Kaapse onafhanklikheid – repliek op debat

Deur Phil Craig

Phil Craig

ʼn Uitgerekte debat oor die grondwetlike uitvoerbaarheid van Kaapse onafhanklikheid vind in Die Burger plaas. In ʼn onlangse episode hiervan, het prof. Pieter Labuschagne, emeritus professor in politieke wetenskap aan Unisa vir dr. Corné Mulder, VF Plus-LP, daarvan beskuldig dat hy ʼn valse narratief skep.

Labuschagne het Kaapse onafhanklikheid as ʼn edele, maar uiteindelik nuttelose saak uitgebeeld en die betrokkenes gesoebat om tog hul visier laer te stel. Hy het gevoel dat ʼn referendum oor Kaapse onafhanklikheid ondenkbaar is; dat indien ʼn referendum sou plaasvind dit nasionaal gehou sou word en daarom onwenbaar sou wees; en dat, ongeag die uitslag van enige onafhanklikheidsreferendum, die grondwetlike veranderinge wat nodig is om die afstigting van die Wes-Kaap te bewerkstellig, onmoontlik sou wees om te bereik.

As medestigter van die Cape Independence Advocacy Group (CIAG), is hierdie ʼn tema wat ek breedvoerig nagevors het. Ek gaan van Labuschagne verskil oor elk van hierdie punte en hom en die leser sodoende vra om verby grondwetlike intellektualisme tot in die gebied van realpolitiek te tree. Ek ondersteun my argument met relevante historiese presedent en daag die professor uit om dieselfde te doen.

Is ʼn referendum oor onafhanklikheid haalbaar?

Artikel 127(2)(f) van die Suid-Afrikaanse Grondwet maak spesifiek voorsiening vir provinsiale referendums en klousule 37(2)(f) in die Wes-Kaapse Grondwet eggo dit. Die bemagtigende wetgewing, wat die Grondwet voorafgaan, moet bygewerk word om hierdie bepalings in te sluit. Die DA het reeds die “Wysigingswetsontwerp op die Verkiesingskommissie” gepubliseer wat dit sal bereik. AfriForum het ook aangekondig dat indien die parlement nie hierdie wetgewende gebrek aanspreek nie, hulle die saak na die Konstitusionele Hof sal neem.

Die enigste persoon wat deur die Grondwet bemagtig is om ʼn provinsiale referendum in die Wes-Kaap te roep is die provinsiale premier. Die Wes-Kaap word deur die DA beheer en hulle het ingestem om die wetgewing reg te stel, ʼn referendum te roep en ʼn vraag oor Kaapse onafhanklikheid in te sluit. Hulle het ook in die openbaar gesê dat, alhoewel hulle as party nie Kaapse onafhanklikheid ondersteun nie, hul glo dat dit ʼn besluit vir die mense van die Wes-Kaap is om, op ʼn demokratiese manier, vir hulself te maak.

ʼn Referendum oor Kaapse onafhanklikheid is nie net moontlik nie, dit is hoogs waarskynlik.

Sou ʼn onafhanklikheidsreferendum provinsiaal of nasionaal wees?

Selfbeskikking is ʼn gevestigde, beskermde en universeel aanvaarde mensereg. Dit is die reg waarop afstigting gegrond is. Dit is ʼn groepsreg en diegene wat nie aan die groep behoort nie, neem nie deel aan die proses om die groep se demokratiese wil te bepaal rakende die ‘hoe’ van die uitvoering daarvan nie (hoewel hulle mag deelneem aan die onderhandelinge wat sou volg).

Sedert 1990 het die volgende gebiede onafhanklikheidsreferendums gehou waar die uitslag amptelik erken is: Skotland, Suid-Soedan, Quebec, Montenegro, Oos-Timor, Puerto Rico, Bermuda, Bosnië en Herzegowina, Oekraïne, Macedonië, Litaue, Letland, Estland, Kosovo, Kroasië, Georgië, Slowenië, Armenië, Azerbeidjan, Turkmenistan, Oesbekistan en Eritrea.

Ek sou prof. Labuschagne uitdaag om vir ons te identifiseer − in watter van hierdie voorbeelde kon die ouerstaat, saam met die gebied wat in die referendum wil afstig, deelneem aan die stemming?

