Ideologie van gelyke armoede se verskerpte aanval op private eiendom

eiendomregte-grondbesit-privaat

Foto: Aitoff/Pixabay.com

Deur Gawie Snyman

Met die Nasionale Vergadering se besluit van 27 Februarie is die bal vir grondonteiening sonder vergoeding aan die rol gesit. Die vraag is nou: Wat gaan die hersieningskomitee se aanbeveling teen die einde van Augustus wees?

Aanloop

Kyk ons terug, is dit baie duidelik hoe ons tot hier gekom het:

  • Die ANC se wêreldbeskouing is in wese deur die Marxisme gevorm en hierdie organisasies se ideologiese uitgangspunte was nog altyd kommunisties van aard.
  • Terwyl liberale Westerse lande soos Swede en die Verenigde Koninkryk ook die ANC help finansier het, was dit primêr kommunistiese lande soos die Sowjetunie, Oos-Duitsland en Kuba wat die ANC-terroriste gefinansier, opgelei en bewapen het.
  • Dit was op inisiatief van die Sowjetblok dat apartheid in 1973 deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies tot ’n “misdaad teen die mensdom” verklaar is. Weens die dubbele standaarde teken die VSA sy teenstem soos volg aan: We cannot accept that apartheid can be made a crime against humanity. Crimes against humanity are so grave in nature that they must be meticulously elaborated and strictly constructed under existing international law.”[1]
  • Tydens Codesa maak die ANC verskeie ideologiese toegewings om die staatsmag te bekom, net om dit daarna onder die vaandel van “to redress the injustices of the past” weer by die agterdeur in te sluip en private eiendomsreg stelselmatig uit te kalwe.
  • Die Wet op Gelyke Indiensneming (55 van 1998) word gepromulgeer aan die hand waarvan aan ’n besigheidseienaar voorskryf wie hy mag aanstel deur rasgebaseerde kwotas vas te stel.
  • Die Nasionale Waterwet (wet 36 van 1998) word gepromulgeer. Water word nou as ’n nasionale bate beskou en die onderskeid tussen private en publieke water, word afgeskaf. Eksklusiewe waterregte word vervang met regeringsbeheerde watervergunnings. Hierdie stap is regverdig aan die hand daarvan dat die nasie se behoefte aan volhoubare waterhulpbronne swaarder weeg as die individu se eksklusiewe gebruiksreg op water. ’n Konstitusioneel houdbare ontneming het plaasgevind. Aangesien die staat egter geen regte toegeëien het in hierdie proses nie, word daar tot die slotsom gekom dat hierdie bepaling nie op die onteiening van eiendom neerkom nie.[2]
  •  In 2002 word die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleum Hulpbronne (wet 28 van 2002) gepromulgeer wat alle mineraalregte sonder vergoeding ontneem met die staat as bewaarder daarvan.
  • Die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB) (wet 53 van 2003) tree in 2004 in werking. Dit bepaal dat besighede eers ’n deel van hul eienaarskap aan swartes moet afstaan alvorens hulle met staatsdepartemente besigheid mag doen. Hierdie wet word in 2013 gewysig waarin strenger voorwaardes gestel is.
  • Aan die hand van bogenoemde BBSEB-wet het die departement van handel en nywerheid in 2010 ’n Mynbouhandves bekendgestel wat sekere doelwitte met betrekking tot swart eienaarskap, swart bestuur, verkryging vanaf swart verskaffers, ensovoorts, gestel het. Hierdie Mynbouhandves is in 2016 gewysig en is die doelpale tot voldoening aan dié wet geskuif, wat nou baie hoër eise aan die myne gestel het.
  • Op 16 Desember[3] 2017 word daar op die ANC se 54ste Nasionale Konferensie aangekondig dat die ANC sal voortgaan om die Grondwet te wysig ten einde onteiening sonder vergoeding (OSV) moontlik te maak.

Wanneer bogenoemde in ag geneem word, word dit baie duidelik hoe die staat sedert 1994 onder die vaandel van “redress of injustices of the past” en “representivity” stelselmatig meer beheer oor die ekonomie begin vestig het en eintlik alreeds vir ’n geruime tyd sy mag misbruik om die eienaarsbelang in besighede met dwang te herverdeel. Grond is maar net die volgende logiese stap in hierdie proses.

