Het die regse golf gebreek?

Pro-Brexit-ondersteuners betoog . (Foto: Jonathan Brady, AP)

Vir omtrent die afgelope sowat vyf jaar was daar ʼn regse politieke golf in veral die Weste aan die opbou. Dit het veel te doen met die instroming van migrante na Europa in veral 2015. Die aanvanklike verwelkoming van die migrante het later plek gemaak vir ontnugtering en ʼn gevoel van bedreiging en het stukrag gegee aan nasionalistiese, populistiese en anti-gevestigde orde politici en partye orals in die Weste.

Beduidende mylpale van die regse golf was die oorwinning vir die Brexit-stem in die referendum in Brittanje in 2016 (wat op sy beurt wesenlik beïnvloed is deur die instroming van migrante na die Europese vasteland en die vrees dat hulle ook in groot getalle Brittanje binnekom); die oorwinning van Donald Trump in 2017; die opkoms van die Alternative für Deutschland (AfD) in Duitsland as eerste party regs van die middel, wat in 2017 die nasionale parlement in Duitsland betree het; die groot steun vir Marine Le Pen en die Front National in Frankryk met die Franse presidentsverkiesing in 2017; die vorming van koalisieregerings in Oostenryk en Italië met uitgesproke populistiese en regse partye in onderskeidelik 2017 en 2018; die stewige vertoning van patriotiese en anti-globalistiese leiers en partye in talle state van Oos-Europa, by name in Pole (2015 en weer in 2019), Hongarye (2014 en weer in 2018) en die Tsjeggiese Republiek (2017) en die sukses van Euro-skeptiese en nasionalistiese partye by die verkiesing tot die Europese parlement in Mei 2019.

Boris Johnson. Foto: (Lindsey Parnaby/Pool via AP)

Alhoewel Boris Johnson ’n perd van ’n ander kleur is en eerder as eksentriek-liberaal as tradisioneel konserwatief beskryf moet word, was ook sý verkiesingsoorwinning aan die einde van 2019 deel van die golf wat die belange van die eie volk en land bo die belange van die Europese Unie en die globalistiese “groot geheel” stel. Buite die Weste kan die verkiesing van die uitgesproke regse Jair Bolsonaro tot president van Brasilië aan die einde van 2018 as deel van dié beweging gesien word. Ook in ander nie-Westerse lande het nasionalistiese en populistiese leiers opgang gemaak en hul posisie gevestig. Hier sou Wladimir Poetin genoem kon word.

Behalwe vir die politieke oorwinnings van partye en leiers was daar ook nuwe lewe wat die metapolitiek betref, in die vorm van konserwatiewe dinkskrums, nuwe, alternatiewe media en behoudende intellektueles wat die gevestigde links-liberale orde uitgedaag en bevraagteken het.

Dit wil egter voorkom asof die links-globalistiese elite ná aanvanklike skrik en onsekerheid hergroepeer het, met mening terugslaan en weer op die voorvoet is. Hulle mag is immers baie groter en as ’t ware globaal. Die wêreldwye kultuuroorlog is soos tussen ʼn groot moondheid en ’n groep rebelle. Rebelle kan soms wen, maar die groot moondheid het gewoonlik die langer asem as hulle besluit om die stryd enduit te voer en geen koste te ontsien nie.

Greta Thunberg, die Sweedse omgewingsaktivis, by die klimaat-aksieberaad by die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York. (Foto: Jason DeCrow, AP)

Dis moeilik om ʼn presiese draaipunt of oorsaak vas te stel. Wat egter ʼn beduidende rol speel, is die narratief en hoe kragtig en oortuigend dit oorkom. Ten eerste het die immigrasievraagstuk en die daarmee verbandhoudende Islamisering, terreur en misdaad op die agtergrond getree. Nie omdat dit opgelos of effektiewelik beveg is nie, maar omdat daar suksesvol ander vraagstukke as veel groter bedreiging voorgehou is. Die jaar 2019 het in die teken van die klimaatveranderingsbetogings gestaan, veral met die Fridays For Future-beweging en hul frontvrou Gretha Thunberg, wat prominent deur die meningsvormers op die voorgrond geplaas is. In 2020 het die Covid-19-pandemie natuurlik die allesoorheersende wêreldwye onderwerp geword en, alhoewel dit nie ’n regse of linkse onderwerp is nie, het dit die regerings versterk wat glo in die sterk en beherende staat en wat miljarde op skuld uitdeel om almal deur die krisis te help.

