#JongStemme: Vakbonde buite hul vakgebied

Deur Walden van der Walt

Walden van der Walt.

“Die arbeidsbeweging was die vernaamste krag wat ellende en wanhoop in hoop en vooruitgang omskep het.” 56 jaar nadat Martin Luther King jr. se woorde as baken gedien het vir diegene wat smag na ’n beter toekoms sit matrikulante soos ek sit in die geskiedenisklas met min hoop, en min vooruitgang…

Onderwysvakbonde bring groot verandering in Suid-Afrika se politieke landskap na vore, en die onderwysstelsel gaan binnekort weer in die kollig geplaas word oor die gereedheid en aanpasbaarheid van skole landwyd. Ons het dit onlangs ervaar met die (voorspelde) “bloedbad” van minister Angie Motshekga en haar hoofrede, “State of our Educational Affairs”, op 22 Februarie 2021.

Die huidige status van opvoedkunde in ons land word onderskraag deur kommerwekkende aspekte soos die onderprestasie van ons onderwysstelsel, onbevoegde amptenare en onvoldoende hulpbronne aan skole. Die magstryd tussen vakbond en regering is egter niks nuut nie. Die septer word reeds in verskeie sektore eerder deur vakbonde geswaai, in plaas van deur die staatsdepartemente wat dit na regte behoort te doen.

Ons sien al hoe meer dat vakbonde hulself in ’n strategiese rol vestig om die beleidbesluitnemingsproses direk te beïnvloed, en selfs te bestuur. Hierdie de facto-alliansies tussen regering en vakbond los die speelveld nie net ongelyk nie, maar dikwels modderig en vol klippe…

Hierdie kwessie is egter twee kante van dieselfde muntstuk. Aan die een kant het ons vakbonde en organisasies wat ’n wesenlike bydrae tot die onderwys lewer, en ’n meetbare verskil maak. Aan die ander kant het ons drukgroepe wat politiekery pleeg terwyl hulle die toekoms van ons jeug in hul hande vasgevang hou. (Terloops, die stertkant van dié muntstuk, is óók die kant waar die ampswapen gevind kan word.)

Die probleem in Suid-Afrika is dat onderwysvakbonde nie eenvormig in hul doelwitte, vermoëns of suksesse is nie. Dit veroorsaak dat vertroue afwater tot op die punt waar dit die openbare opinie ernstig polariseer.

Wat vir my die kommerwekkendste is, is dat die fokus dan verskuif van die skoliere wat gehalteonderrig moet ontvang, na betalingsverhogings te midde van ’n globale pandemie en meer vakansiedae vir onderwysers. Die subteks agter hierdie eise hou ’n gevaarlike boodskap in: Stakings van so aard is ’n gelaaide politieke wapen en skoliere word dikwels in die kruisvuur gevang.

Dit is dus teleurstellend om te vind dat die groot, regeringsbelynde vakbonde nie die eenvoudige en praktiese prosedures om geskille op te los (dié van versoening, bemiddeling en arbitrasie) gevolg het soos dit veronderstel is nie. Jy is óf een van die lede, óf een van die vyande. Hierdie mentaliteit is in die grondslag van sekere vakbonde ingebou en maak dit bykans onmoontlik om ’n konstruktiewe gesprek te voer.

Daar kan wel in die praktyk drie moontlike standpunte ingeneem word in die rigting van hervorming: Vakbonde kan beleid weerstaan; verskillende hervormingsopsies wat deur ander ondersteun word oorweeg, of sorg dat hulle ’n aktiewe rol speel in die vorming van nuwe benaderings tot onderwysbeleid.

Dit is dus krities dat ons die sein afsonder van die geraas, en besef dat onbevoegdheid en foutiewe beplanning blameer kan word. Die onus rus dus op alle vakbonde om die politieke toertjies ter syde te stel. Plaas die departement van basiese onderwys objektief onder ’n vergrootglas en gaan te werk om op ’n diplomatiese wyse ’n konsensus-georiënteerde gesprek met die skole en regering te open, maar ook onder medevakbonde.

Die kardinale rol wat onderwysunies en vakbonde in die Suid-Afrikaanse skoolstelsel kán speel, is na my mening een om te bly. Daar moet net eers ernstige introspeksie gedoen word rakende hoe die rol vertolk word, en die boodskap wat dit uitstraal aan ons jeug.

  • Walden van der Walt is ’n matriekleerder aan die Hoërskool Stellenbosch.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.