Wat ons te wagte kan wees

President Ramaphosa het gesê dat hy ten gunste van OSV is, maar dat dit op só ’n wyse moet geskied dat dit nie die ekonomie sal skaad of voedselsekerheid in gedrang bring nie.

Sou ons dan die lesse van die verlede as vertrekpunt gebruik en ons waag dit om ’n vooruitskatting te maak, kan ons met redelike sekerheid vir mekaar die volgende sê:

  1. Oor die volgende paar maande kan ons onluste en selfs onwettige grondbesettings verwag. Dit sal deel van ’n ANC-strategie wees om dringendheid vir wettige onteiening te skep. Die ANC sal daarom aanvoer dat OSV dit ten doel stel om geweld te voorkom en die “injustices of the past” op ’n wettige en verantwoordelike manier reg te stel.
  2. Dit is na aanleiding van bogenoemde dringendheid dat die ANC sal aanvoer dat daar tans dwingende en uitsonderlike omstandighede bestaan om voort te gaan met OSV.
  3. Die ANC het egter steeds ’n troefkaart wat hy kan speel. Net soos met mineraalregte en waterregte hoef die ANC nie die Grondwet te wysig om te kry wat hy wil hê nie. Deur grond, nes water, tot ’n nasionale bate te verklaar met die staat as bewaarder daarvan, kan grond, sonder vergoeding, bloot ontneem word.
  4. Voorstelle sal gemaak word dat Suid-Afrika ’n huurpagstelsel (wat as sekuriteit kan dien) invoer, met boere wat steeds op hul plase, soos voorheen, kan aanhou boer.
  5. Net soos met die Mynbouhandves kan ons verwag dat ’n Landbouhandves doelwitte van swart bestuur en swart aandeelhouding sal stel en dat die boer se hernuwing van sy huurpag (of grondlisensie) sal afhang van die bereiking van hierdie doelwitte.[4]
  6. Daar is ’n goeie kans dat georganiseerde landbou en veral van ons megaboere maklik in die gedagte van ’n huurpag met sekere SEB-doelwitte sal inkoop. Die rede hiervoor is eenvoudig – meer welvarende boere sal vinnig besef dat die kleiner boere nie oor die vermoë beskik om die teikens van die Landbouhandves te haal nie en sal hulle die kans benut om ook toegang tot hierdie grond te kry. Hulle sal daarom so vinnig as moontlik aan die teikens voldoen en hulself posisioneer om kleiner boere se huurpagte te bekom.
  7. Daar is ’n goeie kans dat daar nie soseer oor die beginsel van huurpag vs. eiendomsreg gedebatteer sal word nie, maar eerder die aangewese tydsduur van die huurpag asook die doelwitte wat daarmee saam bereik moet word.

Dit sal ook naïef wees om enige van die volgende gedagtes te koester:

  • Dat pres. Ramaphosa se rykdom en sakebedrywighede sy kommunistiese ideologie sal temper.
  • Dat die sogenaamde voorheen benadeeldes die voltitel van die eiendom sal kry. Die staat sal of die voltitelhouer (in die geval van onteiening) of bewaarder (in die geval van ontneming) van alle grond – ook residensiële eiendom – word.
  • Dat dit ten minste meer swartmense toegang tot grond sal gee. Net soos met mynbou, sal dit nie die swartman op die straat wees wat hierdeur bevoordeel sal word nie, maar die kaders.
  • Dat grond in staatsbesit eerste vir herverdeling geoormerk sal word. Die staat dryf grondhervorming al jare en steeds is daar geen poging aangewend om staatsgrond aan die gewone swartman op straat beskikbaar te stel nie, waarom dit nou doen wanneer die regering juis druk vir die onteiening van grond?

Wat ons te doen staan

Daar is verskeie maniere hoe ons op hierdie risiko kan reageer, maar die meeste hiervan sal bloot reaksionêre optredes wees wat op die lang termyn min verandering teweeg sal bring.

