer in hul eie buurtwagte onder die struktuur van AfriForum se gemeenskapsveiligheidsambreel.

Dié buurtwagte word dan deurlopend ondersteun met onder meer regshulp, doelgerigte opleidingsmodules, logistieke ondersteuning, administratiewe ondersteuning en ander wyses van bystand.

Suid-Afrikaanse wetgewing maak mildelik voorsiening vir individue om misdaad te help bekamp. Die strafproseswet 51 van 1977 dien veral as ʼn skatkis van gereedskap vir die ingeligte burger wat bereid is om hand in eie boesem te steek.

Arrestasiemagte, beslagleggingsvermoë en direkte samewerking met die polisie, is maar van dié gereedskap. Die beleerde wet op beheer van vuurwapens 60 van 2000 maak selfs in artikel 13 voorsiening vir ʼn persoon om ʼn vuurwapen te besit, te dra en aan te wend vir selfverdedigingsdoeleindes.

Benewens die laasgemelde, maak die reg voorsiening vir die regverdigingsgronde van noodweer en noodtoestand en maak die wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens in artikel 18(2) onomwonde voorsiening daarvoor dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) met alle lede van die gemeenskap kan saamwerk.

Die ironie is egter dat – ongeag al die wetgewing wat die burgery in staat stel om misdaad te beveg of die bestaande witskrifte wat pertinent lui dat die burgery meer betrek moet word in die veiligheid- en sekuriteitsarena – daar in die meeste provinsies eenvoudig nie afdwingbare wetgewing bestaan wat buurtwagte of enige burgerlike veiligheidsstruktuur, as struktuur, reguleer nie (beleid, wat uit die aard van die saak selde afdwingbaar is, uitgesluit).

Burgerlike strukture wat keer op keer deur die staat teleurgestel en afgeskeep word, koester geen begeerte om aan die staat of statutêre magte te rapporteer en direk onder hul jurisdiksie te val nie. Hulle verkies eerder om verantwoording te doen aan die gemeenskappe wat hulle dien, tot die geweldige misnoeë van die sentralistiesgeoriënteerde ANC.

Die vraag ontstaan dus of georganiseerde, opgeleide, professionele strukture weens ʼn tekort aan doeltreffende wetgewing, outomaties as sogenaamde vigilante groepe geag moet word? Ongeag die feit dat lede van die strukture gebruik maak van toegekende, erkende magte soos hierbo aangedui?

Myns insiens moet daar gepoog word om die antwoord te vind in die Grondwet. Artikel 10 van die Grondwet waarborg burgers van die land die reg op menswaardigheid, artikel 11 die reg op lewe, artikel 12 die reg op vryheid en sekuriteit van persoon, artikel 18 die reg op assosiasie en artikel 21 die reg op vryheid van beweging.

Teen die agtergrond hiervan, is dit myns insiens duidelik dat ʼn georganiseerde burgerlike struktuur of buurtwag hierdie regte, en dus die grondwetlike en demokratiese bestel van die land, beskerm. Dit alleen vestig die fondament vir ʼn buurtwag of dergelike struktuur se bestaansreg.

Is dit nie waarskynlik dat die magsbehepte regering van die dag gemeenskapbuurtwagstrukture as slaansak gebruik en weier om sodanige strukture na behore te ondersteun, ongeag hul doeltreffendheid, in ʼn poging om homself te verskans teen die onvermydelike winde van federalisme nie?

Federalisme dikteer immers dat gemeenskappe die mag moet kan hê om self leiding en beheer te kan neem oor hul eie veiligheid, sonder onredelike inmenging of verlangsaming deur die staat.

Ons het eenvoudig nie meer die keuse nie. Ons kan nie meer apaties hoop vir die staat en vervalle polisie en weermag om skielik hul grondwetlike mandaat na te kom en ons te beskerm nie. Ons moet ons moue oprol en by ons gemeenskapsveiligheidstrukture en buurtwagte betrokke raak.

Ons kan ons eie toekoms in ons hande neem en ʼn beter Suid-Afrika vir ons nageslagte nalaat.

  • Marnus Kamfer is AfriForum se regs-en risiko-bestuurder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Botterblommetjie ·

Ek gister met twee polisie dames te doen gehad. Dame voor kar ingeloop. Hulle het dadelik die gemeenskap se kant van die saak geluister en nie ag geslaan op die werklike getuienis nie. Hulle wou ook nie laat bloed trek by haar nie. Ambulans sê hy moet opdrag van die polisie kry, en polisie vrou weier beslis. So as dit so gaan, wat gaan meer polisie/ weermag help. Hulle is nie regverdig en diskreet nie. Magsbehep is ‘n lelike ding wat baie mense met net bietjie mag misbruik.

Oros Soros ·

Kyk maar net wat het die Weermag tydens Covid 19 inperkings gedoen, veral tov die persoon in Alexandra wat bier in sy eie erf gedrink het. RIV Collin Khosa.

Antie Sarie ·

Pre 1990 was niemand met n kriminele rekord in enige uniform mag (polisie, weermag, gevangenis diens ens) toegelaat nie. Blykbaar is dit nou n vereiste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.