Jordan Peterson en die probleem van die bose

Deur Daniël Goosen 

Jordan Peterson. (Foto: Gage Skidmore/Wikimedia Commons)

Oor die afgelope paar jaar het Jordan Peterson ’n internasionale intellektuele superster geword.

Die sielkundige se YouTube-video’s is al meer as 220 miljoen keer gekyk. Sy boek, 12 Rules for Life (2018), het al meer as vyf miljoen eksemplare verkope en sy jongste boek, Beyond Order, staan gereed om dieselfde paadjie van sukses te stap.

Peterson, ten spyte van al die politieke polemiek wat sy kant toe kom, is dalk bes bekend vir sy YouTube-reeks van 17 dele oor die sielkundige waarde van die Bybel. Elk van die video’s is in die omgewing van twee uur lank en lê klem op die sielkundige waarde van die eerste paar stories in die Ou Testament. As gevolg van hierdie verbintenis met die Bybel, is Peterson dikwels in debatte ingetrek waar hy die Christendom teen ateïste, soos Sam Harris, verdedig. Dit, terwyl Peterson nog nooit in die openbaar erken het dat hy in God glo nie, maar eerder dat hy lewe asof daar ’n God is. ’n Tegniese manier om te sê “dalk”, maar dit is beslis nie ’n “ja” nie.

Ten spyte van hierdie bykans toevallige verbintenis met die Bybel, word Peterson gesien as ’n figuur wat die ou tekste van ons tradisie op ’n nuwe en interessante manier aan die wêreld openbaar. Ons moet egter onthou dat die Christendom al vir meer as twee millenniums aktief bestaan. Bykans enige manier van ’n teks lees en interpreteer is êrens in die geskiedenis van die Christendom te vinde.

Peterson, wat die Bybel op ’n meer sielkundige manier interpreteer deur die stories simbolies te lees, doen dus daadwerklik ook niks nuuts nie. Kerkvaders soos Origenes (184-253 n.C.) het hierdie manier van die Bybel lees die tropologiese interpretasie genoem, waarvolgens die tekste deur ’n morele of sielkundige lens gesien word. Peterson wys in sy video’s hoe ons basiese biologiese gegewens weerspieël word in die stories van die Bybel. Hieruit kan mens ’n morele denkstruktuur optrek wat, volgens Peterson, onuitputbaar is. Dit is uiteraard waar.

Een van die primêre probleme wat mens met Peterson ervaar, ten spyte van die massiewe positiewe effek wat hy op die internasionale kultuur uitoefen, is sy gnostiese neigings. Ons sal nie hier die ganse tradisie van die gnostiek uiteensit nie, maar vir nou kan ons die volgende opmerkings maak: die gnostiek werk met die idee dat die kosmos – die materiële werklikheid – deur ’n bose god geskape is. Die siel, en dus die geestelike wêreld, is deur ’n goeie god geskape. Vinnig, kan ons sê dat die Ou Testamentiese God volgens hierdie stelsel die bose god is wat die materiële werklikheid gemaak het. Dus is die Nuwe Testamentiese God die goeie god wat verantwoordelik is vir die geestelike werklikheid. Daar is dus, in ons daaglikse ervaring, hierdie stryd tussen die twee gode. Peterson, wat ’n gelowige volgeling van Carl Jung is, werk met hierdie skeiding.

Die beste manier om hierdie skeiding te verstaan, is nie om na Peterson of Jung se werk te kyk nie, maar eerder na nog ’n volgeling van Jung, naamlik Joseph Campbell. Campbell se alombekende werk, The Hero with a Thousand Faces, was die inherente en deurlopende invloed en inspirasie vir George Lucas se Star Wars-rolprente. In hierdie rolprente sien ons presies wat met die gnostiek bedoel word. Ons word met die Force gekonfronteer, die spirituele krag wat hierdie fiktiewe kosmos in stand hou. Die Force het twee kante: ’n ligte en ’n donker kant, en beide is verdoem tot ewige konflik. Peterson werk met presies hierdie skeiding, alhoewel hy verkies om kategories met orde en chaos te werk, eerder as met goed en boos.

In ’n onlangse podsending het Peterson met ’n bekende Amerikaanse biskop gesels, waarin die probleem van boosheid ter sprake gekom het. Peterson het volgehou dat die mens volkome boos kan optree. Met ander woorde, dat die mens oor die vermoë beskik om iets te doen wat nie ’n bepaalde goedheid as einddoel het nie. Volgens Peterson is die mens dus in staat om die boosheid self na te jaag as die doel en bron van ’n handeling.

Hierdie, volgens die Christendom ten brede, is onmoontlik. As ons sê dat God goedheid self is en dat Hy almagtig is, kan daar nie nog ’n bykomende mag ’n uitwerking op die kosmos uitoefen nie. Die boosheid, as sodanig, kan per definisie nie “iets” wees nie. Die bose kan niks anders wees as ’n afwyking of ’n afwesige goedheid nie – privatio boni. Augustinus meen dat die bose geen positiewe natuur het nie, maar slegs die afwesigheid van goedheid verteenwoordig. Die probleem van die kwaadheid of die boosheid word dus deur die Christendom omskryf as iets wat nie “is” nie, wat nie bestaan nie.

Daarmee word dit nie ontken nie, glad nie. Dit word eerder gesien volgens die metafoor van ’n skaduwee. Soos die skaduwee die afwesigheid van lig verteenwoordig, so word met die bose of die kwaadheid konseptueel gewerk. Met hierdie argument word twee dinge, onder meer, bevestig: (1) God is almagtig, asook die goedheid self; en (2) enige kwaad loop uiteindelik uit op die goeie. As iets boos gebeur, word dit ook nie deur God veroorsaak nie, maar toegelaat, juis sodat daar uit hierdie tragiese gebeure verdere goedheid kan vloei.