Die enigste werklik volhoubare reaksie sal wees om die huidige narratief trompop te loop met ’n heeltemal ander wêreldbeskouing, met ’n ander waardestelsel en ander argumente van billikheid.

Die sosialistiese demokrasie as ideologie en sy argumente van gelykheid sal verwerp en ontbloot moet word vir wat dit is – die subtiele wegbereider van ’n totalitêre kommunistiese bestel wat oral onreg in die vorm van ongelykheid sien en dit dan deur staatsinmenging en staatsregulering wil verander.

Private eiendomsreg vorm een van die hoekstene van ons Christelik-Westerse beskawing. Die agtste gebod, Jy mag nie steel nie, is ’n baie duidelike bevestiging van private eiendomsreg.[5] Daar is geen Bybelse regverdiging vir die gedagte dat ons almal ewe ryk, arm of talentvol moet wees nie. Die Here Jesus se gelykenis van die talente in Mattheüs 25 ontbloot ook hierdie misleiding. Hierteenoor waarsku die geskiedenis van Ananias en Saffira (Hand. 4:32 e.v.) ons teen die sondige aard van die mens – ook ten opsigte van besittings. Wat dink u sou ’n Ananias en Saffira gedoen het as hulle deel van ’n Christelike owerheid was wat mense dwing om hul private besittings te verkoop en die opbrengste daarvan aan die owerheid beskikbaar te stel om dit volgens behoefte te verdeel?

Die woorde van Adrian Rogers, bring vir ons verdere perspektief oor wat vir ons sal voorlê:

“You cannot legislate the poor into freedom by legislating the wealthy out of freedom. What one person receives without working for, another person must work for without receiving. The government cannot give to anybody anything that the government does not first take from somebody else. When half of the people get the idea that they do not have to work because the other half is going to take care of them, and when the other half gets the idea that it does no good to work because somebody else is going to get what they work for, that my dear friend, is about the end of any nation. You cannot multiply wealth by dividing it.”

Bronne:

[1] https://www.afriforum.co.za/die-feite-oor-apartheid-misdade-teen-die-mensdom-en-die-gebruik-van-die-ou-vlag/

[2] Die Nasionalisering van Waterregte in Suid-Afrika: Ontneming of Onteiening, Elmarie van der Schyff

[3] Simbolies – die slag van Bloedrivier het op 16 Desember 1838 plaasgevind.

[4] https://www.netwerk24.com/landbou/Nuus/nafu-huurpag-is-die-antwoord-20170914, sien ook https://www.effonline.org/on-land

[5] Vgl. ook die verdeling van die beloofde land in Josua 14, in die besonder die uitsondering an Kaleb.

  • Hierdie artikel is verkort en met die vergunning van Die Boodskapper ’n publikasie van die AP Kerk geplaas. Lees die volledige artikel op Die Boodskapper se webwerf.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Eish ·

Uitstekende skrywe!
Nugter, beredeneerd, logies en besondere insig en wysheid.
Besonder insiggewend is die voorspelde reaksie van megaboere. Ek ervaar reeds die “Jerry” houding by die onlangse jongboere konferensie waar hul leiers tydens TV dekking hul besondere positiewe ingesteldheid oor die toekoms weerspieël, geen negatiwiteit tussen hul lede ervaar nie en dat hul oorloop van planne om te deel, mentorskap ensovoorts.
Hierdie skrywe ontbloot die motivering daaragter en laat my negatiewe ingesteldheid teenoor vermoëndes se ongebreidelde, koelbloedige selfsug oorgaan in n gebed van vergifnis, want hul weet nie wat hul doen nie. Weereens gaan die armer, kleiner, sout van die aarde boere die prys betaal. Diegene wat in die grootste mate deurloop onder plaas terrorisme.
My verstand besef dis oorlewingsbesluite vir batebehoud en beskerming, my hart skreeu egter verraad!

