#JongStemme: Doornbult-konsentrasiekamp praat

Deur Marisha Hermann

Erkenning aan tannie Rina Wiid

Marisha Hermann (Foto: Verskaf)

In die konsentrasiekamp was daar sand, stof en luise. Psalms in die wind – as die wind gewaai het.

In die huis waarin die Van As-gesin gewoon het, was die Bybel elke aand oop. Psalmgesang het die lug gevul. Moeder het aandete gekook. Vol groente en vleis en koolhidrate. Daar was ʼn gelag oor die dag se sports en die Van As-seuns wat kleilat gespeel het. Pa het die land bewerk en sus het geleer hoe om rokkies vas te werk.

Dit was die laaste aand saam.

Die urine brand van die enkels na onder. Die reis was lank en beknop. Soos beeste is hulle vervoer. Slopemmers was nie eers nodig nie. Die urine was te veel en die reis te lank. Huilende klein kinders, skreeuende kinders, geloofgevulde moeders.

Die Van As-seuns huil oor die beeste wat doodgeskiet is van die kraal se muur af. Die skape is met ʼn bajonet doodgesteek. Die seuns het hulle byna dood gehuil. Pa is weg.

Die vroue en kinders is in die pan by die Oranjerivier afgelaai. Daardie aand is die aand wat dit sous. Een van die min aande wat dit werklik in die Karoo reën. Die water vries van die knieë na onder, maar staan móét hulle staan. Die son kruip oor die koppie. Tergend stadig.

Hulle word verskuif van die pan na die treinspoor. Daar kon hulle droog word voordat hulle brand in die hel son, opgevreet word deur die luise en liggaamlik begin siek word. Die tent was nou hul woning.

Die baba huil voordat hy sterf. Sewe dae. Skaars ʼn kilogram. Die halwe teelepels kondensmelk is bymekaar gemaak tussen die ses mense in die tent. Sy ma kon nie moedersmelk voorsien nie, maar nie eens dié soete melk was genoeg vir die lyfie se oorlewing nie. Nommer 110 het nie eens kans gehad om te huil nie. Stil gebore.

Die deeg is rou in die maag verwerk. Die meel was skaars en skaars gaar, as daar water was. Die water was min. Gesina het die eetlepel koffie aangemaak en die flou koffie onder die ses vrouens en kinders verdeel. Die water was moeite om te kook. Die onbruikbare steenkool is vir die vroue uitgedeel, van ysters kap is kooltjies gemaak. As jy gelukkig was.

Nommers is begrawe. Nie mense nie. Lyke is in doeke toegedraai deur die verraaiers en ʼn nommer is daarop gesit. Jy het ʼn lyk begrawe, nie jou geliefde nie. Honderde is begrawe. Selfs drie bo-op mekaar in een gat. Die dooie moeders en kinders is nie opgeskryf nie, want hulle name was nie belangrik nie.

Vandag is hulle name neergeskryf, want hulle is belangrik vir hulle volk. In 1996 is ʼn plaas gekoop. Daar was grafte wat voorheen gesien is, familiegrafte. Min wetend wat dit werklik was. Gekonsentreer op daardie area, was die Doornbult-konsentrasiekamp net buitekant Orania.

Tannie Rina Wiid het verder navorsing gedoen nadat hulle in 1998 die hospitaal van konsentrasiekamp “per ongeluk” ontdek het. Alles het in plek geval. Hulle het dit nie gesoek nie. Die verhale het hulle gevind. (Amper soos jou roeping wat jou vind). 20 jaar van ontwikkeling gaan steeds voort.

As jy oor die plaas gaan loop, kan jy die Van As-seuns se trane ervaar. Jy kan die smeekgebede en psalms in die wind hoor en jy kan die verskoeide aarde beleid in die rooi sand sien. Sou die jeug van vandag dit kon oorleef?

Tannie Rina en haar gesin tel van die geroeste kondensmelkblikkies op. Die roesblik waarin brood gebak is en die klein slopemmers wat gebruik is. Per toeval kom hulle af op afval in Februarie 2022. Die plek waar die afval van die kamp gebrand is.

Tannie Rina vertel aan die jeug, aan die volk. Die waarde daarvan word hartlik waardeer. Verhale in roes en sand.

  • Marisha Hermann is ‘n BA kommunikasie en joernalistiek-student aan Akademia.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

skurweberg ·

“Die raaisel” Ons vra nie meer n teken nie, want die “teken van Jona” is ons riglyn vir “verlede” hede en toekoms.

Treurwilger ·

Marisha, ‘n aangrypende, skitterend geskryfde stuk.
Hartseer en kwaad van vooraf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.