Georganiseerde gemeenskappe kan geweld in 2022 stuit

Deur Ian Cameron

Ian Cameron.

Die situasie in Suid-Afrika is ʼn perfekte storm; ʼn tikkende tydbom wat enige oomblik kan ontplof. Daar is ʼn kriminele ekonomie in Suid-Afrika, aangevuur deur politieke hebsug, selfvoldaanheid en onbeholpenheid, wat alles tot ʼn kwaadaardige kriminele virus saamgesnoer het wat al hoe nader aan diegene kruip wat dit die minste verwag.

Die werkloosheidsyfer is die hoogste nóg en statistiek rakende geslagsgebaseerde geweld maak Suid-Afrika ʼn wêreldleier met 250 verkragtings per dag. Dit alles terwyl vertroue in die Suid-Afrikaanse regering op ʼn laagtepunt is. Indien Suid-Afrika bloot gedefinieer sou word in terme van die prestasie van die staat, het dit die land geword wat korrupsie, bloedvergieting, vernietiging en massa-armoede verteenwoordig. Burgers leef in vrees weens die 60 moorde wat elke dag plaasvind.

Alhoewel dit aanvanklik te pessimisties mag lyk, is dit tyd om die ANC, wat die nasie feitlik in ʼn smerige put van korrupsie omskep het, tot verantwoording te roep. In die afgelope 48 uur alleen is nog ʼn vrou in Inanda verkrag en vermoor en het nog ʼn geval van geslagsgebaseerde geweld opspraak gemaak. Dié geval los ʼn mens met die vraag: waarom sou ʼn groep jong mans ʼn bejaarde vrou herhaaldelik verkrag  ̶  totdat sy só verswak is dat sy voor ʼn polisiestasie ineenstort en sterf? Ons nasie gaan onder ʼn epidemie van die verval van ons morele stoffasie gebuk.

Dit is ʼn skande om te sien hoe president Cyril Ramaphosa glimlag terwyl hy die eerste deel van die staatskapingsverslag ontvang, wat basies ʼn opgesomde biografie van die regerende party is. Terwyl die parlement weens ʼn wanfunksionele regering brand, word ʼn hawelose man in hegtenis geneem. Ten spyte hiervan het nie ʼn enkele minister of senior ANC-amptenaar saam met Zandile Mafe (49) in die beskuldigdebank verskyn terwyl hy verbysterd en verward in die kameraflitse gestaar het nie. Mafe is vir die wolwe gegooi om die blaam vir nasionale onbevoegdheid te dra. Of hy nou die een was wat die vuurhoutjie aangesteek het of nie – hy het die sondebok vir ʼn veel groter ramp geword.

Dit is ook opmerklik dat nie een van die sogenaamde “12 opstokers” van die Julie-onluste, wat groot dele van die land op sy knieë gedryf het, aangekeer of vervolg is nie. Gevolglik het die Suid-Afrikaanse regering hom effektief van die mense vervreem en inwoners, ryk sowel as arm, verpes dit.

Ons moet erken dat die ANC se magsverlies in die meeste metrogebiede nie outomaties ʼn afname in diensleweringsprobleme tot gevolg sal hê nie. Dit lyk of sabotasie van nasionale sleutelpunte en plaaslike infrastruktuur ook aan die toeneem is.

As gevolg van al die bogenoemde faktore sal burgerlike onrus en geweld uiteraard eskaleer. Die onus rus op Suid-Afrikaanse burgers om te verseker dat die land nie die gewelddadigste jaar in twee dekades ervaar nie.

Kriminele aktiwiteite floreer in Suid-Afrika en baie mense, wat andersins sou vermy om by hierdie aktiwiteite betrokke te wees, sien dit nou as ʼn oplossing om aan hul gesinne te voorsien. Dit verskoon egter nie die verskriklike brutaliteit waaraan baie slagoffers onderwerp word nie.

Een goeie ding het uit die Julie-onluste gekom: Suid-Afrikaners van alle sfere van die samelewing het opgetree waar die regering bitterlik misluk het. Nuwe standaarde is daargestel vir die manier waarop gemeenskappe kan opstaan en terugveg wanneer die regering sy plig versuim.

Al sou dinge verbeter, sal die Suid-Afrikaanse Polisie nie in die volgende dekade hul eertydse glorie kan herwin nie. Dit is dieselfde polisiemag wat toegelaat het dat staatsbeheerde wapens vrylik aan misdaadsindikate versprei word, terwyl Bheki Cele, minister van polisie, mik om wetsgehoorsame burgers te ontwapen.

Om hulself en hul gemeenskappe teen onstabiele tye in die nabye toekoms te beskerm, moet gemeenskappe vier stappe volg:

  1. Elke lid van die gemeenskap behoort deel te wees van ʼn goed gekoördineerde patrolliespan. Misdaad en politieke misdaad soos die pandemonium wat ons in 2021 gesien het, kan voorkom word deur die publiek se bewustheid van hul verantwoordelikheid in die gemeenskap. As hulle wil tred hou met ontwikkelende tendense, moet hulle ʼn stewige inligtingstelsel bou wat misdaadpatrone kan voorspel.
  2. Mense wat aktief aan die gemeenskapsveiligheidsinisiatief deelneem, moet ʼn gevestigde kommunikasiekanaal skep.
  3. Ontwikkel jou vaardighede op ʼn individuele vlak, maar ook as ʼn groep. Dit is moontlik om ʼn gemeenskap te leer om krisisse te hanteer en te koördineer deur groepopleidingsessies te hou. Dit leer gemeenskappe die waarde van voorvalbeplanning sodat krisisse op die mees effektiewe manier deur suksesvolle beplanning opgelos kan word.
  4. As jy ʼn vuurwapen vir selfverdediging besit, moet dit altyd gedra word en alle wetlike regulasies moet gevolg word. Gereelde opleiding en oefening is ook belangrik.

Plaaslike gemeenskappe in Suid-Afrika staan ​​op die randjie van ʼn volledige en onomkeerbare ineenstorting. Burgers kan eerder kies om saam te werk om ʼn veilige en volhoubare toekoms te vestig deur harde werk op plaaslike vlak.

ʼn Nasionale verkiesing in 2024 is ongetwyfeld belangrik, maar dit is nie die enigste oplossing nie aangesien die huidige situasie veels te sleg is om alleen op ander staat te maak om stabiliteit te herstel.

Ons moet verantwoordelikheid neem vir ons eie sukses as ons ʼn voorspoedige toekoms wil hê.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Breytie ·

Dit staan elke gemeenskap vry om ‘n GPF (gemeenskapspolisiëringsforum) te stig sodat inspraak gekry kan word in die funksionering van die betrokke polisiestasie. Samewerking tussen gemeenskap en polisiestasie dra baie by om misdaad van die betrokke area te analiseer en strategieë uit te werk om dit te bekamp. Dit kan ook verhoed dat polisielede self deelneem aan misdaad. Onbekend maak onbemind. Daarom moet daar gereeld gesprek plaasvind tussen polisie en gemeenskap.

Swerwer ·

Klink alles goed, net jammer dat dit nie suksesvol toegepas word nie. Die SAP kan nie vertrou word nie en ongelukkig is daar altyd maar inligting wat uitlek op besprekings by GPF en soos blits versprei word aan die verkeerde ore.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.