Internasionale oorsig: Duitsland volg onversetliker benadering jeens Rusland

Alexei Navalny (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Die Europese Unie se aankondiging vroeër hierdie week dat sanksies teen Rusland ingestel gaan word ná die vergiftiging van die Russiese opposisieleier, Alexei Navalny, verteenwoordig ’n duidelike verskuiwing in hoe Duitsland Europese diplomasie met Rusland benader. Hoewel verskeie EU-lidlande reeds maande lank vra vir strenger sanksies teen Rusland, het die regering van Angela Merkel dit vir lank teengestaan.

Sedert die Koue Oorlog volg die Duitsers ’n ander diplomatieke benadering jeens Rusland as baie ander Wes-Europese lande. Sedert Angela Merkel in 2005 bondskanselier van Duitsland geword het, is haar benadering om gereeld met Rusland en president Vladimir Poetin te vergader en om geskille deur diplomatieke kanale te probeer besleg.

Sedert Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014 was daar met tye selfs fel kritiek teen Merkel se benadering om die krisis in die Oekraïne deur diplomasie te probeer oplos. Nadat Navalny vroeër vanjaar siek geword het op ʼn vlug tussen Moskou en Siberië, is hy inderhaas na Duitsland geneem waar hy vir lank in ’n Berlynse hospitaal behandel is.

Die nuwe EU-sanksies teen Rusland sal die verhouding tussen Europa en Rusland sonder twyfel verder laat versleg. Merkel se besluit om die opposisieleier van Belarus, Svetlana Tikhanovskaya, onlangs te ontvang, het ook tot ongemak in Moskou gelei.

Vrae oor ekonomiese samewerking tussen Duitsland en Rusland begin nou ontstaan. Die Nord Stream 2-gaspyplyn wat tans tussen Rusland en Duitsland gebou word, kan selfs in die weegskaal kom. Die Trump-administrasie in die VSA plaas reeds geruime tyd druk op die Duitsers om die pyplynprojek te kanselleer. Die projek is vir Rusland van groot belang omdat dit hom direkte toegang tot die enorme gasmark in Wes-Europa gee. Merkel weerstaan tans nog druk om die projek te kanselleer, maar sou dit wel gebeur, sal dit verhoudinge tussen Duitsland en Rusland ernstig skaad.

Rusland en krisisse in voormalige Sowjetunie-lande

President Vladimir Poetin. (Foto: Alexei Nikolsky, Sputnik, Kremlin Pool via AP)

Verlede naweek se skietstilstandooreenkoms wat tussen die regerings van Azerbeidjan en Armenië bereik is, was slegs moontlik nadat Rusland tussenbeide getree en albei lande basies na die onderhandelingstafel ontbied het. Hoewel die skietstilstandooreenkoms sedertdien al hoe verder verkrummel, is dit duidelik dat slegs Rusland oor die mag en invloed beskik om uiteindelik die geskil by te lê.

Azerbeidjan en Armenië is albei voormalige Sowjetunie-lande en Rusland het sedert die opbreek van die Sowjetunie dit nog altyd duidelik gemaak dat hy al die voormalige lidlande van die Sowjetunie beskou as lande wat binne sy invloedsfeer moet bly. President Vladimir Poetin het onlangs weer opgemerk dat die opbreek van die Sowjetunie na sy mening ’n groot tragedie en ’n fout was.

Die afgelope paar maande het Poetin en sy regering weer hul hande vol met die omstrede verkiesing wat op 9 Augustus in Belarus plaasgevind het, gevolg deur die konflik tussen Azerbeidjan en Armenië, en intussen ook die politieke onrus in Kirgistan. In al hierdie gevalle was Poetin en sy regering direk betrokke om die konflik te probeer bylê, juis in ’n poging om Westerse invloed te probeer verhoed.

Terwyl Georgië en die Oekraïne die afgelope paar jaar al hoe meer pro-Westers raak, probeer Poetin sy verlies aan invloed beperk deur te verseker dat regerings wat pro-Russies is, in verskeie lande aan bewind bly.