Prakties beteken dit dat elke handeling wat die mens onderneem ’n bepaalde goedheid in gedagte het. Selfs iets so eenvoudig soos opstaan in die oggend, het ’n bepaalde goeie uitwerking in gedagte. Ek staan op sodat ek kan gaan werk, sodat ek kan geld verdien, sodat ek vir my familie kan sorg. Die handeling is dus goed, in die sin dat dit ten diepste die goeie najaag. Selfs as iemand moord pleeg, word dit gedoen met ’n bepaalde goedheid as die einddoel. Juis omdat die moordenaar dink dat hierdie handeling ten minste homself op een of ander manier kan bevoordeel, en dus “goed” is.

Peterson het in die podsending uitdruklik kapsie gemaak teen hierdie idee. Vir hom, getrou aan sy teoretiese agtergrond, is daar hierdie twee onderliggende kragte wat op ons ’n uitwerking het. Die idee maak natuurlik vir ’n fantastiese storie. Die meeste mites, soos wat Campbell uitgewys het, is op hierdie uitgangspunt gegrond. Die storie van die Christendom is egter uniek in hierdie verband. Daar is nie ’n bose krag wat as God se gelyke staan en om die kosmos meeding nie. Vanaf Genesis tot en met Openbaring is die boodskap strykdeur dieselfde en word bes deur Paulus in Romeine 8:38 saamgevat: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenwoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie.”

Alhoewel Peterson ’n fantastiese stem in hierdie post-Christelike wêreld is wat die Bybel op ’n toeganklike en tog intellektuele manier aan massas mense verpak, moet mens egter sy basiese uitgangspunte in gedagte hou. Behou die goeie, sou my aanbeveling wees, maar moet nie dink Peterson is besig om die Goeie Nuus te verkondig nie.

  • Daniël Goosen beskik oor ’n BA-honneursgraad in visuele kultuurstudies en doen vanjaar ’n internskap by die FAK.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jack ·

Ai tog. Jordan Peterson staan soos ‘n reus teen die sataniese magte wat besig is om ons christelike westerse kultuur te probeer uitwis en Daniël Goosen kry dit reg om daarmee fout te vind.

Barend ·

Daniel, ek respekteer jou perspektief hieroor en kan sien hoekom jy van Peterson verskil. Ek verskil met beide hom en jou. Boosheid is beide die afwesigheid van die goeie en is iets wat bestaan.

Drikus ·

Ek hou van die feit dat Daniël die werklikheid van die bose in die gesig staar. Ek is net bekommerd oor sy stelling – “Die bossheid kan nie , as sodanig, “iets” wees nie”.
Ek dink jy moet net so ‘n bietjie die Bybel mooi gaan bekyk, soos ek dit lees is die boosheid beide die mense se sondige hart, end ‘n Bose agent wat vir ‘n tyd lank toegelaat word om die mensdom te verlei.

Opn 20:1  En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. 
Opn 20:2  En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, 
Opn 20:3  en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word. 

MT ·

Daniel Goosen gaan selektief met die Skrif om deur na God se goedheid te verwys, maar die bestaan van die van die bose word ontken.

Daardie pragtige Bybelboek met die beskrywende naam, Openbaring, verklaar en verduidelik die bestaan en rol van die bose.

Deur die bose te ontken, skep ons ‘n nuwe evangelie, vals in dogma en dodelik vir die onsterflike siel.

Dirk Mostert ·

Ek het heelwat oor die onderwerp gelees, o.a. die 4 boeke van H.P. Blavatsky (laat 1880s), nl. Isis Unveiled I en 2 en The Secret Doctrine 1 en 2 (628, 640, 676 en 798 bladsye). Nie aan te beveel vir sensitiewe lesers nie. Die uiteensetting van die Gnostiek hierbo is m.i. simplisties. Die Gnostici/Oudste Christine was die nakomelinge van die Essene, wat die oerkennis bewaar het. Hulle het die apostel Paulus as ‘n ketter beskou.

Piet Snot ·

Ek dink jou beskrywing vd bose as die afwesigheid vd goeie is nie in ooreenstemming met wat die Bybel sê nie, Daniël.
Lees al die baie verse wat spesifiek die bose as ‘n persoon beskryf; God se teëstander (maar by verre nie aan Hom gelyk nie, nie in die minste nie).
Dankie egter vir jou bespreking van die Jordan Peterson fenomeen. Hy het groot invloed onder jong mans, en ek dink ons kan gerus nog baie tyd spandeer aan die bespreking vd voor- en nadele daarvan.

Therese ·

Interessante artikel wat ‘n tweede en derde lees nodig het.
Jordan Peterson is ‘n ster, een van die min ligpunte in ‘n samelewing wat ‘n mens laat wanhoop oor die toekoms.

annie ·

Peterson is die kluts kwyt… toetentaal. Op alle gebiede. En die outeur glo weer hy interpreteer die Bybel korrek hetsy die Kerk se sienning van die Christelike godsdiens oor wat goed of sleg is. Reeds aan die begin van die Bybel is goed en sleg teenoor mekaar gestel en Moses het die 10 gebooie ontvang wat reg en verkeerd, goed en kwaad, uitstippel. Wie het dit aan Moses gegee as die basis vir menslike optrede? Die bestaan van Satan word ook ontken. Major mistake. Peterson bewys homself as vals.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.