Jacinda Ardern en ontnugtering met ‘nuwegeslag-leiers’

Jacinda Ardern (Foto: by Marty MELVILLE / AFP)

Die onlangse en onverwagse bedanking van Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern, is ʼn verdere terugslag vir die illusie van ʼn nuwe geslag leiers.

Barak Obama was een van die eerstes van die kamstige nuwe tipe progressiewe leiers waarvoor die media so lief is. Ander, wat se ster eweneens verdof het, is Justin Trudeau van Kanada en Emmanuel Macron van Frankryk, om maar enkeles te noem. Hulle is deel van die groep sogenaamde jong globale leiers wat gevorm is deur ʼn program van die Wêreldekonomiese Forum (WEF) wat tans weer in Davos, Switserland, vergader. Wat hulle almal in gemeen het, is dat hulle globale belange voor die belange van hulle eie land stel. Ardern is in 2014, toe sy reeds ʼn opkomende parlementslid was, deur die WEF tot jong globale leier benoem. Sy is ook ʼn gereelde deelnemer aan die WEF se byeenkomste .

Dit moet tot haar eer gesê word dat sy geweet het wanneer dit tyd is om uit te tree en dat sy haar gesin en haar gesondheid nie opoffer vir ewige magsbehoud nie. Dit kan natuurlik ook wees dat sy haarself die waarskynlike nederlaag in die verkiesing later vandeesjaar wil spaar. Immers het sy met die laaste verkiesing in 2020 ʼn fenomenale sukses behaal toe haar Arbeidersparty 49% van die stemme behaal het, die beste uitslag nog in Nieu-Seeland se meer onlangse geskiedenis. Dié sukses is veral moontlik gemaak deur entoesiastiese mediaberiggewing en die aura van “volksmoeder”: sy het in krisistye soos die massaslagting van Moslems deur ʼn verregse ekstremis en die Covid-19-pandemie die regte woorde en empatie gevind om die “ons is almal saam”-narratief te bedien, iets wat ook iemand soos Obama (en natuurlik Nelson Mandela in Suid-Afrika) uitstekend kon doen.

Die toets van leierskap is egter nie soseer gebare en mooi woorde nie, maar aksies. Daar het Ardern gefaal. Van haar beloftes van honderdduisende nuwe huise en beter lewensomstandighede vir almal, het min gekom. Meer nog, soos talle linkse politici met edele ideale, het goeie bedoelings tot slegte gevolge gelei. Om armes (en hier veral die Maori-bevolkingsdeel) te help deur hulle in huise te plaas wat die regering betaal het nie tot beter lewensomstandighede gelei nie, maar tot bendegeweld en misdaad in dele waar arm gemeenskappe saamgetrek is en op staatskoste leef. Nieu-Seeland was altyd een van die veiligste en rustigste lande in die wêreld, maar misdaad het in dié land ongekende vlakke behaal.

Inflasie het ook skerp gestyg onder haar bewind. Gedeeltelik is dit natuurlik ʼn wêreldwye verskynsel, maar dit is ook aangehelp deur groeiende en onvolhoubare spandering. Veral huispryse het buitensporig gestyg en in stede sukkel mense om bekostigbare huise te vind. Ironies het Ardern juis in 2017 aan bewind gekom weens haar belofte om die huiskrisis op te los

Ardern was egter nie net die goed bedoelende “postergirl” wat uiteindelik deur die realiteit ingehaal is nie, sy het met oortuiging die linkse agenda gedryf, wat die meerderheid mense waarskynlik nie steun nie. Sy het die gender-agenda gedryf en aborsie vergemaklik, haar beywer vir die wettiging van dagga en met talle belastings en wette teen klimaatverandering die ekonomie skade aangedoen sonder om die klimaat te help.

Al die glanspersoonlikheid-politici het hulle hoogtepunt oorskry. Obama was ʼn mislukking as president, Trudeau en Macron het min van hulle beloftes vervul en veel glans in die proses verloor. Die besef dring stadig deur dat eienskappe soos om jonk, aantreklik en welsprekend te wees, nie waardes op sigself is nie en ook nie noodwendig goeie beleid beteken nie. Politiek is nog steeds ʼn harde besigheid en het meer met harde werk en kompromieë te doen as met die kalklig op internasionale forums en voorblaaie van glanstydskrifte.

Ardern se opvolger as leier van die Arbeidersparty en as eerste minister sal nou binnekort gekies word. Daar is geen natuurlike opvolger nie en wie ook al dit sal wees, moet fokus op die talle onvoltooide of mislukte projekte van Ardern as hy of sy ʼn kans wil staan in die algemene verkiesing in Oktober vanjaar.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Veritas ·

Hierdie is ‘n baie goeie opsomming van die situasie, Sy het al die regte woorde gese op die regte tye ( die skietery, covid en die vulkaan ). Sy is so opgehemel en kon nie ‘n voet verkeerd sit nie. As mens egter agter die rook skerm kyk na die brood en botter issues ( Die huis krisis, immigrasie en kospryse ) was sy en haar regering se prestasie glad nie wonderlik nie. Realisties kon hulle nie veel daaraan doen nie, maar die mense het nog nog steeds daai warm en fuzzy gevoel gehad. Sy het ‘n groot flater gemaak met die behuising vir die inheemse bevolking en die nuwe eiland bevolking, sommige van daai suid Auckland voorstede is nou rowwer as 5 jaar terug. Meeste van die mense daar rook boom en vervaardig babatjies die heel dag, so haar aborsie wette sal goed te pas kom. Ek dink sy het gewaai, voordat hulle haar sou laat gaan het of hulle die verkiesing verloor het.

Truman Burbank ·

Hierdie artikel wys net wat ek nog altyd geglo het. Leiers word gekies en nie verkies nie Maak nie saak wat by die stembusse gebeur nie

Schalk ·

Die waarheid is dat geen land in die wereld ‘n situasie moet skep waar die staat moet sorg vir mense nie. Die ewewig van balans waar mense moet sorg vir ander en die ander groep sit net agteroor sal tot op ‘n punt kom waar die streep getrek word. Skep eerder projekte wat lei tot selfstandigheid en neem ‘n standpunt oor misdaad in wat die gehardste misdadiger sal laat tweekeer dink. Die WEF kan nie van ‘n troontjie af besluite neem en wil toepas nie. Die diverse kulture van lande kan nie volgens ‘n ekonomiese formule bepaal word nie. En laastens daar is ‘n wondelike waarheid in die gesegde vroeg ryp vroeg vrot. Daar is ook die een van grysheid bring wysheid. Dit het gewerk nog altyd waar balans en ewewig gehandhaaf moet word

Goldy ·

Sosiale toelaes is n probleem met n maklike oplossing. Laat mense gemeenskapswerk doen vir n toelaag. As hulle nie wil werk nie, dan kan mens nie eet nie. Logiese waarheid al van die Bybel se tyd af.

Goldy ·

Gemeenskappe moet almeer aandring op meer autonomie, ons het nie meer in vandag se tyd politici veel nodig nie. Ons kan baie beter selfreguleer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.