Rusland en Poetin se invloed in die ou Sowjet-gebied word egter voortdurend bedreig. Eerstens deur druk van ’n jonger generasie wat demokrasie wil sien, soos wat die onlangse betogings in Belarus en Kirgistan bewys het. Die tweede rede is suiwer ekonomies met baie lande wat oordeel dat daar meer ekonomiese voordele in nouer bande met die Weste as met Rusland is.

Die derde aspek wat Russiese invloed bedreig, is die aktiewe wyse waarop die EU, Navo, Turkye en China in sommige streke hulle invloed probeer uitbrei. Terwyl die EU en Navo steeds besig is om lidlande in Sentraal- en Oos-Europa by te voeg, is Rusland duidelik bekommerd oor Turkye se aggressiewe rol in die suidelike Kaukasiese streek en China se betrokkenheid in Sentraal-Asië.

Ten einde Russiese invloed in die ou Sowjet-lande te behou, het Poetin ’n sterk ekonomie nodig – iets waaroor hy tans nie beskik nie. Rusland is steeds ’n magtige politieke, ekonomiese en militêre rolspeler, maar dit is ook duidelik dat sy invloed in talle voormalige Sowjet-lande oor die volgende paar jaar verder sal wegkwyn.

Afrika toe nie so erg deur pandemie geraak

(Foto: Virginia Mayo/AP)

Met die vinnige verspreiding van die koronavirus gedurende Maart en April vanjaar het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en verskeie wêreldleiers gewaarsku dat die pandemie Afrika baie hard gaan tref omdat die meeste lande op dié kontinent oor swak gesondheidsorgstelsels beskik.

Met meer as een miljoen sterftes wêreldwyd staan die dodetal in Afrika egter nog op minder as 40 000, en daar word algemeen aanvaar dat die kontinent glad nie erg deur die pandemie geraak is nie. Hoewel 17% van die wêreldbevolking in Afrika woon, is slegs 3,5% van die sterftes in Afrika aangeteken.

Professor Kevin March, ’n dosent aan die mediese fakulteit van die Universiteit van Oxford, skryf die lae sterftesyfer in Afrika veral toe aan die ouderdomsverspreiding op die kontinent. Volgens hom het Afrika se jonger bevolking sonder twyfel bygedra tot minder sterftes. Verder was daar ook minder toetsing in die meeste Afrika-lande en is baie gevalle van sterftes weens Covid-19 moontlik nie aangemeld nie. March sê egter dat die klimaat in Afrika, spesifieke immuniteitsvoordele en genetiese faktore ook ’n rol moes gespeel het.

Verskeie lande in Afrika het slegs beperkte inperkingsmaatreëls ingestel, en toetse in lande soos Kenia en Ethiopië het reeds bewys dat die virus baie vinnig versprei het en dat kudde-immuniteit reeds in verskeie gebiede in Afrika bestaan. Volgens March is die sekondêre gevolge van die pandemie eerder erger vir Afrika. Die ekonomiese gevolge, soos ’n afname in toerisme en die uitvoer van produkte, raak miljoene mense op die kontinent. Verder was daar die afgelope paar maande in sommige lande ook ’n afname in die getal mense wat vir malaria, tuberkulose en MIV-vigs behandel is. Dit kan dus tot ’n toename in sterftes aan hierdie siektes lei.

Onsekerheid oor toekomstige verhouding tussen Afrika en VSA

Die Amerikaanse president Donald Trump. (Foto: Evan Vucci/AP)

Sou president Donald Trump op 3 November die verkiesing in die VSA verloor, sal hy die eerste Amerikaanse president sedert Ronald Reagan word wat nie tydens sy presidentskap die Afrika-kontinent besoek het nie. Terwyl Reagan tydens sy agt jaar as Amerikaanse president nooit ’n Afrika-land besoek het nie, het sy opvolgers George H.W. Bush (een land), Bill Clinton (agt lande), George W. Bush (tien lande) en Barack Obama (agt lande) almal reeds tydens hul eerste termyne Afrika-lande besoek.