Angela Merkel. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

In Duitsland het dit byvoorbeeld die voorheen ongewilde en uitgeputte Angela Merkel in die algemene persepsie weer op die voorgrond geplaas as sterk leier, sonder dat sy self veel gedoen het. In die sterk desentrale VSA, daarteenoor, kon Donald Trump nie die rol van krisisbestuurder speel nie en die media kon dit regkry om hom vir alles te blameer. Ook Bolsonaro (in die eweneens desentrale Brasilië) is daargestel as swak leier. Meer onlangs was die Black Live Matters (BLM) betogings ’n gulde geleentheid vir linkses wêreldwyd om hul gunstelingtema, diskriminasie en rassisme, op die voorgrond te plaas en daarmee saam haat op alles wat wit en Westers is, aan te blaas. Omdat niemand in die hoofstroommedia moed gehad het om die golf teen te gaan nie, het min die BLM-beweging gesien vir wat dit eintlik is: linkse ekstremiste met ’n gevaarlike agenda.

Die feit dat konserwatiewes selfs die laaste bietjie invloed in die hoofstroommedia verloor het, het die linkse narratief natuurlik bevorder. Sosiale media bereik nie almal nie (veral nie die meer senior burgers) en boonop is die linkses net so betrokke daar, veral omdat hulle deur regerings onder die dekmantel van “’n stryd teen die regse gevaar” as kuberaktiviste betaal word. Boonop word die sosiale media toenemend deur enkele globale rolspelers beheer wat sensuur toepas teen alles wat as regs gesien word. Twitter, Facebook en YouTube as effektiewe mediums van beïnvloeding, word toenemend linkse domeine.

Foto: (AP Photo/Jens Meyer)

Laastens het ook verskeie suksesvolle sentrum-regse koalisieregerings uitmekaar gebreek, soos in Italië en Oostenryk in 2019. Elders word regse leiers of partye deur hofsake, betogings, binnegevegte en massiewe aanvalle deur ’n breë front van verlinks tot sentrum uitgeput en hul beweegruimte ingeperk. Die voorbeelde is te veel om op te noem, maar die AfD in Duitsland is een voorbeeld van ’n party wat tans deur bogenoemde faktore in ’n hoek gedryf word en steun verloor.

Bepalend gaan wees of meer mense die groter probleme agter die rookskerms sien. Sekere gebeure kan nie geïgnoreer word nie, al swyg die media dit dood. Dit kan ook wees dat die globaliste en hul linkse steuntroepe hul hand oorspeel. Dit is reeds te sien met oordrewe koronamaatreëls wat meer skade as goed doen, of ’n anti-rassisme wat in anti-wit rassisme ontaard. Beslissend sal ook die Amerikaanse verkiesing in November vanjaar wees. Wen Joe Biden, dan sal dit die behoudende kragte wêreldwyd ’n gevoelige hou toedien, wen Trump, sal dit dalk die begin van ’n tweede behoudende golf wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sokrates ·

Inderdaad. Hierdie is n Dawid en Goliat soort geveg. Skitterende analise. Mense sien nie die groter prentjie agter al die rookskerms en kleiner gevegte raak nie. Die hoofstroommedia en sosiale media is lank reeds ook nie meer bronne van deurdringende en eerlike beriggewing en ewekansige ontleding nie. Slegs sekere narratiewe word gedryf. Oral oor word beroepsmense wat nie die linkse liberale agenda dien nie, “gekanselleer””, Bari Weiss by die New York Times, Jordan Peterson by sekere universiteite, om maar net twee uit n see van mense te noem. Hier woed n grootskaalse kultuur oorlog, en die teiken is die westerse beskawing en sy waardes. “Links” het werklik niks meer in gemeen met die klassieke liberalisme en n gesonde konserwatisme nie. Daar is n gesegde wat lui:” He can’t see the wood for the trees”. Mense staar hul blind teen individuele “bome” soos BLM, maar sien nie dis eintlik die woud wat al hoe meer verstikkend op hulle toemaak nie……..

