Jeugdige werkloses kan ʼn bate word

werk-01

Foto: WikiImages/Pixabay.com

Ons het ná 1994 almal verwag dat die volledige Suid-Afrikaanse samelewing kon deel in positiewe uitkomste soos armoedeverligting, werkskepping, sosiale sekerheid, landelike ontwikkeling en grondhervorming, demokratiese konsolidasie, morele en etiese grondslae en waardesisteme, asook die regte van kultuur- en minderheidsgroepe.

Terwyl die regering in 2017 agter terme soos radikale ekonomiese transformasie wegkruip en dit ideologies probeer regverdig, krimp die ekonomie jaarliks en werkloosheid word al meer. Almal se 1994-verwagtinge is getemper!

Nêrens word dit beter gesien as in die steeds groeiende werkloosheidskoers wat tans op 36,4% staan nie. Dit verteenwoordig sowat 9,3 miljoen mense. Die ekonoom, Mike Schüssler, skryf onlangs dat altesaam 37% van Suid-Afrika se volwassenes werkloos is en ons het nou die derde hoogste werkloosheidsyfer ter wêreld.

Ann Bernstein, uitvoerende direktrise van die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE), se kommer is duidelik in haar verwysing na jeugwerkloosheid wanneer sy sê dat byna 6 miljoen jong mense teen einde 2016 werkloos was, maar 7,5 miljoen was nie in diens of opleiding nie. Werkloosheid onder 15- tot 34-jariges is volgens haar een van die grootste maatskaplik-ekonomiese probleme in die land.

Daarom is dit van kritieke belang dat Suid-Afrika die snel groeiende jong bevolking in ʼn bate vir die land verander, veel eerder as die al groter wordende las wat dit tans is. Onderwys en vaardigheidsopleiding behoort daarom ʼn prioriteit te wees. Die tragedie is egter dat die teenoorgestelde gebeur. Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum se jongste ranglys oor mededingendheid het Suid-Afrika, wat hoër onderwys en opleiding betref, geval van die 75ste plek in 2016 na die 88ste plek in 2017.

Dit word duidelik dat daar baie anders gedink sal moet word oor die werkloosheid-tsunami. Suid-Afrika sal eers ekonomiese volwassenheid bereik indien pres. Zuma en sy opvolgers besef dat ons minder moet praat in terme van swart Suid-Afrikaners se aandeel in die ekonomie, maar meer in terme van die aktiewe bydrae tot die ekonomie. Dit kan egter slegs bereik word indien daar ʼn besef by die ANC en sy leiers is dat niemand ʼn groter deelname in die ekonomie kan opeis sonder eie inisiatief en harde werk nie.

Daardie realisme was wel in 2012 teenwoordig met die Nasionale Ontwikkelingsplan wat daarop gemik was om teen 2030 armoede uit te skakel en ongelykheid te verminder deur Suid-Afrikaners te laat saamstaan, ’n inklusiewe ekonomie te kweek en vaardighede op te bou. Was dit maar net nog ʼn lugkasteel wat deur ideologie verswelg is?

Die verlede het wel antwoorde vir vandag se uitdagings. Ná die Groot Depressie in die dertigerjare het die staat wel betrokke geraak en is werkloses onder meer ingespan om dwarslêers te lê vir die groeiende spoor-infrastruktuur. Ook militêre leiers het met oplossings vorendag gekom. So is Spesiale Diensbataljonne as ʼn sosio-militêre skema gestig om jong manne te help om uit werkloosheid en gevolglik uiterste armoede van daardie jare te ontsnap. Die doelwit was om die jong mans deur militêre dissipline en fiksheid toe te rus om verskeie ambagte te leer en hulle ná ʼn tydperk van minstens ʼn jaar weer in diens te kon stel. Met behulp van die departement van arbeid en welsyn kon die Spesiale Diensbataljonne reeds teen die einde van 1937 sowat 6 858 jong mans van arbeid voorsien. Veral die polisie, spoorweë, gevangenisdiens en mynwese het gebaat uit die Spesiale Diensbataljonne. Hierdie Spesiale Diensbataljonne is ten tyde van die Tweede Wêreldoorloog en ná afloop daarvan omgeskakel in volledige militêre eenhede en so het die spesialis-pantsereenhede ontstaan.

Daar sal wel op groot skaal gedink moet word om die ekonomie te stimuleer sodat werk geskep kan word. Dr. Theuns Eloff skryf juis op 11 Oktober 2017 oor die agteruitgang in SA se infrastruktuur met verwysing na ʼn omvattende verslag oor water, sanitasie, paaie, spoorlyne, elektrisiteit, gesondheid en onderwys wat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs onlangs met behulp van die WNNR gepubliseer het. Dr. Eloff skryf dat infrastruktuur soos water, sanitasie, paaie en onderwysgeriewe openbare bates is wat in almal se belang is en bestuur moet word. Dit verbeter lewensverwagting, fasiliteer sosiale mobiliteit en toegang tot ekonomiese geleenthede, en help ekonomiese groei en werkgeleenthede skep.