President Trump het tydens sy eerste termyn sy oorsese besoeke grootliks tot Europa en Asië beperk. Hoewel daar kort ná sy verkiesing heelwat kommer in Afrika bestaan het oor die Trump-administrasie se houding jeens die kontinent, het daar in praktyk min aan die verhouding tussen die VSA en Afrika-lande verander.

Trump se beweerde verwysing na Afrika-lande as “s**thole countries” en sy planne om hulpleniging aan Afrikalande te verminder en handelsooreenkomste met Afrikalande te kanselleer, het aanvanklik hierdie vrees gedryf. Uiteindelik het die Trump-administrasie min getorring aan die bestaande verhouding tussen die VSA en Afrika en het Trump talle Afrikaleiers in die Withuis ontvang.

Afrika is steeds van belang vir die VSA vir ekonomiese, militêre en strategiese redes. Talle Afrikalande is egter heelwat meer afhanklik van ’n goeie verhouding met die VSA. Uitvoere uit Afrika na die VSA het die afgelope paar jaar steeds toegeneem en die Amerikaanse betrokkenheid by hulplenigingsprojekte in talle Afrikalande is van groot waarde.

Trump se buitelandse beleid grootliks ’n sukses

President Donald Trump. Foto: (AP Photo/Jacquelyn Martin)

Nadat Donald Trump in 2016 tot president van die VSA verkies is, was daar vrees in die wandelgange van Navo in Brussel, België, dat Trump dié organisasie (waarvan die VSA steeds die belangrikste rolspeler is) sou laat ontbind en dat hy internasionale handel totaal sou ontwrig, Amerika se verhouding met bondgenote in die Midde-Ooste sou skaad, en selfs oorloë met Iran en Noord-Korea sou begin.

Niks hiervan het egter gebeur nie. Trump se buitelandse suksesse is vandag duidelik. Die belangrikste hiervan is die wyse waarop hy China as ’n kansvatter en aggressor ontbloot het. Die Trump-administrasie het daarin geslaag om ’n breë koalisie van lande teen China te laat draai, veral nadat China sy ware kleure in Hongkong gewys en toenemend aggressief in die Suid-Chinese See en teenoor Taiwan begin optree het.

Daardeur het Trump Amerika se militêre fokus ook verskuif vanuit die Midde-Ooste, waar sy administrasie grootliks uit oorloë onttrek het na Asië, waar die VSA tans besig is met ’n indrukwekkende militêre opbou. Trump se groot investering in die uitbreiding van die Amerikaanse vloot was ook ’n duidelik strategiese besluit om ’n boodskap aan China te stuur.

Trump se tweede groot sukses was die onderhandeling van vredesooreenkomste tussen Israel en die Verenigde Arabiese Emirate en Bahrein. Daardeur het die Trump-administrasie die damwal vir die normalisering van verhoudinge tussen Israel en sy Arabiese bure oopgebreek. Die vind van ’n oplossing vir die geskil tussen Israel en die Palestyne is ook nou na die Palestyne verplaas, met die VSA wat duidelik ’n boodskap stuur dat almal moeg is daarvoor om vir die Palestyne te wag om in onderhandelinge saam te werk.

Trump se derde belangrike buitelandse sukses is die wyse waarop hy die gesprek oor die toekomstige rol van supranasionale instellings soos die Verenigde Nasies, die WGO en Navo gerig het. Terwyl baie wêreldleiers lankal hieroor wou praat, maar die status quo vir lank in stand gehou is, het Trump gesprekke oor die toekomstige rol van hierdie organisasies moontlik gemaak.

Die Trump-administrasie verdien ook krediet vir die suksesvolle stryd teen die Islamitiese Staat in die Midde-Ooste en die onderhandeling van vredesooreenkomste in Afganistan. Die VSA het die afgelope tyd ook ’n groot rol in die stabilisering van Irak gespeel.

Terwyl ’n kernooreenkoms met Rusland nog finaal heronderhandel moet word en die verhouding tussen die VSA en Iran nog uiters gespanne is, kon Trump daarin slaag om minstens ’n kommunikasiekanaal tussen die VSA en Noord-Korea oop te maak en vrese vir oorlog vir eers by te lê.

