Hulp aan boere welkom; meer begrip egter nodig

Deur dr. Theo de Jager

dr-theo-de-jager-01

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. Foto: Verskaf.

Enige hulp aan boere tydens die staat van afsondering moet verwelkom word.

Daar bestaan tans ’n persepsie dat die landboubedryf ongehinderd met sy sake kan voortgaan, omdat landbou uitgesluit is van die streng afsonderingsmaatreëls. Dít is egter nie waar nie.

Heelwat van die landbouwaardekettings is onderbreek en die geïntegreerde aard van die verskillende produkte wat op ’n plaas geproduseer word – asook die feit dat net sommige daarvan as noodsaaklike produkte beskou word – veroorsaak dat boerdery as ’n sakeonderneming op baie plase in die wiele gery word. So byvoorbeeld is daar baie boerderye waarvan groente en vrugte of vleis net ’n deel van die jaarlikse inkomstestroom vorm en wat deur tabak, bosbou, of sierplante aangevul word. Laasgenoemde groepering van produkte word nou uitgesluit en dit bring die lewensvatbaarheid van die totale boerdery in gedrang.

Dieselfde gebrek aan begrip vir die voedselsisteem in Suid-Afrika was gister op ’n mediakonferensie sigbaar toe Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, aangekondig het dat R1,2 miljard beskikbaar gestel sal word aan kleinskaal- en kommunale boere. Hoewel dié boere ’n groot rol in die armste dele van die land speel om huishoudelike voedselsekerheid in stand te hou, dra hulle weinig by tot die lewering van kos wat in stede op die winkelrakke beskikbaar is. Daarteenoor is slegs R100 miljoen by Landbank beskikbaar gestel vir hul kliënte in die kommersiële sektor wat meer as R126 miljard se versekerde skuld het. Dit is nie naastenby genoeg om eens ’n merk aan die oppervlak van nood te maak nie.

Boere bly skepties oor die departement se vermoë om met hierdie aangekondigde hulp ’n wesenlike bydrae te maak, gegewe die departement se jammerlike geskiedenis van korrupsie, wanbestuur en ondoeltreffendheid. Daar is steeds weinig hulp van die staat se kant af aan boere wat die afgelope twee jaar deur die droogte op hul knieë gedwing is. Van Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) se lede, wat begunstigdes van grondhervorming is, het sedert 2013 steeds nie die navestigingstoelae ontvang wat hulle in staat sal stel om aan die gang te kom nie, ten spyte van feitlik maandelikse besoeke aan die departement se provinsiale kantoor.

Dié lede is meestal kleinskaalboere wat vir hulp sou kwalifiseer – volgens die kriteria wat Didiza vandag aangekondig het – maar uiters skepties is oor die departement se wil en vermoë om hulle te help. Dit spreek uit die talle navrae wat Saai reeds van swart boere ontvang het oor die boereregister waarna die minister verwys. Dié register behoort vir openbare insette op die internet beskikbaar gestel te word aangesien die meeste boere nie eens van die register weet nie.

Alhoewel die minister ook na die lede van kommoditeits- en landbou-organisasies verwys het, het haar departement juis die afgelope maand getoon dat hulle nie eens ’n volledige lys van landboustrukture op hul nasionale databasis het nie. Die proses oor hoe om aansoek te doen en daarna die aansoeke op te volg, moet deursigtig wees en die minister behoort spesiale maatreëls te tref om te verseker dat die administrasie daarvan skoon en korrupsievry sal bly.

Hierdie fondse moet gaan aan boere wat die vermoë het om voedselsekerheid in Suid-Afrika in die volgende ses maande te anker en wat deur die huidige inperkingsmaatreëls gekniehalter word. Saai het reeds ’n aanlynplatform geskep waardeur lede wat kwalifiseer, gehelp sal word om hul aansoeke volledig en betyds te liasseer. Saai sal ook opvolg om skoon administrasie in die departement af te dwing.

  • Dr. Theo de Jager is die direksievoorsitter van die landbou-organisasie Saai.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae