Is die regstelsel gereed vir staatskapers?

Deur Laurie Greyvenstein

Ajay en Atul Gupta. (Foto: ANA)

Die vermeende staatskapers, Rajesh en Atul Gupta, is in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate in hegtenis geneem en sal hopelik binnekort na Suid-Afrika op pad wees om hier verhoor te word.

Die vraag is egter of die Suid-Afrikaanse strafregstelsel gereed is vir dit wat kom. Alhoewel die Guptas as die meesterbreine gesien word van staatskaping in Suid-Afrika, is daar vele ander in gesagsposisies wat ná die Zondo-kommissie se bevindinge by grootskaalse bedrog, belastingontduiking, diefstal, geldwassery en korrupsie betrek word. Die kapasiteit van spesialisondersoekeenhede en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is tydens die Zuma-era drasties verlaag en selfs vernietig, terwyl kundiges in die pad gesteek is. In sommige kringe word dit as beplande optrede beskou om doelbewus die effektiwiteit van die strafregstelsel aan bande te lê.

Nou wag daar ʼn reusetaak op die skouers van bestaande strukture om reg te laat geskied.

Bekende advokate soos Gerrie Nel, Glynis Breytenbach en Billy Downer is van die ervare staatsaanklaers wat in die afgelope paar jaar die diens van die NVG verlaat het. Nel was die aanklaer teen Jackie Selebi, Breytenbach is onregmatig ontslaan, terwyl Zuma hard probeer om vir Downer van sy saak af te kry. Hy het intussen afgetree maar bly voorlopig aan in Zuma se saak, tensy ʼn hof anders beslis. Die geykte uitdrukking dat ervaring nie gekoop kan word nie, kan moontlik nuwe betekenis kry om plek te maak vir kundiges vir dié reusetaak, al is dit net op ʼn konsultasiebasis om leiding aan jonger en onervare aanklaers te gee.

Ander hindernisse sluit in sekere gevestigde benaderings, deur ons howe, om te verseker dat oortreders regverdig verhoor word en hulle steun op die menseregtebepalings soos verskans in die Handves van Menseregte in die Grondwet. Alhoewel die Grondwet as een van die bestes ter wêreld beskou word, is daar tog regskenners wat van mening is dat die pendulum te vêr in die rigting van oortreders swaai ten koste van die regte van die gemeenskap en van slagoffers. Die verlening van borgtog aan verhoorafwagtendes is ʼn goeie voorbeeld. Ons reg erken die beginsel van die onskuld van ʼn persoon totdat sy skuld bewys word, en dat die doel van borgtog is om die teenwoordigheid van die beskuldigde by die verhoor te verseker en nie om hom voor sy skuldigbevinding te straf nie.

Die Strafproseswet bepaal dat oortreders van ernstige misdaad, soos bedoel in bylae 5 en 6 van die wet, nie outomaties vir borgtog kwalifiseer nie maar dat hulle die hof moet oortuig dat hul vrylating op borgtog in die belang van geregtigheid is. Dit plaas ʼn bewyslas op die beskuldigde maar tog wil dit voorkom dat staatsaanklaers nie hierdie regsremedie gebruik om misdadigers agter tralies te hou tydens die verhoor nie. Die meeste staatskapers en oortreders van ekonomiese misdaad val binne hierdie kategorie van oortreders, maar tog word hulle op strepe op borgtog vrygelaat en die bedrae borgtog is gewoonlik ʼn fraksie van die skade wat berokken is.

Die Guptas het die land verlaat, hulle is duidelik ʼn vlugrisiko en dit is voor die hand liggend dat hulle nie vir borgtog sal kwalifiseer nie. Dit terwyl oudpresident Zuma, wat tans op sy eie verantwoordelikheid vrygelaat is hangende sy verhoor, elke denkbare regsremedie en verweer gebruik om sy verhoor te vertraag. Sy gedrag kan ʼn presedent skep vir die ander staatskapers wat op borgtog vrygelaat is, en die vraag is of ons regstelsel hierdie tipe gedrag kan bekostig.

Dit sal interessant wees om te sien hoe die Guptas hulle saak gaan benader, aangesien hulle waarskynlik in aanhouding sal bly in afwagting op hulle verhoor. Dit sal duidelik tot hulle nadeel wees om hulle verhoor uit te rek met onnodige vertragings, soos wat met Zuma die geval is, omdat hulle vonnisse uitgestel sal word en hulle net uiteindelik langer in hegtenis sal bly, indien hulle wel skuldig bevind word.

