Internasionale oorsig: Alle oë volgende week op debat in VSA

Pres. Donald Trump (links) (Foto: (AP Photo/Steve Helber); Joe Biden (regs) (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Aanstaande Dinsdagaand, 29 September, sal pres. Donald Trump en sy teenstander van die Demokratiese Party, voormalige adjunkpresident Joe Biden, in Cleveland, Ohio direk teen mekaar te staan kom in die eerste van drie verkiesingsdebatte van 90 minute elk wat regstreeks op televisie uitgesaai sal word.

In 2016 is die eerste TV-debat tussen Trump en Hillary Clinton deur 84 miljoen Amerikaners gevolg en daar word verwag dat selfs meer mense na volgende week se debat gaan kyk. Die rede hiervoor is dat vanjaar se verkiesingsveldtog baie onkonvensioneel is en dat groot verkiesingsbyeenkomste tot onlangs toe nie kon plaasvind nie. Kiesers het tot dusver redelik min van die twee kandidate gesien en die eerste debat bied vir albei kandidate ʼn noodsaaklike geleentheid om ʼn deurbraak te maak.

Hoewel die meeste kiesers sê dat hulle reeds besluit het vir wie hulle gaan stem, moet ʼn mens jou nie te veel daarin vaskyk nie. In baie verkiesings verander kiesers nog hul besluit in die laaste weke van ʼn veldtog. Verder bestaan die vraag steeds watter van die twee kandidate die beste daarin gaan slaag om sy ondersteuners by die stembus te kry. Met ʼn verwagte stempersentasie van tussen 50% en 55%, kan sterk optrede in ʼn debat presies wees wat ʼn kandidaat benodig om die regte kiesers op die regte plekke te oortuig om wel te gaan stem.

In 1960 het Richard Nixon voor die eerste debat teen John F. Kennedy gemaklik voorgeloop in die peilings. Nixon het egter moeg en onvoorbereid voorgekom en het onsamehangende antwoorde gegee. Kennedy het die debat gemaklik gewen en het kort ná die debat in die peilings begin voorloop. Sy oorwinning in die 1960-verkiesing kan direk aan sy prestasie tydens die eerste debat gekoppel word.

Die debat is die belangrikste vir Trump, wat steeds in die meeste peilings agter is. Dienende presidente sukkel gewoonlik in debatte omdat hulle die hele tyd hul prestasie van die afgelope vier jaar moet probeer verdedig. Daarteenoor het uitdagers die geleentheid om nuwe, onbewese planne voor te stel en kiesers se aandag aan te gryp. Trump benodig ʼn baie oortuigende prestasie in Dinsdagaand se debat.

Die vraag oor Joe Biden se kognitiewe vermoë, en of hy die stamina en konsentrasievermoë het om vir 90 minute lank helder, vinnig en duidelik teen Trump te kan debatteer, sal waarskynlik ook Dinsdag beantwoord word. Die debat gaan ʼn maak-en/of-breek-oomblik vir Trump en Biden wees.

Turkye, Ottomaanse oorblyfsel met meer vyande as vriende

Pres. Recep Tayyip Erdogan van Turkye (Foto: AP Photo/Kayhan Ozer, Presidential Press Service, Pool)

Die onlangse ondertekening van ʼn ooreenkoms tussen Israel en twee Arabiese lande, die Verenigde Arabiese Emirate en Bahrein, is deur Turkye veroordeel en die Turkse regering het dit selfs as verraad teenoor die Palestyne beskryf. Sedert pres. Recep Tayyip Erdogan in 2002 die staatshoof van Turkye geword het, het dié land ʼn aansienlik kouer benadering tot Israel begin volg wat by tye tot hewige woordewisselings aanleiding gegee het.

Wat egter duidelik is, is dat die Arabiese wêreld, en veral die meer welvarende Golflande en lande soos Egipte en Jordanië, wat reeds vir jare noue bande met die Weste handhaaf, aan beweeg het en duidelik nie meer gaan toelaat dat onvoorwaardelike solidariteit met die Palestyne hulle verhoed om stabiliteit in die Midde-Ooste te bevorder en sterker bande met Westerse lande te smee nie. Daar word selfs verwag dat nóg lande soos Soedan en Saoedi-Arabië binnekort ook kan begin om hul verhouding met Israel te normaliseer.

Turkye se besluit om tydens die sogenaamde Arabiese Lente die Moslem Broederskap te ondersteun, was bydraend tot die verswakkende verhouding tussen Turkye en talle Arabiese lande. Dit het in verskeie Arabiese lande in die noorde van Afrika en die Midde-Ooste tot groot ongelukkigheid met Turkye gelei. Die Turke se ondersteuning van Islamitiese groepe in Libië het ook die verhouding tussen Turkye en die Verenigde Arabiese Emirate en Egipte verswak. Turkse inmenging in Sirië en veral Turkye se jarelange stryd teen die Koerde word deur meer en meer lande as onaanvaarbaar beskou.

