#JongStemme: Ek dink met angs aan my toekoms!

Deur Alru Venter

Alru Venter.

Daar is tans baie onsekerheid in ons land as gevolg van die Covid-19-pandemie. Ek dink ek kan namens alle studente praat – veral dié wat naby aan die eindstreep is – dat ons angs ervaar as ons aan die toekoms dink.

Die eerste vraag wat ek gevra het toe die staat van afsondering aangekondig is, is of ek my graad sal kan klaarmaak. Hoe lank ons ingeperk gaan wees, is baie onduidelik. ’n Kort rukkie daarna kondig die universiteit aan dat ons aanlyn klas sal hê, wat my baie rustiger gemaak het. Maar toe ons daarmee begin het, besef ek dat dit regtig moeiliker is as wat dit klink. En daar begin dit weer, ek twyfel of ek my graad sal kan klaarmaak.

So hou ek maar ook die nuus dop terwyl ons aangaan, ingeperk tot ons huis, en sien hoe die syfers daagliks net slegter en slegter begin lyk. Die daaglikse besmettingsyfer is besig om baie vinnig, baie erger te word, en elke week kom daar nuwe ekonomiese vooruitskattings wat sê dat as ons nie nóú uit die staat van afsondering gaan kom nie, gaan dinge nog erger lyk.

As jy Facebook oopmaak, is daar nóg ’n berig wat sê dat nóg ’n besigheid heel moontlik gaan toemaak, en nóg soveel mense wat hulle werk gaan verloor. Dan wonder ek ook soms: Wat gaan gebeur as ek my graad nou suksesvol afhandel – gaan ek ooit werk kry? Want dit is ook gewoonlik in hierdie tyd, wat dit baie sleg gaan met besighede, wat die besighede wat dit wel maak, die mens met ’n masjien vervang om kostes te bespaar.

Ek is bang en ek is onseker, maar ek het baie beslis nie hoop verloor nie. Ek gaan nie handdoek ingooi nie, my familie ook nie, en ons as gemeenskap ook nie. Want sodra die droewe tyd verby is, gaan iemand die kole uit die vuur moet krap, en ons kan dit net sowel saam doen as ’n span. Ons sal nie hoop verloor nie, en met die Almagtige Vader aan ons kant, weet ek ons sal aan die ander kant uitkom.

Ons het ’n baie kragtige stukkie gereedskap wat die Here vir ons tot ons beskikking gegee het, en ons noem dit gebed. Ons moet dit gebruik, ons moet met die Here praat, want as dit sy wil is, sal Hy ons hierdeur bring. My heel grootste vrees is dat ons van die Here sal vergeet en nie genoeg tyd in ons dag maak vir Hom nie. En hierdie vrees van my is groter as enige ander vrees wat ek ooit kan beleef.

  • Alru Venter is ’n finalejaarstudent in landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria. Hy dien tans as primarius van De Goede Hoop-koshuis.
#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kanjynoumeer ·

Suid Afrika moet gereed maak vir n naamsverandering….Hettie
Hettie n ekonomie nie.
Hettie werk nie.
Hettie sekerheid oor die regering se besluite nie.
Hettie vertroue in die regering se besluite nie.
Hettie vrede en rustigheid nie.
So welkom in Hettie.

Kanjynoumeer ·

Moenie moed opgee nie Alru.
Lees gerus DIE PAD NA SELFBESTUUR Anderkant die mislukking van staatsbestuur geskryf deur FLIP BUYS.
Boek kan by KRAAL UITGEWERS bestel word sodra hulle oop maak.

Kosie ·

Vrees staan teenoor geloof. Begin in geloof loop en vergeet die vrees. Vrees verlam, geloof bemagtig. Vertrou op God, hou vas aan sy woord en moet nie vrees nie. Ek kan nou vir jou ‘n lang boodskap skryf om te bewys dat die virus glad nie so gevaarlik is en nie eintlik iets is om voor bang te wees nie, maar mense sal loop in wat jy glo; vrees of geloof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.