Dit is dalk raadsaam om die impak van kriminele en siviele sake met mekaar te vergelyk. Litigasie in siviele sake is oor die algemeen ʼn duur en tydsame proses. Vir hierdie rede het daar oor die jare alternatiewe prosesse, soos arbitrasie en mediasie, ontwikkel om ander maniere te vind om geskille buite die tradisionele regsprosesse te finaliseer. Dit spaar die partye tyd en geld terwyl emosionele impak ook beperk word, veral in familiegeskille. Hierdie alternatiewe meganismes om sake vinniger en meer koste-effektief af te handel het oor die jare ontwikkel met die grondslag in die velde van sielkunde en ekonomie, maar buite die reg. Partye word beweeg om van hulle aanvanklike posisies in die reg afstand te doen en om liewer hulle oplossings elders te soek. Partye vind hulle oplossings in die sielkunde deur met hulle vooroordele te deel, afsluiting te vind, soms te vergewe, maar ook om die finansiële implikasies van uitgerekte sake in heroorweging te neem. In baie sake kan die partye eenvoudig nie duur regsprosesse bekostig nie en hulle word verplig om self verantwoordelikheid vir hulle saak te neem. Daarom skep gratis of goedkoop mediasiedienste ʼn skewe beeld wat nie met die realiteite van verantwoordbaarheid rekening hou nie. Mense wat gratis dienste ontvang het eenvoudig nie dieselfde waardering daarvoor as mense wat daarvoor betaal het nie.

hof-hamer

(Argieffoto)

Daarteenoor, in strafsake, is die erns van die oortreding, die sterkte van die saak teen die beskuldigde en die waarskynlikheid dat hy gevangenisstraf as vonnis sal ontvang, faktore wat die hof in ag neem om te bepaal of die beskuldigde vir borgtog kwalifiseer. Die kanse is goed dat staatskapers langtermyn gevangenisstraf gaan uitdien. As oortreders van ernstige misdaad soos staatskaping in aanhouding is tydens hulle verhoor, sal hulle twee keer dink voordat hulle die howe se tyd mors deur onnodige besware te opper om hulle verhore te vertraag, want dit sal hulle uiteindelike vrylating uitstel.

Misdaad is ʼn ernstige probleem in Suid-Afrika en daar moet drasties na die toepassing van sekere regsbeginsels gekyk word. Misdadigers loop vry rond terwyl die publiek vir die gelag betaal. Gratis regshulp is ʼn ander onderwerp wat ook dringend aangespreek behoort te word. Net soos met gratis mediasies in siviele sake, redeneer sommige oortreders dat hulle maar kan kanse vat om misdaad te pleeg want indien hulle uitgevang word sal die staat in ieder geval vir hulle gratis regshulp voorsien. Hierdie praktyk laat ʼn wrang smaak in die mond van die gemiddelde burger wat hard werk en belasting betaal. Nie alleen word hy besteel nie, maar hy betaal ook vir die regshulp van die oortreder wat later vir hom in die hof gaan sê dat hy ʼn leuenaar is.

Net soos in siviele sake, is daar vorme van alternatiewe geskiloplossing in strafsake. Herstellende geregtigheid bied opsies soos afwenteling, mediasie en herstellende meganismes soos skadevergoeding, gemeenskapsdiens, ensovoorts. Beskuldigdes kan ook pleitooreenkomste met die staat aangaan om skuldig te pleit en vooraf ooreengekome vonnisse met die staat onderhandel. Dit alles kan die onnodige vermorsing van hoftyd beperk, maar die voorvereiste is dat oortreders volle verantwoordelikheid vir hulle misdadige gedrag moet neem. As ʼn reël kan ʼn oortreder wat skuldig pleit byvoorbeeld pleit vir die versagting van sy vonnis omdat hy berou toon, teenoor die oortreder wat volhou dat hy onskuldig is, die staatsgetuies as leuenaars uitmaak en nie verantwoordelikheid vir sy dade neem nie.

  • Laurie Greyvenstein is ʼn regskenner en spesialiseer in alternatiewe geskiloplossing. Hy tree as bemiddelaar op in familie-, siviele- en strafreggeskille en doseer deeltyds.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus ·

My troos is is dat Indie nie in ‘n Demokratiese stelsel verwurg word nie. Die howe daar sal sekerlik minder intemideerbaar wees as hier. Ek verstaan die proses gaan ‘n paar maande vat, dus is dit ‘n skrale troos dat hulle darem tot tyd en wyl in die tronk gaan deurbring. Waar is broer no 3? Ander vraag is of die aksie uitgevoer is agv SA se druk en bekwaamheid of het die FBI dalk meer gedoen?

Dup ·

Ons regstelsel is nie eers gereed vir gewone kapers nie;wat nog te sê staatskapers.

Manie ·

Zuma en die Gupta’s is nie die groot visse nie, die GROOT staatskapers sit doeksag in die groot instellings se raadsaal stoele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.