#JongStemme: ʼn Legkaartstuk in die verkeerde boks

Deur Karlien Steenkamp

Karlien Steenkamp

Ons is grootgemaak vir ʼn wêreld wat nie meer bestaan nie. Ons pas nie in by grensstories nie, maar ook nie by bekendes en hul kinders met akronieme vir name nie. Ons het nie eintlik ʼn idee wat ons hier doen nie!

Ons is beloof dat wanneer ons groot is hierdie land ʼn plek sal wees waarop ons trots kan wees, beter as die een waarin ons ouers grootgeword het. Ons is veiligheid belowe, geholpenheid, elektrisiteit. Nou sit ek en vele ander en wonder waar daardie land heen is. Tog is daar soveel ouer mense wat ons beskuldig van ons eie ondergang.

Vandag vra ek: Asseblief, staak dit.

Hou op om vir ons te sê om te trou voor ons gereed is. Laat ons toe om te leer uit foute van die verlede. Party van ons het grootgeword in huise waar ma’s en pa’s so ongelukkig was dat ons nooit liefde leer ken het nie.

Hou op om ons daarvan te beskuldig dat ons geld mors in plaas van huis koop; niemand se salarisse word ooreenkomstig met inflasie aangepas nie, en boonop betaal ons nog studieskuld af. Ons moet amper elke vyf jaar ʼn nuwe voertuig koop, want niks word meer gebou om te hou nie. Om nie eers te praat van selfone nie. En néé, ons kan nie sonder karre en fone soos die ouer mense nie, dit is nie veilig om daarsonder te stap nie en elke werksplek vereis deesdae een of ander selfoontoepassing.

Hou op om te vra oor kinders. Een groep is bang vir intimiteit, want seks was ʼn vloekwoord − iets wat jy moes doen om kinders te maak en dit was al. Die wat wél jong ouers is, word beskuldig dat húl ouers al wéér kinders moet grootmaak. Of dat hulle dit verkeerd doen. Sommiges is bang om nog ʼn mond wat moet eet en ʼn hand wat moet werk in die wêreld te bring. Party wil, maar kan nie…

Hulle wat reeds een of twee het word gevra: “Wanneer kom die volgende een?” Mense, net omdat julle ouers deur ondervoeding en swaarkry is en hul rykdom gemeet het aan die hoeveel gesigte op die gesinsfoto?

Ek huil vir die swaarkry wat my ouers deurgemaak het omdat daar net te veel boeties en sussies was! Daar is te veel stukkende mense in stukkende klere wat op stukkende paaie vir mense vra vir die stukkies wat hulle kan afstaan.

Hou op om ons te beskuldig van hierdie stukkend. Óns het nie gevra vir hierdie land nie, ons het hom so gekry.

Liewe ouer mens: Asseblief, hou op. Hou op om ons te vra om te leef soos wat julle geleef het, die land laat dit nie toe nie. Los jou verwagtinge. Dit is erg genoeg om met ons salarisse medies en karre te betaal omdat die openbare stelsel misluk het. Dit is erg genoeg om nie te weet hoe om ʼn belastingopgawe in te vul omdat niemand ooit die moeite gedoen het om ons touwys te maak nie. Dit is erg genoeg dat die leiers nie lei nie. Julle weet dit, julle ervaar dit dan self.

My dank aan elkeen wat probeer het. My onderwysers wat nog baklei het vir hoë standaarde. My ouers wat elke sent en oomblik sou gee om te verseker dat ek toegerus is vir die toekoms.

Ongelukkig staan ek haas alleen in my penarie. Ek kla nie, my seëninge kan ek darem ook tel. Ek praat namens elke jong volwassene wat sukkel. Vir elkeen wat druk voel om te trou, kinders te hê, huis te koop. Vir elkeen wat uitgelag word omdat hulle beter wou eet of gebottelde water moes drink oor die aansteeklike bakterieëtelling in die kraanwater, die wat werk maar steeds sukkel. Ek praat namens elkeen wat ploeter deur die flenter-stelsel en deur al die draadwerk van die grootmenslewe moet stuur sonder leiding en sonder raad.

Ek praat vir die wat hartseer is omdat ons nie ons ouers kan vergoed vir die ekstra myl wat hulle vir ons gestap het nie. Ek praat vir die wat kwaad is omdat ons veiligheid en oop deure beloof is.

Ongelukkig is daardie deure toe en dra ons boonop die skuld dat die sleutel weg is.

  • Karlien Steenkamp is ‘n onderwyseres by die Academy for Christian Education in Brits, Noordwes.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

Soos ‘n man nou die dag oor die radio gesê het: Van al die wigte en teenwigte en net die booswigte oorgebly.

Hierdie stukkende en bose stelsel waaraan ons nou onderwerp is, was verseker nie almal se keuse nie. Dit is ongelukkig nou die meerderheid en die minderheid se lot. Al het die meerderheid trots daarvoor ja gesê. Ons is, waar ons is, omdat sommige goed net op papier moet bly. Dit werk nooit in die werklikheid nie. Superman, Spiderman en handjies vashou en kumbaja om die vuur en in die bed sing werk net in flieks, waar almal die draaiboek moet volg.

Studieskuld is nie ‘n nuwe ding nie. Om baie skuld en nie genoeg salaris te hê nie, ook nie. Ek is heel seker dit het al in die tyd voor 1652 al bestaan.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die lewe is ongelukkig nie so eenvoudig en perfek nie. Elke generasie doen sy bes om iets beters agter te laat. Maar daai lastige draai balle maak dinge soms moeilik. Wie weet juffrou, dalk laat jy eendag iets beter agter. Wees net bly jy is nie van Oekraïne of Afghanistan nie.

Braam ·

Ek dink die ouer garde is uiter gefrustreerd want die basiese opvoeding van kinders is nou oorgeneem deur die ‘mainstream media’, TV, internet en dan onderwysers wat wat nie ouerlike gesag respekteer nie. Ek sal nooit ophou om te ‘baklei’ vir dit wat reg is en teen dit wat verkeerd is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.