#JongStemme: Wees eg – los die klug!

Deur Zoné Oberholzer

Zoné Oberholzer (Foto: Okay Deer)

Hoe is dit dat die mens vassit in ʼn droomwêreld? Hoe is dit dat die mens met die mooiste idees vorendag kan kom, maar dit nie self kan implementeer nie? Hoe is dit dat die mens beloftes met vurige stemme kan maak, maar nie een van hul kan nakom nie?

Hoe is dit dat die mens woorde so goed as bemarkingsmateriaal kan gebruik, maar nie die diens kan lewer nie? Hoe is dit dat ons mekaar vasvang in ʼn klug, ʼn illusie en die een die ander onvervuld agterlaat?

Hoe kan jy moontlik die wêreld belowe as jy weet jy kan dit nie gee nie?

Die meeste mense raak verlore in die self en dit wat hom of haar laat goed lyk. Daar is min wat weet van dien en min wat begrip toon in voete was. Meeste mense is daarop uit om in te win – min wat weet hoe dit lyk om te gee.

My liewe mensdom! Waar het ons mekaar so begin misverstaan, miskommunikeer? Waar het ons geleer om mekaar te bestempel met letsels en woorde wat geen see kan afwas nie?

Die antwoord lui so: Waar ons Jesus ontken, verstik ons aan die self.

Ons kan nie net soos Jesus praat net omdat dit is wat mense trek of lok nie. Ons kan Hom nie net in ons taal inwerk wanneer ons ons verkeerde wil regverdig nie. Ons kan nie Hom net as ink vir óns stempel gebruik nie.

Ons moet 24/7 in gesprek met Hom wees om ons woorde te lei en met ons dade te koördineer. Ons kan nie moontlik dink dis aanvaarbaar om net om te gaan en Hom as “goed-lyk”-trofee te gebruik nie.

Ja, dit klink vreeslik, maar dis júis die punt. Hoe loop ons dan en praat so maklik oor Jesus, maar agter toe deure vernietig ons woorde siele en getuig ons dade van wreedheid?

Meer as ooit het ons Hom nodig. Die lewe is klaar moeilik genoeg. So kom wees net eg – los die klug. Praat met Hom soos wat jy elke sekonde moet asemhaal, want ai, die lewe is net nie moontlik sonder Hom nie.

Wees deur Hom en in Hom – dit vereis nie foutloosheid of perfeksie nie. Dit vereis egtheid, nederigheid en jy wat kies om ʼn kanaal van Sy genade te wees.

  • Zoné Oberholzer, is ‘n finalejaar-grondslagfasestudent by Aros. Sy is ook een van die #StudenteStemme vir Solidariteit Jeug.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Pragtig Zoné, jy is altyd so inspirerend. Mag jy nooit jou sprankel verloor nie.

Johan ·

So waar, Baie dankie. Ons moet eintlik almal hierdie gedeelte elke oggend weer lees. Baie dankie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.