Kleinsakeminister se meestersplan stel onnodige aandagafleiers voor

Deur Gary Moore

Gary Moore

Die minister van kleinsakeontwikkeling beplan om ʼn meestersplan vir kleinsakeontwikkeling in die Staatskoerant te publiseer as ʼn nasionale beleid vir die ondersteuning en ontwikkeling van kleinsakeondernemings, soos in die Nasionale Kleinsakewet van 1996 beoog word. In sy konsepvorm bestaan die meestersplan uit ʼn mengelmoes van voorstelle, meesal slegtes.

Die meestersplan se aantrekliker dele stel voor dat wetgewing wat aan kleinsakeondernemings ʼn onbehoorlike las van verpligtinge oplê, geïdentifiseer word en riglyne gepubliseer word oor hoe dié stukke wetgewing gewysig kan word om sodanige las te verlig.

Die konsepplan erken dat die minister tot op hede nog geen riglyne uitgereik het nie.

Die afwesigheid van sodanige riglyne om wetsvoorskrifte te identifiseer wat gewysig behoort te word, kan die verantwoordelike staatsinstellings daarvan weerhou om daardie voorskrifte te verslap. Trouens, die meestersplan wys op die risiko dat die wetsbesitters huiwerig kan wees om aan regulatoriese maatreëls te verander as daar nie riglyne vir hul wysiging bestaan nie.

Die wet definieer ʼn kleinsakeonderneming as ʼn eienaarbestuurde sakeonderneming wat in een van elf ekonomiese sektore bedrywig is en die hoeveelheid werknemers en jaarlikse omset het wat hom as ʼn mikro-, klein- of middelslagonderneming (KMMO) in sy sektor kategoriseer.

Die minister se riglyne moet aanbeveel dat ʼn hervormingswet die problematiese wetgewing, wat KMMO’s op ʼn onredelike wyse aan bande lê in die ekonomiese sektor waarmee daardie wetgewing gemoeid is, op gepaste wyse moet verslap.

ʼn Stuk wetgewing (hetsy ʼn wetsbepaling, of ʼn stel regulasies ingevolge ʼn wetsbepaling) wat ʼn bepaalde ekonomiese sektor bereël, kan sekere voorskrifte bevat wat onbillike beperkings plaas op slegs die “mikro”-ondernemings in daardie sektor, terwyl sommige voorskrifte in daardie wetgewing so knellend kan wees dat dit selfs die sektor se “klein” ondernemings oormatig beperk, en nog ander van die voorskrifte so ver kan gaan as om selfs die sektor se “middelslag” ondernemings onredelik aan bande te lê.

In enige sodanige geval behoort die minister se riglyne (hoewel die meestersplan dit nie uitdruklik aanbeveel nie) vir die staatsdepartement wat vir die toepassing van daardie stuk wetgewing verantwoordelik is, aan te dui watter van daardie wet se bepalings slegs mikro-ondernemings onbehoorlik aan bande lê, watter van die bepalings kleinondernemings onbehoorlik beperk, en watter daarvan so ver gaan as om ook middelslagondernemings aan bande te lê.

Die minister se riglyne moet dan maniere aanbeveel waarop die betrokke departement daardie voorskrifte kan verslap, tot die moontlike voordeel van mikro-, klein- of middelslagondernemings onderskeidelik.

Dit dan wat die beter dele van die meestersplan betref.

Die meestersplan se onnodige en trouens nadelige dele is onder meer sy voorstelle oor “ʼn taakspan wat tussen die regering en die sakewêreld op die been gebring word”, oor die “jaarlikse oorsig van kleinsakeondernemings” en oor die identifisering van wette vir “voorkeurhervorming”.

Die taakspan moet sodanige riglyne oor die assessering en hersiening van die effek van bestaande wetgewing op kleinsake formuleer.

Die meestersplan wys daarop dat daar nie ʼn bestaande taakspan van verteenwoordigers uit staatsdepartemente en die sakewêreld is nie. ʼn Risiko wat die vestiging van sodanige taakspan kan keer, sê die meestersplan, is “gebrekkige vertroue tussen die regering en die sakewêreld”.

Om so ʼn voorgestelde “taakspan” tussen die regering en sakewêreld op die been te bring, is egter onnodig.

Die meestersplan identifiseer op afdoende wyse soorte wetgewing wat kleinsake nadelig beïnvloed en hoe sodanige wetgewing beoordeel en hersien behoort te word.

Dit is ook ʼn slegte voorstel. Enige sodanige taakspan, wat tussen die staat en die sakewêreld op die been gebring word, sal waarskynlik deur die sakebelange van groot besighede oorheers word, wat die belange van kleinsakeondernemings wat moontlik verteenwoordiging in die span het, heeltemal sou oordonder.