Na aanleiding hiervan moet die vraag dan gevra word: Wat is verkeerd daarmee om op groot skaal arbeidsmagte byeen te bring om die instandhouding van ons infrastruktuur en byvoorbeeld paaie, veral slaggate, te behartig en herstel? Die Spesiale Diensbataljonne ná die Groot Depressie het jong mans met vaardighede toegerus om ekonomies aktiewe burgers van die land te word. Dit kan in 2017 weer gebeur, maar dit sal ʼn verbintenis tot ekonomiese ontwikkeling en vrye deelname van almal in die ekonomie beteken.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Jan Alleman ·

“eie inisiatief en harde werk” is ongelukkig begrippe wat sekere groepe in die land nie verstaan nie of wil verstaan nie. Hulle wil mos geregtig wees op alles sonder om daarvoor te werk. Eish!

Eish ·

Amen daarop. Waardestelsels van paternalisme wat buite die puik voorstel van die artikel se opvangegebied val.

Wetenskaplike Ingenieur Tegnoloog Tegnikus Vakman Ervare Vark ·

Geagte Jan, ‘n Uitstekende artikel. Dankie.

Globalisering dikteer nousdae die vereistes vir wêreldkompeteerbaarheid en voorspoed. Wêreldkompeteerbaarheid en besigheidsvolhoubaarheid gaan oor die vermoë om volhoubaar die regte produkte teen die regte prys en op die regte tyd en plek te lewer, welke produkte aan kontraktuele en regsvereistes moet voldoen.

Lesers kan gerus ‘n Gantt-kaart opstel om te bepaal wat presies, boustene in die regte volgorde, moet in posisie gekry word om wêreldkompeteerbaar te wees. KREATIWITEIT en DISSIPLINE en ‘n AGILE STATEGIE is seker die goue weefdraad. Bestudeer gerus die Baldrige Excellence Framework vir bestuursuitnemendheid.

Koos1 ·

Alle planne en opsies baat NIKS as daar nie die wil is om dit suksesvol toe te pas nie.
Ek is bevrees ons regering het nie die wil nie, en daarom sit so baie van ons kinders sonder werk. As daar geld daarvoor bewilling word, beland ongelukkig nie by die projekte nie maar in die sakke van top amptenare en in die hande van ons miljoene wat staatstoelaes kry.
Ek het al voorheen gesê dat die toelaes in sekere gevalle gestop moet word en dat die ontvangers daarvan sekere werke moet verrig om te kwalifiseer daarvoor, maar nee hoekom werk as ek niks hoef te doen en dan geld te kry nie.
Ongelukkig is die ANC se ondersteunersbasis geskoei op die ontvangers van toelaes en daarom sal dit nooit realiseer nie.

Ou Kompeteerende Vark ·

Beste Koos1, ons varkerasies stem volmondig met jou saam. Ek sou graag jou Gantt-kaart wou sien. Miskien moet Suid-Afrika eers weer gekolonialiseer word deur ‘n groot moontheid wat dissipline en ‘n werkkultuur sal afdwing. Enige raaikans van jou kant af?

John ·

Die vark-brigade se antenna’s spring steeds pennetjie-regop as die De Klerk-penkoppe outydse planne afstof. In die oertyd toe daar nog mense in die land was van werk gehou het ~ en bereid was om vir min hard te werk ~ het dit ‘n doel gedien. Tegniese opleiding is vir die huidige geslag, die opkopende topleiers, totaal uit die bose en taboe; leiers en lyding strook mos nie en grens aan absolute wreedheid. Krisisbestuur is deesdae die wagwoord. Watertenkwa’s en soldate wat waterpunte bewaak, soldate in klaskamers om orige onnies op te pas wat net in een vak spesialiseer, soldate wat pasiente oppas en toesien dat verpleers nie die kos en medisyne verduister nie en soldate wat regeringsamptenare oppas wat van verdagte transaksies verdink word, soldate wat lughawens oppas teen buskapers en soldate wat paramedici oppas… en soldate wat soldate oppas wat meedoen aan die sirkus… en soldate…

Brigadier-Skoutadmiraal van die Varkbregade, Ou Bosvark ·

John, pragtig en kreatief gestel!

MAAR “it is a cultural thing brother, a decolonising thing”.
Daar is ‘n menigde nasiegenote wat net “managers” wil wees of agter die rekenaars wil sit of advokate en prokureurs wil word. Maar die vele nasiegenote begin besef werk is skaars, so hulle veg vir politieke party poste. Hulle noem dit “networking, networking”. En as daar nie inkomste is nie, nou-ja, dan stroop jy die natuur of stoot dagga of verdowingsmiddele. Of jy slag ou Adoons se donkies en verkoop die velle. No problem Mate, no problem. Die geveg is om by die varktrog uit te kom. Niemand gee ‘n flenter om waar die kos vir die trog vandaan moet kom nie. En die buitelandse kriminele slaan toe! Hulle is skerp en vinniger as die naiewe SAners.

Paul ·

Daar bestaan reeds ‘n “National Rural Youth Service Corps” (NARYSEC). Dis daardie groepe jong mense wat deur die weermag opgelei word waaroor daar foto’s rondgestuur word waarin mense kla oor hoe die regering jong werklose mense oplei om wapens te kan gebruik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.