Trump se buitelandse beleid oor die afgelope vier jaar was grootliks ’n suksesverhaal. Sy herverkiesing gaan egter nie daardeur bepaal word nie, maar eerder deur binnelandse kwessies soos die Amerikaanse ekonomie, die Covid-19-pandemie en die behoud van wet en orde in Amerikaanse stede.

Regter Barrett op pad na Amerikaanse hooggeregshof

Pres. Donald Trump en Amy Coney Barrett . (AP Photo/Alex Brandon)

Regter Amy Coney Barrett, president Donald Trump se benoeming vir die huidige vakante posisie in die Amerikaanse hooggeregshof, het die afgelope week voor die justisiekomitee van die Amerikaanse senaat getuig. Regter Barrett is Maandag aan die komitee voorgestel waarna sy Dinsdag en Woensdag vrae van senatore beantwoord het.

Regter Barrett sal waarskynlik voor die einde van Oktober deur die volle senaat as regter in die hooggeregshof bevestig word, omdat die Republikeinse Party genoeg stemme in die senaat het om haar benoeming te bevestig. Op 48-jarige ouderdom sal sy die jongste regter in die hof wees – een van drie vroue en een van ses meer konserwatiewe regters, teenoor die drie uitgesproke liberale regters.

Regter Barrett was gereserveerd tydens haar verskyning voor die komitee en het keer op keer geweier om haar persoonlike standpunt oor kwessies soos aborsie, wapenbesit en dieselfdegeslaghuwelike te gee. Sy het ook geweier om te sê hoe sy in toekomstige sake sal beslis en het haar antwoorde eerder gefokus op die beginsels waardeur sy haarself sal laat lei.

Hierdie beginsels is gebaseer op regspraak dat wette en die grondwet toegepas moet word soos wat dit geskryf is en nie hoe regters dit wil interpreteer nie. Regter Barrett is ’n uitgesproke Christen met sterk gesinswaardes.

Sy het egter tydens die verhoor keer op keer gesê dat die onafhanklikheid van die hof baie belangrik is en dat sy geen uitspraak sal lewer omdat sy enigiets aan enigiemand verskuldig is of enigiets aan enigiemand wil bewys nie.

Belangrike sake oor aborsieregte, die Affordable Care Act (president Obama se bekende mediese hervormings wat die regering se rol in mediese sorg wesenlik vergroot het) en wapenregte sal binnekort deur die hof aangehoor word. Sou regter Barrett bevestig word, sal sy ’n belangrike beslissende stem in baie van hierdie sake kan wees.

Daar word ook algemeen verwag dat sy, soos ander konserwatiewe regters, internasionale reg sal verwerp en dat sy uitsprake sal lewer wat ’n Amerikaanse president sal verhoed om eensydig internasionale ooreenkomste te sluit sonder die goedkeuring van die Amerikaanse kongres. Barrett is ’n sterk ondersteuner van die oorspronklike beginsels van die oprigters van die Amerikaanse federale staat en sy sal haar uitsprake waarskynlik daarvolgens lewer.

Steun vir Skotse onafhanklikheid bereik nuwe hoogtepunt

Foto: David Cheskin/PA Archive/Press Association Images

Op 18 September 2014 het die Skotte ’n unieke geleentheid gekry om van die Verenigde Koninkryk los te breek en vir die eerste keer sedert 1707 weer ’n onafhanklike land te word. Net meer as 55% van Skotse kiesers het egter op dié dag in ’n referendum teen Skotse onafhanklikheid gestem en daardeur, of so het die meeste mense gedink, minstens vir ’n paar dekades ’n einde aan die onafhanklikheidsstrewe van Skotland gebring.

Sedert die referendum van 2014 het ’n paar dinge egter gebeur wat die onafhanklikheidsbeweging in Skotland nuwe energie gegee het. Die Brexit-referendum en gevolglike besluit deur die Verenigde Koninkryk om uit die Europese Unie te tree, was ’n belangrike katalisator. Terwyl die meeste kiesers in Engeland en Wallis ten gunste van Brexit gestem het, het 62% van die Skotte teen die VK se uittrede uit die EU gestem. Die meeste Skotte het ’n positiewe beeld van die Europese Unie en wil hê dat Skotland deel van die EU moet wees.

