Kerklike integriteit

Deur prof. Johan Janse van Rensburg

Prof. Johan Janse van Rensburg.

Die Christengemeenskap is die afgelope tyd geskok deur berigte van immorele seksuele bedrywighede deur ʼn wêreldbekende evangelis. ʼn Ander evangelis is voor die hof gedaag omdat hy na bewering bedrog gepleeg het. Nog ʼn ander het voorgegee dat hy ʼn dooie weer lewendig gemaak het.

Telkens is daar berigte van onbybelse gedrag deur predikante. Die prominente teoloog Karl Barth het ʼn jare lange buite-egtelike verhouding gehad. Dit is nie ʼn nuwe verskynsel dat dergelike immoraliteit onder gelowiges en kerkleiers plaasvind nie. Die Bybel vertel ook skokkende verhale van onheilige gedrag deur gelowige mense. Natuurlik vind die wêreld veel vreugde in sulke berigte. Die implikasie is duidelik: as die Christelike boodskap van wet en selfbeheersing dan so belangrik is, hoe kan Christene aan sulke skandelike gedrag skuldig wees? Dit bewys mos, word beweer, dat die Bybel, die kerk en die prediking te vergeefs is.

Kan die boodskap van die kerk nog geglo word? Die volgende kommentaar kan help om perspektief te bring. Mense wat deur God geroep word om diensknegte en boodskappers te wees, is nie super heiliges nie, maar gewone mense met swakhede, sondes en foute. God is egter onaantasbaar in sy heiligheid, regverdigheid en integriteit. Omdat Hy is wie Hy is, verwag hy dat ons ook integriteit moet hê. Daarom is die Bybel eweneens onaantasbaar omdat sulke onbeheersde gedrag nie deur die Skrif verswyg word nie, maar juis openbaar gemaak en veroordeel word.

Dit is duidelik dat integriteit vir God belangrik is. Daar moet integriteit in geloof wees. Om voor te gee dat jy ʼn gelowige is terwyl jy nie sekerheid in die geloof het nie, of nie in die Woord glo wat jy verkondig nie, kom op oneerlikheid neer. Dit sou egter ʼn fout wees om die beginsel van integriteit tot immorele handelinge te beperk. ʼn Kerk of gemeente moet, net soos ʼn leraar of ʼn lidmaat, geloofwaardig wees. ʼn Kerklike denominasie word deur ʼn bepaalde en duidelik omskryfde stel van beginsels of geloofsoortuigings onderskei. Mense wat hierdie belydenis as hulle eie kan omarm en onderskryf, sluit hulle by daardie kerk aan. Hulle kan slegs lidmate word as hulle openlik verklaar dat hulle dit alles glo en aanvaar.

Wat word dan van kerklike integriteit wanneer ʼn kerk se leer en handelinge nie met die belydenisgrondslag ooreenstem nie? ʼn Katolieke kerk kan nie voorgee om katoliek te wees sonder die kernbeginsels van die katolieke geloof nie. Pentakostalistiese kerke kan nie as sodanig bekend staan as hulle nie leer en praktiseer wat die naam verteenwoordig nie. Hoe is dit dan moontlik dat ʼn kerk as ʼn gereformeerde kerk bekend kan staan, maar aan die mees basiese beginsels van die gereformeerde leer ontrou kan wees? Watter verstaan van integriteit verteenwoordig dit wanneer ʼn kerk afwyk van die beleid wat wetlik omskryf en publiek bekend gemaak word?