Human ·

Die regse kant se probleem is nie die sogenaamde regses. Die probleem is die leiers wat die regses in die VSA en Brasilie gekies het om hul te verteenwoordig. Twee van die swakste presidente nog, wat hierdie twee lande moet lei, deur die donker tye en hulle gee nie ‘ n duit om vir al hul mense, net soos die ANC regeerders wat die RSA in wanhoop het, omdat hul belangstelling net is, om hulself te verryk, ten koste van die inwoners van die land.

Eugene ·

Trump se statistiek stem nie ooreen met stelling van “swakste President nog” nie. Voor China die covid19 op wereld los gelaat het. het Trump die laagste werkloosheidsvlak in geskiedenis gehad van 3%, inflasie 1,7%, ekonomie se groei op n staduim gedraai by 4%. Jy moet terug gaan na 1985 om beter resultate te sien. Sy verkiesing het linkse media en politisie onkant gevang en word sy sukses agter vals berigte versteek.

Human ·

Wie die meeste lieg en vals inligting versprei is Don Tantrum Trump en waar is hul werkloosheidsvlak nou. Hulle het ‘n hoe groei en werk koers gehad, maar ongelukkig is dit nie die alfa en omega. As jou land se mense op ‘n streep doodgaan en die president het net een begeerte en dit is om homself te verheerlik en voortegee dat hy die belange van sy land en mense op die hart dra moet ‘n mens baie stiksienig wees oor wat tans aan die gebeur is in Amerika en die afgesaagde rympie van “fake news” as jy nie jou sin kry nie wys net die krake in sy karakter waarvan hy in elk geval nie veel het.

Piet ·

Ek dink die regse golf het gebreek en COVID en klimaatsverandering was die laaste strooi. Met Trump/Bolsonaro/Boris/Putin kan ons sien die regterkant het geen antwoorde nie. Hulle bly net oorbuig vir die grootmaatskappye en doen niks vir mense. Die koel is deur die kerk en mense het nou wakker geword. Al wat hulle oor het is om op die kultuuroorlog (wat hulle goed verloor tans) te hammer en mense op te stook. Well, ons sien nou hoe goed dit werk. BLM wen elke dag net nog meer grond en ek is hier vir dit!

J ·

Goeie artikel dankie!

Soos die ewigdurende oorlog tussen leeus en hiënas in die natuur.

Een tot een is ‘n leeu by verre die meerdere vergeleke met ‘n hiëna … maar as ‘n trop hiënas ‘n geisoleerde leeu pak kan die leeu erg gewond of selfs gedood word.

Die leeutrop is afhanklik van die ‘maanhaar’ mannetjies (wat hiëna “terminators’ is) ! …. en samewerking in die leeutrop.

Trump is só ‘n ‘hiëna terminator’ …. maar hy kort die ondersteuning van die ander Westerse ‘maanhaar’ leeus!

Eugene ·

Ek dink / hoop die linkses is besig om hulle hand te oorspeel. Alhoemeer “silent conservatives” kom na vore en spreek hulle uit teenoor belaglike linkse ideologiee. Die gedrag wat wereldwyd gesien word gaan oor soslialisme. Die aksies stem ooreen met dinge wat deur kommunisme gedoen is om oor te neem bv Val alle gesagstrukture aan soos optogte teen polisie, skep verwarring oor eie identiteit, soos die 200 geslagopsies in New York, morele verval, alle tv reekse flieks het deesdae homoseksuele karakters, ondertrouery ens, christenskap word bespot en aangeval ens. Die konserwatiewes is gatvol en het oorlog dalk nou net begin

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.