humor ·

Stem 100% saam. Nugter en in verstaanbare Afrikanertaal geskryf. Oor die hele Afrika en ook in die wereld is bewys dat dit die enigste werksmetode is om lande in te palm. Die beginsel om die padda stadig te kook het nie CR as oorsprong nie. Dit is al bykans eeue oud. Die destydse anc raadgewers vanuit die ooste en weste het die werksmetode duidelik oorgedra. Die selamie word skyfie na skyfie gesny. Na elke skyfie gaan daar n rimpel deur die volk en raak weer gewoond daaraan Ek plaas n groot vraagteken oor Mandela se wewillendheid aan die begin. Hy het maar die kookproses met groot wysheid stadig begin. Die raad is aan hom verskaf, want tyd speel nie n rol nie. Dit maar nou wat die eiendom betref. Met ander volkspilare is dieselfde gehandel in die proses van regstellendeaksies en transformasie. Volksbesef, wat betref moedertaal, kultuur en trots op sportgebied word weggekalwe.Op arbeidsgebied verlaat kundiges hul vaderland. Selfs ons godsdiens, die SKRIF word bevraagteken en verloor by baie mense sy geloofwaardigheid. Dit is in n groot ernstige mate vandag sigbaar. Sosiaal kommunisme pas pas die Afrika 100% want hy is met n bakhand gebore. CR se besoek buitelands is n retoriek aan Afrika. Plunder alles en gaan vra dan weer net om weer te vra. En dit pas die gulsige wolwe perfek. Internasionaal bestaan daar geen Kersvader nie.

Genoeg gehad ·

ANC sal so aangaan Totdat dit in SA net so lyk soos in Zimbabwe EN BOONTOE IN AFRIKA.

Casper Labuschagne ·

Puik nagevors. Ek sal die volledige artikel gaan lees.

HEVW ·

Met die Codesa – toegewings tydens die onderhandelingsproses het daar n opgewondenheid ontstaan en n reenboognasie was vir die massa goedgelowiges in sig. Ons is egter bedrieg en beroof. Die Mandela- gematigheid was goed beplan om met goedkeuring die AFrikaner mee tesleur. Dieselfde gebeur tans. n Gematigde CR is in beheer en die Codesa – taktiek word weereens herhaal met allerlei versekerings oor grondonteiening sonder vergoeding en die verandering van die grondwet. Sal dieselfde fout hom weer herhaal??????????????????????????/

Onvolledig ·

Waarom word onderhandelings vir selfbeskikking nie genoem as n moontklikheid nie?

Johan Strydom ·

Wat kan ons vir die ANC aanbied in ruil vir selfbesikking wat hulle nie net by ons kan vat nie?

bgj van der westhuizen ·

wel wat kan ons verwag ons was mos uit verkoop aan die anc deur die np party regering wat net so lankas hulle nues was gedink het

Marthinus Willemse ·

As ek nou duiwelsadvokaat kan speel:
Het Jesus nie vir die ryk man gesê hy moet alles verkoop as hy hom wil volg nie?

Kommunisme in die Sowjetunie was heeltemal anders as kommunisme in Afrika. In Rusland, bv, was alle opvoeding – van kindergarten tot universiteit – gratis, alle gesondheidsorg was gratis, alle behuising was gratis, alle vervoer was gratis. Jy moes werk tot 50, dan kan jy aftree. Indien jy nog wil werk is dit oukei, maar weet net dat `n jonger of meer talentvoller persoon jou kan uitskop. Indien jy nie van jou werk hou nie, kan jy bedank, maar jy moet binne 14 dae weer `n ander werk hê, anders word jy as `n sosiale parasiet geklassifiseer, en in die tronk gegooi. Die talentvolles het bonusse gekry, en dus meer verdien, maar daar was nie `n gejaag na rykdom (gierigheid) nie. Almal was gelyk, soos ons in die Bybel leer: almal word gebore as profeet, priester en koning.

Ons is gekant teen kommunisme omdat ons wil spog, beter as ander wil wees, meer vernamer as ander wil wees. Ons wil as doktor of mevrou-doktor aangespreek word. Ons wil spog oor ons kar of huis of vakansiehuis, terwyl kommunisme ironies genoeg, sonder dat dit hulle bedoeling was, meer na Jesus se leer gestreef het. (Net `n handjievol was werklik ateïste.)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.