Daar is geen internasionale presedent vir die hele Suid-Afrika om oor Wes-Kaapse onafhanklikheid te stem nie en enige referendum oor Kaapse onafhanklikheid sal provinsiaal wees.

Moet die Grondwet verander word vir Kaapse onafhanklikheid om plaas te vind?

Aan die kern van afstigting is die verwerping van die soewereine gesag van die ouerstaat. Om te argumenteer dat die grondwet afstigting kan voorkom, is soos om te argumenteer dat ʼn huweliksertifikaat egskeiding kan voorkom.

Daarbenewens moet enigiemand wat met sekerheid oor die wettigheid van Kaapse onafhanklikheid uitsprake lewer, skepties bejeën word. Internasionale reg moet oorweeg word, nie net die Konstitusionele Reg nie. Selfs die deurslaggewende rol van internasionale reg in sake rakende staatskap ter syde gestel, vereis die Suid-Afrikaanse Grondwet dit. In Internasionale Reg is afstigting  ʼn hoogs omstrede onderwerp en nie eens die wêreld se voorste kundiges kan konsensus bereik nie. Weereens, historiese presedent is insiggewend.

In sommige gevalle stem die partye vooraf in om die uitslag van ʼn onafhanklikheidsreferendum te eerbiedig. Skotland en die Verenigde Koninkryk is ʼn onlangse voorbeeld. Hierdie is ʼn onwaarskynlike scenario vir Kaapse onafhanklikheid, en die voorbeeld van Quebec, waar die partye wettiglik reggestaan het oor wie geregtig was om wat te doen, is ʼn meer realistiese verwagting.

Kanada het die saak na sy hoogste hof verwys vir ʼn regsmening en internasionale kundiges het argumente aangevoer vir beide vir en teen Quebec se reg om afstigting. Een kant het die oppergesag van die Kanadese grondwet en Kanada se soewereine integriteit aangevoer, die ander Quebec se onvervreembare reg op selfbeskikking onder internasionale reg wat die grondwet nie kon ontken nie. Op die ou end het die punt ʼn ope vraag gebly, siende dat Quebec naelskraap teen onafhanklikheid gestem het, maar selfs toe was dit nie die einde van die saak nie.

Kanada het daarna die “Clarity Act goedgekeur wat ʼn grondwetlike wysiging vir Quebec se moontlike toekomstige afstigting vereis. Quebec het in reaksie “Bill 99 goedgekeur wat Quebec se reg op selfbeskikking in die openbare internasionale reg beklemtoon het en wat verklaar dat geen ander parlement (behalwe Quebec s’n) enige beperking op die demokratiese wil van die mense van Quebec mag oplê om hul eie toekoms te bepaal nie.

Quebec se argument is in 2010 versterk toe die Internasionale Geregshof aangeraai het dat Kosovo se Eensydige Onafhanklikheidsverklaring (UDI) van Serwië nie ʼn skending van internasionale reg was nie.

Wat hierdie presedente vasstel is dat nie een van die kante in ʼn omstrede vraag na onafhanklikheid eenvoudig hul posisie kan verklaar en op die ander kant kan afdwing nie. Suid-Afrikaanse konstitusionaliste kan nie bloot Kaapse onafhanklikheid verwerp deur die Grondwet aan te haal nie. Nog minder so wanneer hulle nie Suid-Afrika se verpligtinge erken om selfbeskikking toe te staan onder die verskillende internasionale verbonde wat Suid-Afrika gedurende die demokratiese era bekragtig het nie.

In die geval waar die mense van die Wes-Kaap hul demokratiese wil vir onafhanklikheid sou uitspreek, sal intense politieke onderhandelinge, waar beide kante gedwing sal word om te goeder trou op te tree, die uitkoms wees.

Sluitingsargument

So, ter afsluiting sou ek beweer dat ʼn referendum oor onafhanklikheid reeds belowe is, dat enige sodanige referendum provinsiaal en nie nasionaal sou wees nie, en dat die Grondwet in die geval van ʼn demokratiese mandaat vir onafhanklikheid nie ʼn onoorkomelike struikelblok sal wees nie. Die uitslag sal bepaal word deur realpolitiek en politieke onderhandelinge.

