Kiesers in Suid-Europa eis ekonomiese hervorming

europese-unie

Vlae van die Europese Unie. Foto: Pontzi/Pixabay.com

Politieke ontleders krap steeds kop oor die uitslae van die onlangse Europese verkiesing. Kiesers in verskillende lidlande van die Europese Unie het verskillende boodskappe aan politici gestuur, afhangend van unieke nasionale omstandighede.

Wat wel duidelik is, is dat kiesers in die suide van Europa, ’n protesstem vir ekonomiese hervorming of dan wel teen streng besparingsmaatreëls wat deur Brussel op talle Europese lande afgedwing is, uitgebring het.

Dit is veral lande soos Italië, Griekeland en Spanje wat die afgelope dekade swaar gely het weens verhoogte belastingkoerse, laer regeringspandering en verskeie ander streng finansiële maatreëls wat meestal deur die Europese Unie bepaal is.

In Italië het ons die afgelope paar maande gesien hoe die regering daar ’n stryd voer teen eise van die Europese Unie dat Italië sy begroting binne sekere beperkinge moet hou. Die leier van Lega in Italië, Matteo Salvini het tydens die verkiesingsveldtog belowe om belasting te verlaag en besteding te verhoog in ’n poging om die Italiaanse ekonomie ’n broodnodige hupstoot te gee. Die verkiesingsuitslag bevestig dat Salvini nou ’n mandaat het om teen streng ekonomiese vereistes van die Europese Unie te rebelleer. Werkloosheid in Italië is steeds hoog, terwyl die land se staatskuld sowat 130% van sy Bruto Binnelandse Produk uitmaak. Die enigste manier om Italië se ekonomiese probleme op te los, is deur ekonomiese groei aan te moedig en dit is presies wat Salvini deur ’n verlaging van belasting wil vermag.

In Griekeland het mense oor die afgelope dekade selfs nog erger gely onder besparingsmaatreëls wat deur dié land se linkse regering met die EU ooreengekom is. Die Syriza-beweging is tydens die Europese verkiesing ’n loesing toegedien en dit is die sentrumregse Nuwe Demokratiese Party wat met ’n boodskap van ekonomiese hervorming, onder meer, ’n verlaging in belasting, die beste gedoen het. Dié party belowe om, sou hy die komende nasionale verkiesing in Griekeland wen, maatskappybelasting van 29% tot 20% te verlaag. Dit sal sonder twyfel deur die ringkoppe in Brussel teengestaan word.

In Spanje het kiesers in drie agtereenvolgende verkiesings die afgelope paar maande ’n sterk mandaat aan die Sosialistiese Party gegee. Spanjaarde is ook hard getref deur ’n reeks besparingsmaatreëls en dié sukkel ook steeds met hoë skuldvlakke en ernstige werkloosheid. Die energieke leier van die sosialiste in Spanje, Pedro Sánchez, belowe ook ekonomiese hervorming in ’n poging om die Spaanse ekonomie ’n hupstoot te gee.

Sedert die finansiële krisis van 2007 uitgebreek het, het die ekonomiese breuklyne in Europa al hoe duideliker geword. Dit is veral die breuk tussen Noord-Europa en Suid-Europa wat al hoe duideliker word. Lande soos Duitsland, Nederland en Swede het heeltemal van die finansiële krisis herstel en het rekord-lae werkloosheidskoerse en gesonde ekonomiese groei wat veral deur hoë produktiwiteitsvlakke, mededingendheid en die struktuur van hul ekonomieë moontlik gemaak word.

In die suide van Europa is die uitdagings groter en is dit toenemend duidelik dat ’n stel Noord-Europese reëls nie net maklike oplossings gaan meebring nie. Sou toenemend rebelse regerings in lande soos Italië, Griekeland en Spanje eiesoortige ekonomiese hervormings begin deurvoer, kan dit tot die volgende interessante intra-Europese geskil aanleiding gee.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stephan de S ·

Nogal n moeilike dilemma….dit lyk of Suid-Europa se prbleme baie met traagheid en gebrek aan mededinging te doen het,terwyl Noord-Europa se sukses aan vlytigheid en mededinging te danke is. In Suid-Afrika het ons hd twee pole in een land.

Andreas ·

Die antwoord? Een land een taal vir die hele Europa soos SA en ons kyk wat gebeur. En daardie lande is almal eerstewêreldlande.

Nico K ·

Ek stem saam met Stephan de S. In die artikel wil dit voorkom of die EU gekritisseer woord omdat Italië gedwing word om binne sy begroting te bly en uitgawes af te skaal. Is dit nie wat ‘n regering behoort te doen nie?

Annie Webb ·

Die partye wat (groot) veld gewen het in dié verkiesings vir verteenwoordigers in die Europese parlement, is dié wat teen immigrasie is. As ‘n mens buite die hoofstroommedia gaan soek, kry jy inligting oor bv. ‘n groep leiers “for a Europe of freedom and nations”, wat al die leiers insluit wat teen immigrasie is. Dit sluit bv. vir Salvini en Le Pen in. In Swede is ‘n tradisioneel “linkse” verkies, maar sy is uitgesproke teen immigrasie. Ek kry die indruk dat die migranteprobleem tans die groot geskilpunt is waaroor bv. Brexit ook gaan. Net soos in die VSA, gaan die ontevredenheid oor die swak “kwaliteit” mense wat instroom en die uitgawes aan die migranteprobleem wat deur die EU op almal afgedwing word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.