Die onderhandelinge tussen die VK en EU om ’n ooreenkoms te bereik wat ná Brexit die verhouding tussen die partye sal reël, het ook die afgelope tyd skipbreuk gely en vrese in veral Skotland oor handel met Europa laat toeneem.

Die sukses van die Skotse Nasionale Party is egter die belangrikste rede waarom steun vir onafhanklikheid bly toeneem. Terwyl die meeste Skotte ontevrede is met Boris Johnson se hantering van die Covid-19-pandemie, geniet die Skotse eerste minister, Nicola Sturgeon, sterk steun vir haar hantering van die pandemie.

Volgende jaar, op 6 Mei, sal die Skotte na die stembus gaan om nuwe parlementslede vir die Skotse parlement te verkies. Sturgeon se Skotse Nasionale Party het tans 61 van die 129 setels en regeer in ’n koalisie met die Groen Party. Peilings die afgelope paar weke wys egter dat, sou die verkiesing nou plaasvind, die Skotse Nasionale Party ’n volstrekte meerderheid sal verkry.

’n Sterk vertoning in Meimaand se verkiesing, gepaardgaande met ’n moontlike chaotiese uittrede van die VK uit die EU, sal Sturgeon motiveer om sterker op ’n nuwe onafhanklikheidsreferendum aan te dring. Tans verwerp die regering van Boris Johnson die moontlikheid van so ’n referendum. Johnson sal so ’n versoek egter nie onbepaald kan bly weier nie.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Toktokkie ·

Baie insiggewend! Baie dankie Jaco – so lekker om internasionale ‘geskiedenis’ te lees.

Marthinus W ·

Rusland het Duitsland gevra om die bewyse van die Nawalni “vergiftiging” te sien, hulle weier, sê hulle moet die Organisation for the Prohibition of Chemical Weapons (OPCW) vra. Die OPCW verwys Rusland weer na Duitsland. Steek Duitsland iets weg? In Omsk is Nawalni 44 uur lank behandel, onder andere met atropien, ooglopend baie suksesvol. (Die bewyse is nou nutteloos, omdat hulle effektiwiteit verval het.)

Met n stamboom watn Goebbels, Himmler, Bormann, Streicher et al insluit, is die Duitsers gekonfyt in die wanaanwending van die waarheid. Hulle het miskien baie filosowe opgelewer, maar nie altyd eerlikes nie.

Nawalni reis altyd in n groep. Waarom het net hy siek geword? Kyk hoe aansteeklik isn redelik “onskadelike” virus soos Covid-19 [in terme van oorlogvoering]. Enige persoon met `n IK van 100 behoort mos die gate in Nawalni en Duitsland se argumente te sien. Presies soos die Skripals. En waarom wil Engeland hulle nie vrylaat nie?

Therese ·

Weer ‘n puik internasionale oorsig!
Objektiewe ontledings oor die algemeen, maar veral van president Trump, is so skaars soos hoendertande.
Hoeveel beter vir internasionale betrekkinge as Trump ook Merkel se oop, vriendelike beleid t.o.v. Rusland en Putin kon volg soos wat hy graag wou, maar a.g.v. kleinlike politici wêreldwyd nie kon nie!

Therese ·

Die Trump-administrasie se “Prosper Africa Initiative” is net nóg ‘n aspek wat gerieflikheidshalwe ignoreer word in die grootliks eensydige media.
Die inisiatief help Afrika steeds finansieël, maar leer ook om hulself te help en stort nie bloot fondse in ‘n bodemlose put soos in die verlede nie.
Wanneer die Trump-termyn(e) verstreke is, behoort politieke kommentators wat strykdeur die man en nie die bal gespeel het nie, ernstig hand in eie boesem te steek.
(nie Jaco nie!)

Human ·

Trump’s ” Prosper Africa initiative” is net “smoke and mirrors” en daar het nie veel van gekom. Ai die eensydige media hoekom wil hul nie horende doof en siende blind raak, sodat hulle Trump, met lofsange kan besing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.