#JongStemme: Wat kan jy doen terwyl jy wag vir matriekuitslae?

Deur Karen Waldeck

Karen Waldeck (Foto: Verdkaf)

Dit is weer daardie tyd van die jaar! Angstige leerders, ouers en voogde kan behoorlik die spanning voel knyp.

Die resultate waaraan leerders al vir meer as die helfte van hulle lewens werk, word binne ʼn paar weke bekend gestel. Dit is belangrik om te onthou dat jou matriekresultate jou nie definieer nie en ook nie die res van jou lewe of sukses bepaal nie.

Die spanning loop hoog in elke huishouding wat vir resultate wag, hier is ʼn paar idees vanaf ‘n student wat in dieselfde bootjie was as jy, aan jou, waarmee jy jouself kan besig hou om jou aandag af te trek en die tyd vinniger te laat verbygaan:

  1. Kry vir jou ʼn tydelike werk. Probeer om iets te kry in min of meer dieselfde veld as wat jy wil studeer. Dit sal jou die geleentheid bied om ervaring op te doen en nuwe vaardighede aan te leer. Maar die belangrikste van alles is dat jy ʼn kans sal hê om te sien of dit is wat jy wil doen. En jy het ekstra sakgeld vir universiteit of matriekvakansie!
  2. Doen navorsing. Wie wil nou navorsing doen in hulle vakansie? Dit mag dalk vervelig en na baie werk klink, maar jy gaan nie spyt wees nie! Gebruik net een uur elke dag vir ʼn week. Of dit nou oor die beroep is waarin jy graag sal wil gaan, wat jy wil studeer of sommer net enigiets waarin jy belangstel. Dit hou jou brein “fiks” en jy leer nuwe dinge.
  3. Verbeter jou vaardighede. Pak daai klein goedjies aan waarin jy kan verbeter. Byvoorbeeld neem ʼn kursus in Microsoft Word en Excel. Dit mag dalk net die rede wees hoekom jy kop en skouers bo die res van jou mededingers uitstaan. Jy kan dit op jou CV gebruik wanneer jy moet begin uitkyk vir werk.
  4. Dink aan jou opsies en stel ʼn plan op. Dit is belangrik om ʼn plan te hê indien jou resultate nie uitdraai soos wat jy verwag het nie. Besluit saam met jou ouers wat die beste plan van aksies gaan wees. Kyk na universiteit, watter programme hulle aanbied en ook wat die vereistes daarvan is.
  5. Indien jy universiteit toe gaan, kyk solank na werk wat jy gaan moet doen en begin daardeur werk. Dit is moeilik om aan te pak wanneer jy nog nie eers seker is of jy goedgekeur gaan word en of jy matriek deur is nie, maar ongeag wat die geval mag wees sal dit steeds net tot jou voordeel tel.

Moenie dat hierdie gewag spanning in jou huis veroorsaak nie. Vat ʼn tree terug in geloof en alles sal vir jou uitwerk.

Daar is soveel opsies wat gevolg kan word indien jy nie die beste punte kry nie. Iewers is daar iemand wat een van die mees suksesvolste mense is wat dit nie eers deur matriek gemaak het nie.

Dit is weereens net so belangrik dat elke leerder onthou dat matriekresultate nie jou toekoms maak of breek nie. Waar daar ʼn wil is, is daar altyd ʼn weg!

  • Karen Waldeck is ‘n finale jaarstudent in ekonomie en bestuurswetenskap aan Unisa en werk ook voltyds.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Jy kan kol doen 800000 leerders het matriek geskryf die werkloosheid styg faktore soos seb en sekere studie rigting op universiteit word gereserveer vir voorheen benaadeeldes en huidige benaadeeldes kan net in sekere rigting studeer

JohanR ·

Umm….ek het soe drie weke vakansie gehad na matriek, en toe in die werk ingeval. Werk – waar jy vir iemand soe 7.5 ure van jou dag gee met die sweet van jou gesig, en op die 25ste kry jy geld in jou bankrekening. Of jy kan Plett of Durban toe gaan en swanger raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.