Nog ʼn voorstel in die meestersplan, wat nie ʼn wesenlike deel uitmaak van die projek om wette wat kleinsakeondernemings aan bande lê te dereguleer nie en inderdaad sleg is, is die meestersplan se aanbevelings dat die “jaarlikse oorsig van kleinsake” met onbuigsame reëlmatigheid gepubliseer word.

Die wet voorsien dat die oorsig jaarliks saamgestel sal word en ʼn samevatting moet bevat van bevindings of aanbevelings deur die direkteur-generaal van kleinsakeontwikkeling oor wette, voorgestelde wetgewing en administratiewe praktyke wat kleinsakeondernemings aan bande lê, asook vordering wat gemaak word om die doelwitte van die kleinsakebeleid te bevorder.

Die meestersplan merk op dat die oorsig slegs op lukrake wyse gepubliseer word, ondanks die vereiste wat die wet stel dat dit jaarliks gepubliseer moet word. Die skrywer het slegs twee gevind.

Die meestersplan verklaar dat dit “fundamenteel” is vir die sukses van die meestersplan dat die jaarlikse oorsig gereeld gepubliseer word.

Die publikasie van die jaarlikse oorsig, hetsy of dit gereeld geskied al dan nie, is egter nie noodsaaklik vir die sukses van die meestersplan nie.

Die publikasie van die jaarlikse oorsig is nie ʼn voorvereiste vir die minister om wetgewing te identifiseer wat kleinsake kan beïnvloed, of om riglyne bekend te maak vir die assessering en hersiening van die uitwerking wat bestaande wetgewing op kleinsake het nie.

Kragtens die wet sal die oorsig onder meer bloot ʼn samevatting bevat van die direkteur-generaal se bevindings of aanbevelings oor wette en administratiewe praktyke wat kleinsakeondernemings knel, en bloot ʼn rekord wees van vordering wat gemaak is om die beleidsdoelwitte te verwesenlik.

Die meestersplan herhaal die gedagte deur te sê die oorsig moet oor ʼn tydperk die inwerkingstelling van die aksieprogram wat in die meestersplan uitgestippel word, bloot “in die openbaar verteenwoordig”.

Die oorsig sal dus net ʼn terugskouende rekord wees, nie ʼn vooruitskouende identifisering van wetgewing wat ʼn uitwerking op kleinsake het, of ʼn riglyn wat dié uitwerking takseer nie.

Nog ʼn voorstel in die meestersplan, wat nie van wesenlike belang is vir die deregulering van wette wat kleinsakeondernemings aan bande lê nie, is die voorstel om wette te identifiseer wat vir hervorming voorkeur moet kry.

Dit is onnodig om wette te identifiseer wat voorkeur moet kry.

Die meestersplan identifiseer reeds wetgewing wat eerste aandag moet kry.

Dus is die voorstelle in die meestersplan oor ʼn “taakspan”, die “jaarlikse oorsig van kleinsake” en die “identifisering van wette vir voorkeurhervorming” nie wesenlike vereistes vir die minister se uiters belangrike taak nie.

Haar uiters belangrike taak is om wetgewing te identifiseer wat ʼn oormatige las op kleinsakeondernemings plaas, en om riglyne te publiseer oor hoe die betrokke regeringsdepartemente die problematiese wetgewing kan verslap om die las te verlig.

Die meestersplan se voorstelle oor ʼn taakspan, oor die meer gereelde publikasie van jaarlikse oorsigte en oor die identifisering van wette wat voorkeur moet kry, sal bloot dien om daardie uiters belangrike taak te bemoeilik en te vertraag.

  • Gary Moore is ʼn senior konsultant by die Vryemarkstigting. Hy het 30 jaar lank in Johannesburg as ʼn prokureur gepraktiseer. Hy is die skrywer van gepubliseerde artikels en monografieë oor die oppergesag van die reg, die regsgeldigheid van staatsoptrede, die betekenis van statutêre wette en wette wat kleinsake beïnvloed. Menings wat in hierdie artikel uitgespreek word, is dié van die skrywer en word nie noodwendig deur die lede van die Stigting gedeel nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacob ·

Kleinsake eienaars wat nie gebiedsgebonde is nie, kan gerus kyk na wat ons buurlande offer. Onder andere korporatiewe belasting wat tot sowat 13% laer as in Suid Afrika is, baie minder “red tape” en die koste om klein besighede te berdyf is baie laer. En mense sal verbaas wees oor hoe welkom hulle in daardie lande is. Ook hoe laag misdaadsyfers in vergelykong in etlike van ons buurlande is.

Die gesegde is; “Go where you are treated the best.”

Braam ·

Ek staan op die punt om my eie klein sake onderneming te begin, maar ek sien weinig in die “meestersplan” om my te motiveer en onderstuen om voort te gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.