Labuschagne sluit sy artikel af deur “gatvol” Suid-Afrikaners te soebat om tog laer te mik, ek sou voorstel dat hy in teenstelling daarmee die baanbrekersgees van sy voorvaders herontdek en ietwat hoër mik. As ons onsself verslaan sonder om eers te probeer, sal ons lot beseël wees.

  • Phil Craig is ʼn gesinsman, ʼn reeks-entrepreneur en mede-stigter van die Cape Independence Advocacy Group. Hy beywer hom vir die skepping van die “Kaap van Goeie Hoop”, ʼn eerstewêreldland aan die suidpunt van Afrika wat vryheid, veiligheid en welvaart bring vir almal wat daar woon, ongeag hul ras, godsdiens en kultuur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dewald ·

Ek moet ongelukkig met die Prof saamstem, hierdie is wensdenkery. Om jou kragte toe te spits op ‘n sisteem van federalisme waar die Wes-Kaap meer beheer kan he (jy verdien immers die regering waarvoor jy stem), is sekerlik ook ‘n droom, maar in my opinie veel meer moontlik as afstigting.

groenboer ·

Die Kaap s groot probleem is dat, indien hy nie onafhanklik is nie, is daar geen manier wat hy sy grense kan sluit vir instroming nie. En hoe beter hy bestuur word, hoe meer desperates stroom uit die Oos-Kaap en elders daar in, waar hulle dan die ANC terug aan bewind stem.

Manie ·

Dankie Phil, laat die stemgeregtigdes van die Wes-Kaap besluit hoe en deur wie hulle regeer wil word. Niemand anders behalwe Wes-Kapenaars word hierby betrek nie, want hulle woon nie hier nie. Ek is ‘n voorstander van afstigting waar mense van my keuse regeer.

Heinrich ·

Afstigting is iets wat fantasties sal wees. Al wat my bekommer is dat dieselfde lot wat die ANC in bewind hou nou moet stem om hulle belastingbasis toe te laat om af te stig. Hulle sal so hulle eie kele afsny en dit nooit toelaat nie.

groenboer ·

Die kort weergawe is dit: as die Kaap wil afstig, gaan niemand hom kan keer nie, of daar nou wetlike voorskrifte daarvoor is of nie. Die regering kan nie eers die spoorweë aan die gang hou nie; hoe gaan hulle ‘n Wes-Kaap wat ensydig onafhanklikheid verklaar het onder beheer kry?

Die Amerikaners het destyds nie die Britte mooi gevra of hulle maar onafhanklik kan wees nie…

Lourens ·

Die Amerikaners moes ook ‘n oorlog baklei om onafhanklik te wees. Sien jy daarvoor kans? Ek nie.

groenboer ·

Die Amerikaners moes ‘n oorlog veg teen wat daardie tyd die magtigste weermag op aarde was. ‘n Paar vrywilligers uit die plaaslike sekuriteitsdienste sal genoeg wees om die ganse SA weermag soos ‘n spul hoenders uit mekaar te jaag.

Die Natal-onluste verlede jaar het gedemonstreer hoe magteloos ons regring, weermag of te not, is om enigiets te vermag. As die onluste eerder ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring deur KZN was, het die troepe ook maar daar rondgestaan, magteloos om enigiets te doen.

Feit is, die burgerlike bevolking is deesdae aansienlik meer bekwaam en magtig as die regering.

Petrus Albertus ·

Die ironie is natuurlik dat die Kaap, tradisioneel, nie republikeins is nie en dat die wat bereid sou wees om so drasties te handel soos om tot geweld oor te gaan om onafhanklikheid te verkry, nie tradisioneel in die Kaap woon nie. Geen van die bewegings om aan minderhede in hierdie land reg te laat geskied het tot dusver op Kaapse inisiatief tot stand gekom nie. So laat ons maar sien of daar ‘n einde sal kom aan die mooi vra…

annie ·

Is Mr Craig Engels en lid van die DA? Vra maar net. Afrikaners het die idee van afstigting eerste bepleit maar nou het dit ‘n ander baas. Liberales plus ANC het die Kaap met 35 plakkerskampe gevul; oorlopenstoe vol. Die ANC en DA geniet die view vanuit die rykmansbuurtes onder Van Donk se blad? Sowieso trek die hele boksemdais van bo na onder en dan vat ons dit waar ons nou bly…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.