ʼn Effense swaai na regs in Italië

Argieffoto (Foto: Julia Casado/Pixabay)

ʼn Koalisie van regse partye kon in Sondag en Maandag se streeksverkiesings in Italië daarin slaag om beheer oor Veneto en Liguria te behou en om beheer oor Marche te kry. Die regse partye kon egter nie daarin slaag om in Apulië en Toskane te wen nie.

Die leier van die regse Lega Nord-party, Matteo Salvini, het ʼn sterk veldtog in Apulië en Toskane gevoer in die hoop om dekades van linkse regering in dié twee streke te breek. In albei streke kon die regse partye se goewerneurskandidaat egter nie daarin slaag om die linkse kandidate ore aan te sit nie.

Die sentrum-linkse Demokratiese Party het vier streke, waarin hy tot voor die verkiesing geregeer het, verdedig. Terwyl die party Toskane, Apulië en Kampanië behou het, het die party Marche verloor. In Marche, wat tot onlangs ʼn bastion van linkse politiek in Italië was, is die kandidaat van nog ʼn regse party, Fratelli d’Italia (FdI), oftewel die Broeders van Italië, tot nuwe goewerneur verkies.

Italië het tans ʼn koalisieregering bestaande uit die Demokratiese Party en die links-populistiese Movimento 5 Stelle (Vyfsterbeweging). Die Vyfsterbeweging was die grootste verloorder in die verkiesing met ʼn skerp afname in steun vir die party. Hoewel die Demokratiese Party ook in byna alle streke steun verloor het, is hul naelskraapse oorwinnings in Toskane en Apulië ʼn groot verligting vir die party.

Regse partye soos Lega en die Broeders van Italië dring reeds vir meer as ʼn jaar daarop aan dat ʼn vervroegde parlementêre verkiesing gehou word. Die koalisieregering is erg verswak nadat regse partye in verlede jaar se Europese verkiesing uitstekend gevaar het. Die uitslag van Sondag en Maandag se streeksverkiesings sal die wankelende koalisieregering waarskynlik aan die lewe hou, maar niemand weet presies vir hoe lank nie.

Indien daar vandag ʼn parlementêre verkiesing in Italië sou plaasvind, sou drie of vier regse partye waarskynlik meer as 50% van die setels wen. Dit is die een rede waarom die Demokratiese Party en die Vyfsterbeweging ten spyte van interne struwelinge en hul huidige verswakte posisie, alles moontlik sal probeer om ʼn vroeë verkiesing te voorkom.

Gaan Georgië op pro-Westerse koers bly?

Georgië (Foto: Freepik)

Georgië, daardie klein bergagtige landjie in die Kaukasiese gebergtes van Oos-Europa, hou op 31 Oktober ʼn belangrike parlementêre verkiesing. Die verkiesingsveldtog in dié land is reeds in alle erns aan die gang met Georgië se verhouding met die Weste wat as een van die belangrikste kwessies in die verkiesing na vore getree het.

Ná die val van die Sowjetunie en die onafhanklikwording van Georgië het dié land tot 2003 ʼn outoritêre, pro-Russiese regering gehad. In 2003 is die regering van Eduard Shevardnadze tydens ʼn revolusie uit die kussings gelig. Die land het egter in 2008 ʼn groot terugslag beleef toe oorlog met Rusland uitgebreek en Georgië twee van sy provinsies, Abchasië en Suid-Ossetië verloor het. Dié twee provinsies het onafhanklikheid verklaar en funksioneer vandag nog met die hulp van Rusland as outonome state, met die erkenning van minder as vyf lande.

Die afgelope paar jaar regeer die Georgiese Droom-party die land. Dié party het die afgelope ruk die implementering van heelwat van die drastiese hervormings wat ná 2003 ingevoer is, verlangsaam wat skerp kritiek vir hulle van opposisiegroepe op die hals gehaal het. Verlede jaar het betogings in die hoofstad Tbilisi uitgebreek nadat ʼn Russiese politikus parlementslede sou toespreek.

Terwyl talle ouer, landelike burgers van Georgië nog nostalgies oor die Sowjet-era is, is die meeste jong, stedelike Georgiërs baie sterk pro-Westers en pro-vryemark ingestel. Georgiërs is steeds kwaad vir Rusland oor die oorlog in 2008 en die verlies van twee provinsies. Duisende Georgiërs moes in 2008 uit dié twee provinsies vlug. Groot heinings met Russiese soldate wat dit patrolleer, is vandag steeds op die grens met dié twee provinsies sigbaar. In baie gevalle loop die grensdrade deur mense se eiendom en is hele gemeenskappe en selfs families van mekaar geskei.

