#JongStemme: Die ligte is aan, maar niemand is tuis nie

Foto ter illustrasie (Foto: Sixties Photography/ Unsplash)

Deur Nelri van der Merwe

Nee, nie in Suid-Afrika nie. Hier in ons land is die ligte af en daar is iemand by die huis. Kom ons begin by die eenvoudige, wat is “loadshedding”? Volgens Google: “’n Aksie om die las op iets te verminder, veral die onderbreking van elektrisiteitstoevoer om oormatige las op die opwekkingsaanleg te vermy”.

Volgens my? Beurtkrag is die resultaat van agterstallige werk, korrupsie en diefstal. Hoekom sê ek so? Daar was al verskeie verskonings en redes van Eskom af aan die land se mense vir hoekom ons nie die krag kan gebruik waarvoor ons betaal nie.

Sommige van hierdie redes sluit in: Die weer, water, ʼn tekort aan diesel en ʼn mislukte steenkool-silo. Ek, as 19-jarige meisie, het oplossings vir elk van hierdie probleme – soos wat die meeste ander mense in ons land ook het. Nou is die vraag: Hoekom het Eskom nie hierdie oplossings nie?

Die antwoord is baie eenvoudig. Daar is nie genoeg geld om die bogenoemde probleme reg te stel nie. Die gemiddelde Suid-Afrikaanse burger betaal ongeveer R3 000 se krag per maand. In Desember van 2022 het Eskom op ongeveer R422 miljard se skuld gestaan. Waarheen gaan ons geld?

Ek dink as jy dit eenvoudig swart op wit neerskryf, maak dit glad nie sin nie. Ek betaal vir krag, maar ek het nie krag nie. Ek betaal elke jaar meer vir krag, maar my krag word al hoe meer af gesit.

Die kragkrisis in ons land tas baie meer mense aan as wat Eskom en ons regering dalk dink. Uit persoonlike ervaring, maak beurtkrag my studies vir my baie moeiliker. Siende dat ek die meeste van my werk aanlyn doen, het die krag my al baie negatief beïnvloed, of al te meer – die tekort aan krag.

Ek het al geleer om voorsorg te tref en ek maak seker dat my rekenaar altyd vol gelaai is, maar my rekenaar kan net vir so lank funksioneer op sy battery. Die kersie op die koek, is die kersie langs my boek; wanneer ek ʼn romantiese afspraak het met my leerwerk indien dit al teen donker beurtkrag is.

Nelri van der Merwe (Foto: Verskaf)

My klasse is al uitgestel en afgestel as gevolg van die kragonderbrekings en ek kry skaam om te sê, take is al laat ingehandig as gevolg van geen internettoegang.

Daar was onlangs sprake van fase 8-beurtkrag – ek gaan nie maak of ek presies weet wat elke fase heeltemal behels nie. Maar wat ek wel weet is dat fase 8-beurtkrag vir jou, as kragbetaler, die volgende gaan beteken: In 4 dae se tyd sal jou krag vir 48 uur af wees. Om dit nog verder in perspektief te sit, sal jou krag oor die loop van 8 dae vir 96 ure af wees. Met ander woorde, 50% van jou dag.

Talle besighede, instansies, skole, projekte en organisasies word op ʼn daaglikse basis onderbreek en verloor honderde, indien nie duisende rande nie. Dit het veral op kleiner besighede ʼn massiewe negatiewe impak.

Wat kan ek en jy aan hierdie situasie doen?

Die beste wat ons op hierdie stadium kan doen is om goed voor te berei vir dit wat kom. Beurtkrag se einde is nie in die nabye toekoms nie. Ons gaan eenvoudig moet leer om daarmee saam te leef. Ons kan die beste maak van die situasie waarin ons onsself bevind.

Maar, om die begin van verandering aan te spoor, kan ons gaan stem. Ons weet presies van waar af die korrupsie en leuens in ons land kom, daarom is dit jou plig as Suid-Afrikaanse burger om dit te probeer voorkom.

In 2024 staan ons weer voor die nasionale verkiesing, dit sal vir baie jong Suid-Afrikaanse burgers ʼn eerste wees. Daar waar jy jou kruisie trek is in wie se hande jy jou vertroue, en selfs jou lewe, plaas.

Die jeug van ons land besef nie heeltemal watter mag hul het wanneer hulle gaan stem nie. Weet jy hoeveel “krag” lê in jou kruisie?

In 2022 alleen het daar 775 630 matrikulante gematrikuleer, wat beteken dat daar min of meer 775 630 meer mense nou ook kan stem. Saam, kan die jeug van ons land ʼn enorme verskil maak en ons land saam begin verbeter.

Jy het nie die reg om te kla oor slaggate, beurtkrag, wateronderbrekings, misdaad, ensovoorts indien jy nie stem nie – kom ons werk saam en sit die ligte weer aan.

  • Nelri van der Merwe studeer BCom Ekonomie en Regte aan Akademia.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-Man ·

Nelri, jy kan al die nuwe stemmers wat na 2019 klaargemaak het gebruik in jou stelling. Ek gaan beslis ook stem, maar ek is bang vir die spookstemmers wat dalk gaan kop uitsteek om hul kruisie agter die ANC te trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.