Volgens artikel 1 van die Kerkorde van die NG Kerk is die kerk in die onfeilbare Woord van God en die belydenisskrifte gefundeer. Dit is die “grondwet” van die kerk. Die wêreldlike hof beoordeel ʼn kerk volgens getrouheid aan die eie “grondwet”. Lidmate verbind hulle aan hierdie grondbeginsels. Tóg is daar die afgelope dekades talle voorbeelde waar besluitnemingsprosesse van hierdie gestelde belydenisgrondslag afwyk. Die Bybel word in teologiese gesprekke nie meer as onfeilbaar beskou nie al sê artikel 1 só, en word ook nie as Woord van God aanvaar nie, maar as mensewoorde oor God. Verder dra die belydenisskrifte weinige gesag in die besluitnemingsprosesse van die kerk. Daar is talle voorbeelde waar die amptelike besluite van die NG Kerk van die Belydenisskrifte afwyk of dit weerspreek. Daarbenewens word teologiese uitsprake deur professore en kerkleiers gemaak wat van die belydenisskrifte verskil sonder dat hulle tot orde geroep word. Geen standpunt word as dwaalleer beskou nie omdat die algemene sinode van die NG Kerk besluit het om die beginsel van diversiteit te aanvaar. As gevolg daarvan, het leertug in die kerk verval terwyl dit volgens artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) een van die kenmerke van ʼn ware kerk is. Artikel 28 van die NGB stel dit duidelik dat die eenheid deur die leer van die kerk en die tug bewaar word. Dit is volgens artikel 28 die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van dié wat nie aan die ware kerk behoort nie. Dit staan in skrille kontras teenoor die beginsel van “eenheid in verskeidenheid” wat deesdae die towerwoord in sinodale debatte geword het. Dit spreek vanself dat nie alle kerke die belydenisskrifte aanvaar nie, maar as ʼn kerk dit as deel van die belydenisgrondslag verklaar, beteken kerklike integriteit om dit in alle opsigte te eerbiedig.

Ek word daarvan beskuldig dat my jare lange standpunt hieroor liefdeloos en ʼn aanval op die Here se kerk is. Net die Here weet hoe lief ek die kerk het waarin ek grootgeword het. Dit is die kerk wat my in die teologie opgelei het. Dit is die kerk wat ek meer as 47 jaar aktief as VDM[1] kon bedien. Ek wil nie die kerk verlaat om my eie kerk te stig nie, soos iemand my van beskuldig het. Ek treur oor die gebrek aan integriteit by die kerk waaraan ek my verbind het. Laat die kerk dan sy “grondwet”, soos dit in artikel 1 geskryf staan, verander as dit nie meer geglo word of van toepassing is nie. Dan sal ek ook weet wat om met my lidmaatskap van die NG Kerk te doen. Maar tot dan dring ek en duisende ander lidmate eenvoudig aan op die gereformeerde belydenis wat die kerk voorgee om te verkondig. Jesus Christus is Here van die Kerk.

  • Prof. Johan Janse van Rensburg is reeds meer as 40 jaar ’n predikant van die NG Kerk. In 1994 het hy ook ’n pos aan die fakulteit teologie van die Universiteit van die Vrystaat aanvaar waar hy 16 jaar praktiese teologie doseer het. Hy het drie doktorsgrade verwerf by Stellenbosch, Unisa en die UV.

[1] Verbi Divini Minister: Bedienaar van die Goddelike Woord

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stefan

Wys my ‘n persoon wat sy tiende aan die kerk afdra, niemand doelbewus verneuk nie, sy volle inkomste aan SARS verklaar, en ek wys jou ‘n ware christen!

MT

Die geestelike verval en afval – ook in die Kerk – is tekend van die tye, en moet u nie met bekommernis of hartseer vervul nie, maar bemoedig; Sy wederkoms is voor die deur!

Terloops, die NG Kerk anno 2021 het liberalisme en humanisme as nuwe afgode volledig omhels, en het in die proses haar Lamp prysgegee vir politieke byderwetsheid.

Drikus

Hier loop ons nou op baie dun ys! Met al die, belydenisskrifte kerkordes en sinodale besluite wat ons of nuut maak of buig om ons te pas is ons presies waar die Sadduseërs en die Fariseërs was in Christus se tyd. Hy het hulle wit gepleisterde grafte genoem met hul 613 wette ( 248 positiewe wette vir elke beentjie in die mens se liggaam plus 365 negatiewe wette vir elke dag van die jaar). “Skrifgeleerdes” elkeen van ons, maar ons het die beginsel van God totaal buite berekening gelaat nl. Liefde tot Hom, ons God en Hemelse Vader en liefde… Lees meer »

a3a3

a3a3
Hoekom verwag die dwaalleeraars dat die gemeente moet geepad en hulle kan bly om verder op te mors. Is dit nie lankal tyd om van hulle openlik ontslae te raak nie? Noem hulle deur die bank op hulle name en elimineer hulle!!

annie

Dit is tog interessant dat diegene wat duidelik weet dat hulle Bybelse Wette oortreè tjoepstil binne die kerk vroom bly voortploeter so asof die Vader tot inkeer moet kom en die verkeerde dade goedkeur; dat Hy oudmodies is met ons, slim, ver voor in die sg New Age. Die Kerk moet derhalwe verander/verskoning vra nie die uitskieters nie… of so redeneer hulle met die ‘ou kalant’ agter die oor.