#JongStemme: Lesse te leer uit Orania

Deur Rojeanne de Wet

Rojeanne de Wet (Foto: Verskaf)

Ek was onlangs saam met 30 ander jongmense van die Solidariteit Helpende Hand Pretoria Jeugaksie op ʼn toer na Orania. Dit was my eerste besoek aan dié Noord-Kaapse dorp.

Aanvanklik was ek angstig omdat ek niemand in die groep geken het nie, maar ná ʼn 10 uur lange busrit en ʼn speellys van oneindig baie Afrikaanse treffers was niemand meer vreemdelinge vir mekaar nie.

Vir ʼn jong Afrikaanse meisie wat in die stad grootgeword het, was Orania vir my aanvanklik ʼn vreemde keuse vir ʼn bestemming. Ek is gewoond aan stadsliggies en ʼn multi-kulturele bestaan en om elke dag my taal en kultuur te moet beskerm – al is ek net een van 44 volgens Charlize Theron.

Volgens die boek, Op Pad in Suid-Afrika, het Orania aanvanklik in 1967 ontstaan as ʼn konstruksiekamp vir die mense wat by die bou van die Vanderkloof-kanale van die Oranjerivierprojek betrokke was.

Toe die projek 20 jaar later voltooi is, is die ‘dorp’ net so agtergelaat soos die werkers na die volgende konstruksieperseel vertrek het. In 1991 is die dorp gekoop deur die Afrikaner Vryheidstigting, onder leiding van professor Carel Boshoff (skoonseun van dr. HF Verwoerd).

Orania is ʼn privaat dorp wat as die kern van ʼn volkstaat vir Afrikaners ontwikkel word.

Tydens die besoek aan Orania (Foto: Verskaf)

Op die eerste dag het ons besoek gaan aflê by die Dornbult-erfenisterrein. Deel van hierdie gebied is die Oranjerivier-konsentrasiekamp wat tussen Augustus en Oktober 1901 opgerig is en waar talle vroue en kinders gesterf het. Soos ʼn mens deur die begraafplaas loop is daar aanhalings van vroue wat my laat besef het dat ek nooit regtig sal verstaan waardeur hulle was nie.

Rina Wiid, opsigter van Dornbult-konsentrasiekamp, vertel ook dat die gedeelte waar die kamp opgerig was, kniediep onder water was wanneer dit sou reën. Terwyl sy dit vertel, is daar donker wolke wat ons van alle kante nader. Daai middag het dit gereën soos wat ek nog nooit reën in ʼn Karoo-dorp ervaar het nie.

Die volgende dag het ons die dorp verken en die plaaslike winkels ondersteun. Ons het ons besoek met ʼn kanovaart en kuier langs die oewer van die Oranjerivier afgesluit.

Ná ʼn volgepakte naweek sit ek terug en dink aan die hele idee agter die dorp. Orania se bouers het geveg vir hul eie plekkie in die Karoo-son. Orania probeer ʼn tuiste skep waar die Afrikaner vry en veilig kan voel te midde van hul stryd teen stigmas en politiek.

Ons jeug veg ook ʼn stryd. Ek is gebore in ʼn land waar opstaan en veg deel van my bestaan is. Waar ook al ons werk, bly of studeer moet ons veg vir ons taal, kultuur en geloof. Ons kom die meeste van die kere tweede, maar ek is deel van die jeug wat beweeg. Helpende Hand se Jeugaksie neem verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor ons gemeenskap.

Deur tyd saam met eendersdenkende jeug te spandeer, het my opnuut laat besef dat ons as jeug, nes die inwoners van Orania, aan die beweeg is met dieselfde doel – om te veg vir ons identiteit as Afrikaners.

Ns: Liewe Charlize, ons sal nie toelaat dat ons taal “nutteloos” word of uitsterf nie.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Julle sal ook eendag welkom wees om lesse in ‘n onafhanklike Wes Kaap te leer.

piet ·

Ja maar jy sal tevrede moet wees met net sowat 10% Afrikaners wat die bevolking opmaak. Die demografie gaan nie veel verskil van die res van SA nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons praat nie van ‘n Boerestaat nie, piet. Tensy ‘n kanton daarvoor stem.

Andrew ·

Nie die anc of hulle britse hanteerders sal dit ooit toelaat nie. Orania se toekom is wel in die grondwet ingeskryf.

Watsenaam ·

Wel gedaan en goed geskryf. Die blankes wat hulle hier vanaf Europa en elders kom vestig het, het n goed ontwikkelde land vir die nageslag na gelaat. Die comrades verklaar KZN as Zulu land. Swaziland is onafhanklik van SA, Leshoto is onafhanklik van SA. Ons blankes wil ook onafhanklik wees van die huidige SA. Gee net vir ons ‘n tuisland wat sy eie kus gebied het tot by Orania. Verklaar die grond as grondbesit van die blankes, wat nie onder SA sorteer, nes die voorgenoemde lande nie. Of moet ons ook “Freedom Fighters” word vir ‘n stukkie van ons eie land?

Daisy ·

Ek is bly en trots om te weet ek het familie van verskillende generasies wat vry en veilig daar kan bly. Ons was bevoorreg om al twee keer daar te kuier – het een keer in Die Oewer Hotel gebly en ‘n ander keer in ‘n Gastehuis. Puik diens, skoon plek en vriendelike mense.
Ons hoop om volgende jaar weer te gaan kuier, maar ongelukkig is dit ver en brandstof is baie duur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.