In 2016 is ʼn ooreenkoms tussen die Europese Unie en Georgië onderteken met die uiteindelike doel om Georgië in Europa te integreer en EU-lidmaatskap uiteindelik vir dié land moontlik te maak. Om daarin te slaag moet die regering van Georgië omvattende politieke en ekonomiese hervormings deurvoer.

Die afgelope jaar se opstande en vrese vir toenemende politieke spanning, gepaardgaande met sommige analiste en opposisiegroepe se vrese dat die Georgiese Droom-party die land weer nader aan Rusland sal wil posisioneer, dreig om die groot vordering wat die afgelope paar jaar in Georgië gemaak is, teen te werk.

Die Wêreldbank beskryf Georgië as die sewende maklikste land uit 190 lande om in sake te doen. Die Wêreldbank het Georgië al gereeld geloof vir die land se ekonomiese hervormings wat dit besonder maklik maak vir mense om daar sake te doen. Op die Amerikaanse Heritage Foundation se Economic Freedom Index verskyn Georgië 12de van alle lande in die wêreld.

Die land toon die afgelope dekade jaarliks sterk ekonomiese groei, baie lae misdaad en min werkloosheid. Die per capita-inkomste in Georgië is steeds baie laag en dit word as een van die armste lande in Europa beskou.

Die komende verkiesing in Georgië is van groot belang vir die toekoms van dié land, maar ook van die streek en die hele Oos-Europa. Demokrasie in Georgië is nog in sy kinderskoene en die land se dapper besluit om, ten spyte van sy verlede en sy geografiese ligging suid van Rusland op die Swartsee, hom na aan die Weste te posisioneer, gaan nog heelwat getoets word.

Wankelrige, ongeloofwaardige regering besig om in België vorm aan te neem

Koning Philippe van België (Foto: AP Photo/Francisco Seco)

Koning Philippe van België het Woensdag die leier van die Vlaamse Liberale Party (Open VLD) Alexander De Croo en die leier van die Walloonse Sosialistiese Party (PS) Paul Magnette gevra om teen Maandag 28 September ʼn koalisieregering te vorm wat op 1 Oktober ingehuldig kan word. Dit volg nadat Belgiese kiesers reeds in Mei verlede jaar na die stembus gegaan het, maar elke poging om ʼn koalisieregering te vorm, het tot dusver misluk.

Die koalisie wat deur dié twee uiteenlopende partye voorgestel word, sal uit sewe partye bestaan wat die Vlaamse liberales, sosialiste, Christen-demokrate en Groen Party sal insluit en aan die Walloonse kant (Franssprekendes) die liberales, sosialiste en Groenes sal insluit. Dit is ʼn onkonvensionele koalisie wat deur linkse partye gedomineer sal word. Wat egter erger is, is dat die twee grootste politieke partye in Vlaandere, Nieuw-Vlaamse Alliantie (N-VA) en Vlaams Belang, wat in verlede jaar se verkiesing saam 45% van die stemme in Vlaandere op hulle verenig het, nie deel van die koalisieregering sal wees nie.

Die nuwe Belgiese regering, wat waarskynlik binnekort bekend gestel gaan word, is uit nood en nie sinvolle politieke oortuiging nie, gebore. Dit is ʼn wankelrige regering, vol politieke opportunisme, wat waarskynlik baie moeilik vir ʼn hele termyn staande sal bly. Intussen neem steun vir selfs groter selfstandigheid van Vlaandere steeds toe, en sal die N-VA en Vlaams Belang (wat tans saam in baie peilings meer as 50% van die steun in Vlaandere geniet) waarskynlik groter druk begin uitoefen vir ʼn regeringshervorming wat nog meer mag van die federale regering sal wegneem en na streeksregerings sal afwentel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vrijburger ·

Springmielies en bier vir volgende week se Amerikaanse presidents debat!

Mag die Demokrate nie nou aan bewind kom, weer in ‘n oorlog in die midde-ooste betrokke raak en al die goeie werk itv vredesooreenkomste met Israel ongedaan maak nie.

annie ·

Sal dit nie eers Woensdagoggend hier by ons gebeeldsend word nie, of is ek verkeerd… dan liefs koffie en beskuit vir die game so op die nugter maag… maar daar sal seker die brawes wees.

JBN ·

Ek glo nie ‘sleepy’ Joe Biden gaan vir 90 minute staande bly teen Donald Trump nie. Ek hoop Trump roskam hierdie demokraat behoorlik. Ek gaan dit baie geniet.

groenboer ·

Debatte vertel jou nie regtig wie die beste leier gaan wees nie. Dit vertel jou wie die beste debatteerder is. My verwagting is dat Trump die vloer gaan vee met Biden, maar ek sou persoonlik nie vir een van die twee gestem het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.